Soektog na vermiste vlootkadet eindig tragies

Gerald Gouws. Foto: Facebook

Gerald Gouws. Foto: Facebook

Familie en vriende van die vlootkadet Gerald Gouws (23) kan uiteindelik berusting vind nadat hulle kon vasstel wat van hom geword het nadat hy in Januarie in Kaapstad verdwyn het.

Gerald, oorspronklik van Uitenhage in die Oos-Kaap, was die afgelope drie jaar verbonde aan die vloot in Simonstad.

Werner Gouws, Gerald se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy en sy vrou, Theresa, het op 20 Januarie omstreeks 19:00 vanuit Uitenhage oor die telefoon met hul seun gepraat, min wetende dat dit die laaste keer sou wees wat hulle sy stem sou hoor.

“Die 23ste het die vloot my gebel en gesê Gerald het nie ná sy pas teruggekeer na die basis toe nie. Hulle het volgens prosedure hom as ‘awol’ aangemeld en ook ʼn vermiste persone saak by die polisie oopgemaak,” het Werner gesê.

Werner het gesê ʼn maand het verbygegaan sonder enige nuus van sy seun. Nie die polisie óf vloot kon enige teken van hom opspoor nie. Gerald se selfoon was onaktief en daar was geen beweging in sy bankrekening nie.

“Dit is nie in my kind se aard om sommer net te verdwyn of weg te kruip nie. Dis nie hoe my kind is nie. Ek het heeltyd gewonder hoekom hy sou wegkruip.”

Werner en ʼn vriend is in die middel van Februarie Kaapstad toe om self na Gerald te gaan soek. Hulle het 350 plakkate met sy inligting op versprei en ook op sosiale media versprei voordat hulle weer terug is Uitenhage toe.

“Iemand het hom deur die plakkate herken en gesê hulle het hom op 21 Januarie by die Vishoek-treinstasie naby die vlootbasis gesien waar hy op die trein geklim het.”

Op dié dag het ʼn brand tussen 11:00 en 11:30 naby dié stasie in die voorste wa van ʼn bewegende Metrorail-trein uitgebreek. Die brand het vinnig versprei en die tweede wa ook verwoes, waarna dit tot ʼn veldbrand gelei het. Brandbestryders het op ʼn verkoolde liggaam in die treinwa afgekom. Die liggaam was onherkenbaar verbrand. Niemand anders is in die brand beseer nie. Ooggetuies het gesê ʼn blanke man was die enigste persoon wat in die voorste treinwa was.

Daar is toe ʼn deurbraak in die ondersoek gemaak met die moontlikheid dat Gerald die slagoffer was.

Werner is versoek om op 14 Maart Kaapstad toe gaan om DNS-toetse te doen om te kyk of dit met die liggaam verbind kan word. Hy is Donderdag ingelig dat sy DNS met die liggaam verbind word. Die vermiste persone saak is gesluit en na ʼn geregtelike doodsondersoek verander.

“Gerald se liggaam is in die voorste treinwa aangetref. Hy het op sy maag gelê met sy hand uitgestrek na die deur tussen die twee waens. Wat presies gebeur het word nog ondersoek, maar daar word vermoed dat die wa se dak dalk ingestort en op hom geval, en vasgepen het.” Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

ʼn Emosionele Werner het gesê ʼn pa en ma kon nie vir ʼn beter seun gevra het nie. “Hy het sy ouers geëer tot op sy laaste dag. Hy was baie liefdevol, hardwerkend en hulpvaardig. Hy was regtig die beste seun waarvoor ʼn pa kon vra en het vir ons omgegee. Hy het ʼn passie vir die vloot gehad en het van sy hoërskooldae af gesê hy wil ná skool daarheen gaan.”

Die vloot tref reëlings om ʼn gedenkdiens vir hul kadet te hou. Gerald sal in Uitenhage begrawe word.

Hy laat sy pa, ma, jonger suster, Gerallené, en twee oumas, Dephné Strydom en Lydia Gouws, agter.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van die organisasie Pink Ladies wat by die soektog betrokke was, het hul innige meegevoel met Gerald se familie, kollegas en vriende betuig. Sy het almal bedank wat met die soektog gehelp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Fran ·

dis regtig baie hartseer. Hy het goeie ouers en hul verdien nie dit nie. My innige meegevoel met sy Familie en vriende< Mag die Here hulle omvou met liefde deer die moeilike tyd

HENNA ·

BAIE BAIE hartseer – Werner en familie STERKTE in hierdie dae en maande wat wag sonder jul seun.

Siestog ·

Dit is dae soos hierdie, as ek sulke berigte lees, dat ek op ‘n hopie wil gaan sit en huil en nooit ophou nie. Baie liefde en Hemelse krag word Gerald se familie toegewens.

Elizabeth ·

Ek stem so saam met jou..geen ouers en pragtige jongman verdien so einde nie.
My hart bloei vir julle.
R.I.P.

Leana ·

My innige simpatie met jul verlies. Mag die Here julle styf vas hou en vertroosting bring.

Drukkie ·

Wens ek kon vandag net vir jul ‘n drukkie gee, omgee ouers tot die dood, ‘n ware ouer sal ongeag hoe seer tot die dood soek vir sy kind, al vat dit alles van jou menswees. Dit is amper ondenkbaar dat iemand vandag net kan wegraak soos Gerald, danksy oplettende mense, goeie ouers en DNA, familie en vriende kan berusting kry, hul weet waar Gerald is en het ‘n idee van wat met hom gebeur het. Die wete dat jou kind net weg is, is om van mal te raak. Wees trots op hierdie jong man, sy voorbeeldige karakter het tot sy opsporing gelei. Ons bid dat die hartseer met tyd draagliker sal raak.

anni ·

Dis verskriklik! Arme, arme ouers. Ek weet nie hoe jy hieroor kom nie. Weereens n bewys … wees lief vir mekaar vandag, niemand weet wat wag more nie.

Marius van der Westhuizen ·

Salute! With the going down of the sun and in the mornings, we will remember him.

Theresa B ·

Ai mens het nie woorde nie. Ek kan maar net bid vir julle hele familie. Baie sterkte!

Berny ·

Baie hartseer. Woorde kan geen ouer troos wat ‘n kind aan die dood moet afstaan nie; die verlange en herhinneringe hou nooit op nie, ons kan net vir julle, sy ouers, sussie en oumas asook al die ander familie bid. Rus sag, Gerald!

Hannelie ·

Ai dis so verskriklik hartseer. Sterkte aan sy famiile jul is in ons gebede. RIP jongman.

hezron ·

R.i.P my colluege my brother i salute you your naval flag will always fly high with us in our hearts so sad to see how our soldier fall like this but we will keep on doing what you did to fight and defend ur country…!!!!

D.Geldenhuys ·

My innige simpatie met die ouers en familie van hierdie pragtige jong man wat so op sy einde moes kom. Ek glo nie vir een oomblik die skrywer van die artikel het al die feite nie. Vra dat ‘n forensiese ondersoek gehou word op die liggaam, ek glo hy was aangerand en vermoor en toe was die trein aan die brand gesteek. Daar is genoeg tyd om uit ‘n trein te ontvlug indien dit aan die brand sou raak.Ons het al die dag van die brand gevoel dat dit die oorsaak was. Die brand het vannaf die trein toe in die berge ingegaan.

Adriana Stuijt ·

Hierdie storie is baie vreeslik — maar het ook beslis dringend ‘n moord-ondersoek nodig deur die polisie! Want op 21 Januarie 2016 het Eye Witness News in Kaapstad ‘n berig geplaas oor hierdie EINTLIKE brand wat beweer dat die brand op die metrorail trein AANGESTEEK WAS toe dit vertrek het vanaf Vishoek stasie na Simonsstad toe, en dat dit “geen slagoffers geëis het nie en dat ‘al die passasiers veilig uit die brand geëvakueer is”. Bowendien het volgens Eye Witness News selfs die VLOOT se brandweermense ook nog gehelp om die brand te bestry en dat daar ‘geen gewondes of dooies geval het nie’. Dus daar is WEL ‘n liggaam gevind daardie dag, en iemand in die amptelike apparaat het heel doelbewus daaroor gelieg. Dit moes bekend gewees het onder al die brandweermense insluitende die vloot s’n, maar daar is gelieg. Die storie is toegesmeer. . En hoekom het die VLOOT dan ook nie onmiddellik hierdie insident in verband gebring met die skielike verdwyning van Gerald Gouws nie? Hulle moes geweet het daar daar ‘n jong man verbrand gevind is op daardie trein – wel onherkenbaar verbrand maar het hulle ooit ondersoek of dit Gerald kon gewees het, aangesien hy die dag moes terugkeer van sy verlof? En hoekom het hulle dit NIE ondersoek nie? Die veldbrand daarvandaan het glo so vinnig uitgebrei dat ‘n groot wynplaas tonne druiwe verloor het toe hul wynranke afgebrand is. SIEN: ewn.co.za/2016/01/21/Commuters-evacuated-after-Metrorail-train-bursts-into-flames —

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.