Soektog voortgesit ná Pta-man in dam verdwyn

Jacko Badenhorst. Foto: Facebook

Jacko Badenhorst. Foto: Facebook

OPVOLG: Jacko Badenhorst se liggaam is gevind. lees meer hier.

Die soektog na die 43-jarige man wat Saterdag in die Bon Accord-dam, noord van Pretoria, verdwyn het, is Maandagoggend voortgesit.

Jacko Badenhorst het Saterdag omstreeks 15:00 saam met vriende op ʼn boot op die dam uitgevaar toe die voorval gebeur het. Xander Loubser, woordvoerder van Best Care-ambulansdienste, het gesê dat Badenhorst glo saam met sy vriende van die boot af geduik het om te swem, toe hy net onder die water verdwyn het.

Sy vriende het hom probeer soek, maar kon hom weens die troebel water en ysige temperatuur nie opspoor nie en het hulp ontbied. Volgens IOL het een van Badenhorst se vriende vertel hoe Badenhorst sy arm bo die water uitgesteek en vir hom gewaai het voordat hy onder die water weggesink het. Die vermoede bestaan dat hy weens hipotermie onder die water verdwyn het.

Polisieduikers en reddingswerkers het Saterdagmiddag onmiddellik na Badenhorst begin soek, maar die soektog moes die aand weens swak sigbaarheid afgelas word. Die soektog het Sondag ook niks opgelewer nie.

Johan Pieters, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê die soektog duur steeds voort. In dié stadium is geen nuwe inligting beskikbaar nie.

Badenhorst se vriendin, Menita Visagie, het die naweek huilend langs die dam gestaan en kyk hoe daar na hom gesoek word. Volgens Loubser is traumaberaders na die toneel gestuur om haar en Badenhorst se vriende te ondersteun.

Visagie het Maandag op haar Facebook-profiel aan Badenhorst hulde gebring en geskryf dat hy haar sielsgenoot en die liefde van haar lewe was. “Jy was die beste man vir my. [Jy het] nooit opgegee nie, net altyd gesê, ‘my skouers is breed’. Op wie se skouers moet ek nou huil, want my man is van my af weggevat … Ek gaan nie sonder jou die mas kan opkom nie en ek wil nie sonder jou lewe nie. My lewe het Saterdagmiddag alle sin en betekenis verloor. Ons gaan vandag voort om na jou te soek, maar dit was sover die ergste drie dae van my lewe. Lief jou baie Jacko Badenhorst.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Wiebo ·

Baie sterkte aan die gesin en vriende met die verlies. Ek wil net weet hoe dink mens daaraan om in Bon Accord dam te swem? Die dam is dan so vuil?

Sandra ·

Ai Menita en familie en vriende, Ek voel so jammer vir julle en die trauma wat jul moet deurmaak. Al vra mens hoekom hy, en hoekom jy, dra die Here jou tog deur hierdie beproewing. Ek weet, want ek het self my geliefde aan die dood afgegee.

Landri ·

Dit is verskriklik. Menita ek dink aan jou en bid vir jou. So jammer.

Bass Hengelaar ·

Meeste bass hengelaars het gevorderde struckture scan fishfinders wat instaat sal wees om n liggaam te kan identifiseer as die liggaam op die bodem lê.

riana ·

Menita dink aan jou ek dink dit moet verskriklik wees. Mens kuier nog saam en is nog saam die volgende oomblik nie meer nie.
Maar die Here sal vir jou krag gee om hierdeur te kom sy skouer is net so groot om op te huil en hy weet vandag hoe seer is jou hart, praat met hom en hy sal jou troos sterk wees Girl.

JESSICA ·

alle sterkte mag die Here jou deur hierdie moeilike tyd dra. dink aan jou Jessica Kruger

Ansie ·

Ai dit is n groot tragedie. Sterkte aan die familie en veral aan Menita ek ken jou nie maar my hart gaan uit vir jou ek sal bid vir jou. Sy ouers vir julle is dit die grootste trauma wat n ouer kan deurgaan ons bid vir julle.

iza Mc intosh ·

Baie sterkte, ek dink aan julle en weet waardeer jul gaan, my suster se seun het gister 11maande terug in Bloemhof dam verdrink,sy naam was ook Jaco, hy was 39, sy lyk is ees 3dae later gekry, dis die vreeslikste ding wat n familie kan tref, julle moet sterk wees, en staam saam,

Annie ·

Hy was 36. Hy was soos my tweeling boetie al was hy my neefie. Mis hom elke dag… sulke dinge laat my koue rillings kry. Sterkte en die Here sal jul dra.
Jakkals ek mis jou steeds.

Elize C ·

Dis ‘n verskriklike tragedie, ek kan my nie eers naastenby die angs langs die water vir sy naasbestaandes voorstel nie. Baie, baie sterkte, julle is in my gebede. Het hy “gewaai” vir sy vriende, voor hy onder die water verdwyn het, of dalk probeer beduie dat hy hulp nodig het weens ‘n kramp of iets dergeliks……?

Erika ·

Ek het aan dieselfde gedink. Miskien het hy hulle aandag probeer trek. Ai dis so so hartseer. Baie sterkte aan al sy naasbestaandes.

MdP ·

Ek ken hom persoonlik – verskriklike lewenslustige mens en hy het die 2 mooiste kinders. My hart gaan uit na almal wat hom lief het ♥

Aubrey ·

Ai dis hartseer. Ons as familie het ook al baie by Bon Accord dam gaan hengel en boot gery. Maar die water is nou so vuil en stink. Gaan nie meer nie. Ons bid vir sy familie en hoop ons Herder sal die pyn verlig en hulle berusting gee. Van die Vermasks van Pretoria Noord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.