Soektog na vermiste vrou in botaniese tuin afgelas

Die Kirstenbosch-botaniese tuin. Foto: Facebook.

Die soektog na ʼn vrou wat Sondag in die Kirstenbosch- botaniese tuin in die Wes-Kaap vermis geraak het, is Maandagoggend afgelas nadat die vrou glo kontak gemaak het met ʼn vriend.

Luidens die Wildernis-soek-en-redding (WSAR)- span is hulle Sondag omstreeks 19:30 uitgeroep na die toneel om bystand te bied in die soektog na die vermiste vrou.

Altesaam 15 WSAR-lede het by die hek bymekaargekom om ʼn georganiseerde soektog te begin.

Volgens ʼn stemboodskap wat deur die WSAR uitgestuur is, was die polisie en SANParke ook betrokke by die soektog.

Johann Marais, woordvoerder van die WSAR, het Maandagmiddag aan Maroela Media bevestig die polisie het die span Maandagoggend laat weet dat dit nie meer nodig was om na die vrou te soek nie aangesien sy kontak gemaak het met ʼn vriend.

Marais vertel die soektog Sondagaand was in ʼn mate oneffektief aangesien dit reeds donker was toe die soektog begin is. Daar was ook spanne met honde op soek na die vrou.

Die soekgeselskap is in vier spanne opgedeel en het die natuurtuin asook die omgewing direk bokant die tuin gefynkam.

Konst. Wesley Twigg, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê die polisie het geen rekord van so ʼn voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.