Soektog na vermiste ysterman-atleet eindig tragies

David Bellet-Brissaud (Foto verskaf deur SAPD)

Polisieduikers in Port Elizabeth in die Oos-Kaap het Woensdag die liggaam van David Bellet-Brissaud, die 48-jarige ysterman-atleet van Gaboen, in die stad se hawe uit die water gehaal.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het dié nuus bevestig.

Naidu sê die polisie het besluit om verder ondersoek in te stel nadat die atleet vroeër vandeesweek op kringtelevisiebeeldmateriaal by die hawe opgemerk is.

Sy sê nadat die polisie ander addisionele kringtelevisiebeeldmateriaal onder oë gehad het, is die soektog na Bellet-Brissaud na ʼn ander gedeelte van die hawe verskuif. Sy sê die polisie se honde-eenheid, onder leiding van ao. Etienne Gerber en ao. Paul Franks, het die hawe Woensdag gefynkam.

“Terwyl hulle besig was met die soektog by die hawe, het ao. Gerber se polisiehond, Misty, gereageer op ʼn reuk in die water. Die polisieduikers is na die einste toneel ontbied, en Bellet-Brissaud se liggaam is binne tien minute daarna uit die water gehaal,” sê sy.

Naidu sê geen gemene spel word in dié stadium vermoed nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om vas te stel wat die oorsaak van die atleet se dood is.

Maroela Media het vroeër berig Bellet-Brissaud en sy vrou het Donderdag omstreeks 15:20 by die Paxton-hotel in Port Elizabeth ingeteken. Hy was in Port Elizabeth om aan die Ysterman Afrika-kampioenskap deel te neem. Die egpaar was saam met vriende uit, maar het omstreeks 21:00 na hul kamer teruggekeer. Sy vrou het Vrydag 01:00 wakker geword en Bellet-Brissaud was nie in die kamer nie.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys Bellet-Brissaud het die kamer verlaat, uit die hotel geloop en in die straat af gestap. Hy het sonder sy selfoon en beursie spoorloos verdwyn.

Die atleet se vrou, Lydia, sy broer, Gael, en sy suster, Vanessa, was vandeesweek nog in die land om die polisie by te staan in die ondersoek. Die familie het vroeër dié week ʼn beloning van R12 000 uitgeloof vir enigiemand wat inligting aan die polisie verskaf wat tot die atleet se opsporing kan lei. Die beloning is volgens gerugte op sosiale media later na meer as R100 000 verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Theresa B ·

Dis nou tragies. Sonder sy selfoon en beursie. Dalk selfmoord? So jammer vir sy familie.

anton ·

Duidelik het hy vergeet hy is in S.A. of nie sy huiswerk oor die land gedoen nie.
Jy is nie eers bedags veilig in die land nie en nog 100 maal minder in die nag!!!
Dit was nou groot moeilikheid soek om in die nag die strate in te vaar in die land.
Voel jammer vir sy familie.

Nettie ·

@LeeuP – jy was daar, jy het gesien hoe die ou van die jetty in die hawe inspring? Hoe kan jy dan sê dit was selfmoord (PS: die regte term is deesdae ‘selfdood’). “Geen gemene spel word vermoed nie”, maar dit kan nie uitgeskakel word nie. ‘n Geregtelike doodsondersoek sal volg en ‘n outopsie alleenlik kan die oorsaak van die man se dood bepaal. Wonder wie kry nou die beloning? Die K9-eenheid van die Polisie en Misty, die hond (wat die spoor gevat het) of niemand nie?

Gesiggie ·

So jammer om te hoor, Sterkte aan sy Familie en Geliefdes… hul het deur soveel gegaan deur te wonder wat van David geword het.. en nou die hartseer nuus…

Leon ·

Ek het die storie gevolg, en dit het nou met ‘n tragedie tot ‘n einde gekom.
Dit maak nie saak wat die omstandighede was nie, ‘n raaisel sal dit alty bly. Mag hierdie gesin berusting vind.

Lollie ·

Niks klink lekker met hierdie storie nie! Snaakse verloop van alles!

wil ·

Volgens die nuus vanoggend op radio was sy een voet aan ‘n motor buiteband vasgemaak.

Peet ·

Buite band om lyf en tou om bene. Selfmoord voorsorg as jy my vra, sodat hy nie kon omdraai teen sy besluit nie.

VanAfrika ·

Wil is dit nou n grap, of is die man nou vermoor? Want wie wag vir iemand by n hawe daardie tyd van die oggend met n motorband

Francois ·

Ok so die man kom al die pad van Gaboen om aan n kompetisie deel te neem, maar pleeg dan selfmoord deur n buiteband aan sy voet vas te maak en in die see te spring…. sien niemand fout met die prentjie nie…?

seenimf ·

Die man is vermoor, nie selfmoord gepleeg nie, hou op so naief wees mense, die bote was nie syne nie en sover ek lees het hy nie tou en n band saamgeneem nie.

Sou eerder wou sê... ·

Sou eerder dink iemand wou tydelik van sy liggaam ontslae raak.

$ ·

As ek so die kommentaar van sommige lesers lees, asook uit vorige berigte (soos o..a. ´hy wíl nie gevind word nié’) is ek maar bly my lewe/veiligheid/geregtigheid beland nie in een van hierdie kommentators se hande as polisiemanne/-vroue, speurders, landdroste of regters nie …

Theresa ·

Nee wat. Hierdie klink meer na ‘n moord wat tipies weer in vroeë oggend ure in Suid-Afrika gepleeg is. Kringtelevisie het tog gewys hy spring van boot tot boot.
Waar het hy toe die band wat om sy lyf gevind was en die tou versteek??!!!
So nee.
Die laaste boot is ondersoek werd. So ook enige ander leidraad.
MOOI SO, adj.off. Gerber en Misty!!! Ook die res van die span wat flink gewerk het om die atleet te soek. Sou skaars kon glo dis selfmoord, aangesien Ysterman atlete ‘n doel voor oë het – ver gereis en baie fiks. Hoop die skuldige word gevang.

leon ·

Die video van die man wat van boot na boot spring , is toe nie die selfde man nie.

Marinda ·

Dis tragies, regtig gehoop hulle kry die man lewendig. Sterkte aan sy familie.

Oom Kalahari ·

Ek ruik ‘n rot. Glo nie die man het hand aan eie lewe geslaan nie. Dalk ‘n frats ongeluk of ………! Sterkte aan die familie en vriende met jul verlies.

$ ·

Dit lyk of die gedeelte oor die tou en band uit die berig verwyder is??
Klokkies lui vir moord; met ´n tou en ´n band om te verseker dat die persoon wat in die water gegooi word geen kans staan om na die oppervlakte te swem vir asem nie (onthou die twee manne wat vasgebind en in die dam gegooi is om te verdrink in Johannesburg). Ek hoop die polisie (wat in hierdie stadium geen gemene spel vermoed nie) ondersoek die saak deeglik. Dalk vermoed hul geen gemene spel nie omdat Minister Sisulu ons mos verseker het dat daar slegs wetsgehoorsame burgers in Suid-Afrika woon en dat geen mens se lewe bedreig word nie – in die Utopia wat sy beskryf, móét daar dan mos ´n ander rede wees vir sy dood; dit kan tog nie móórd wees nie ..?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.