Soektog vir nuwe Openbare Beskermer begin

Die geskorste OB, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die soektog na ʼn nuwe Openbare Beskermer (OB) het amptelik begin.

Die parlement se ad hoc-komitee wat getaak is om ʼn nuwe OB te benoem het Donderdag vir die tweede keer vergader. Die ANC se Cyril Xaba is as voorsitter van dié komitee aangewys. Hy is ook die medevoorsitter van die staande komitee oor verdediging.

Die geskorste OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, se sewe jaar lange nie-hernubare termyn kom in Oktober tot ʼn einde, ongeag die uitkoms van die ondersoek na Mkhwebane se bevoegdheid deur die artikel 194-komitee.

Die ad hoc-komitee wat nou na ʼn nuwe OB soek bestaan uit 25 lede en is die grootste komitee wat nóg aangestel is om onderhoude met kandidate te voer. Die benoeming van die nuwe kandidaat moet binne die volgende drie maande gedoen en na die Nasionale Vergadering verwys word, waarna die president ʼn besluit oor die nuwe aanstelling moet maak.

Die kriteria vir die nuwe OB behels onder meer dat hy of sy ʼn regter is of voorheen as advokaat of prokureur gepraktiseer het, of kwalifiseer om as advokaat of prokureur toegelaat te word en al ʼn dosent in regte by ʼn universiteit was.

Die persoon moet ook ervaring en spesialiskennis in die administrasie van geregtigheid, openbare administrasie of openbare finansies hê, óf voorheen al ʼn lid van die parlement gewees het.

Die ad hoc-komitee bestaan uit LP’s van alle partye, waarvan sommiges mag stem en ander nie stemgeregtig is nie.

Die komitee het Donderdag vir ʼn tweede keer vergader om advertering vir nuwe kandidate te bespreek. Dit sal die eerste stap in die proses wees en moet so wyd as moontlik en in alle amptelike landstale bemark word.

Die ondersoek na Mkhwebane duur intussen voort.

Mkhwebane het vandeesweek met haar getuienis voor die artikel 194-komitee voortgegaan, selfs al is haar regsverteenwoordigers nie teenwoordig nie. Die komitee het Maandag sy werksaamhede hervat ná weke lange vertragings oor Mkhwebane se regsverteenwoordiging. Die komitee moes egter Maandag weer sy verhore uitstel nadat daar steeds kwessies oor Mkhwebane se regsverteenwoordiging was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andrew ·

Probleem is al die geld wat die onbevoegde persoon ontvang het in die 7 jaar. Die skoonmaker beteken meer vir die OB as organisasie

Sarel ·

Nog ‘n Vereiste…diecOB moet indiens van die Burgers wees en nie die ANC nir

Johanncb ·

Haar termyn kom tot ‘n einde, “ongeag”! Wat het sy nou bereik met die aanhoudende hofsake en geldmors?

Amelia ·

Ja asb maar dit sal seker nie gebeur nie Thule madonsela korupsie oopgevelk en gerrie nes sal selfde doen

Suzette ·

Nou eers – sy moes al lankal vervang gewees het… het van die begin af bewys sy is onbevoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.