Sussie, die geliefde Jack Russell-terriër wat Maandag spoorloos verdwyn het ná sy haar ounooi teen drie gewapende rowers beskerm het, is glo vroeg vanoggend naby die hoek van Rossini-boulevard en Austen Robbertsstraat in Vanderbijlpark gewaar.
Die buurtwag in die gebied sê Sussie is heeltemal verskrik en hardloop heeltyd weg wanneer mens na haar roep of haar probeer agtervolg.
Maroela Media het vroeër berig Kayla Muller (18), ʼn matriekleerder van Hoërskool Transvalia, het Maandag ná haar wiskundevraestel by die huis gekom toe drie gewapende mans haar oorval het.
Die gesin se honde, Sussie en Bumper, albei Jack Russell-terriërs, het tussen Kayla en die verdagtes ingespring en die boewe die skrik op die lyf gejaag.
Was dit nie vir die honde nie, weet sy nie wat dalk kon gebeur het nie, sê Kayla. Die boewe was kort op haar hakke, hulle was gewapen en almal was vreesbevange.
Kayla glo Sussie het agter die rowers aangehardloop nadat hulle met een van die televisies weg is.
“Sy het nie vir een enkele oomblik gehuiwer om haar lewe vir ons te waag nie. Ek het haar al agt jaar lank. Vandat ek 10 jaar oud is, is sy my heel beste maatjie. Nou is sy net weg,” het sy vroeër aan Maroela Media gesê.
Volgens Lianca Muller, Kayla se ouer sussie, het talle Maroela Media-lesers aanbeveel dat die gesin iemand aanstel om na Sussie te help soek.
“Ons het klomp aanbevelings gekry en die mense gekontak, maar sodra hulle gehoor het hoe groot die storie eintlik is, het hulle afgeskrik geraak. My pa het egter uiteindelik gisteraand iemand van die honde-eenheid gekry om ons na Sussie te help soek.
“Toe my pa hoor dat die buurtwag haar gesien het, is hy dadelik uit om na Sussie te gaan help soek. Hulle is tans besig om haar met die hulp van die honde-eenheid uit te snuffel.
“As dit nie werk nie, gaan ons vanaand om 17:30 ʼn gemeenskapsoektog van stapel stuur in die omgewing waar sy laaste gesien is, want dit klink of sy konstant daar ronddwaal,” sê Lianca.
“As dit ook onsuksesvol is, sal ons môreoggend 07:00 verder na haar soek. Ons sal nie ophou tot sy weer terug is by haar huis nie. Ek hoop regtig ons kan vanaand goeie nuus kry …

Sussie, die dapper hondjie wat haar eienaar van rowers beskerm het, is nou spoorloos (Foto: Verskaf)
“Enigiemand wat dalk vir Sussie gesien het, of weet waar sy kan wees, kan vir Elvin by 071 675 7217 bel.”

Ai ek hoop hulle kry die pragtige dier gou
Ek hoop en bid hulle kry haar spoedig. Baie sterkte en innige dank aan een en almal wat betrokke is by die soektog. Die Here seen julle