Die soektog na agt vermiste vissermanne word vandag (18 Julie) voortgesit nadat die boot waarop hulle was Sondag in die vroeë oggendure omgeslaan het.
Dié tjokkaboot, die Maredon, het naby Kaap St. Francis omgeslaan. Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die soektog word vandag deur die polisie se duikeenheid voortgesit.
Die soektog is Sondagmiddag voorlopig afgelas as gevolg van ongunstige weerstoestande.
Volgens Lambinon het die Maredon Sondag omstreeks 03:00 noodfakkels afgevuur wat deur die bemanning van ʼn ander boot gewaar is en wat toe die NSRI en ander nooddienste in kennis gestel het.
Daar was glo 16 mense op die Maredon. “Sewe vissermanne is opgespoor van wie ses hospitaal toe moes gaan, een se liggaam is opgespoor en agt is steeds soek,” het Lambinon gesê.
Die polisie ondersoek die saak en doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek.
N dom vraag ek weet maar het hul al binne in die boot wrak self al gekyk?