Sokker-aanranding: Twee in hof; voorval veroordeel

‘n Skermskoot uit die video.

Die twee mans wat Saterdag in hegtenis geneem is tydens die geweld wat in die Moses Mabhida-stadion in Durban uitgebreek het ná die Kaizer Chiefs 2-0 teenoor die Free State Stars verloor het, sal Maandag in die Durban-landdroshof verskyn.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 33 jaar oud, is in hegtenis geneem vir openbare geweld, insluitend aanranding met die doel om ernstig te beseer, en opsetlike saakbeskadiging.

Sy het ook bevestig dat die veiligheidswag wat aangerand word op ʼn video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, ʼn vrou is.

Maroela Media het vroeër berig’n video van ’n vroueveiligheidswag wat deur Kaizer Chiefs-ondersteuners aangerand word ná die Kaizer Chiefs se nederlaag het sosialemediagebruikers warm onder die kraag.

Foto’s van ’n gebreekte kamera en brande wat plek-plek gestig is, word ook op sosiale media rondgestuur.

Free State Stars-spelers moes inderhaas die veld verlaat ná hordes aggressiewe toeskouers op hulle neergesak het.

In die video kan gesien word hoe ’n groot groep ondersteuners die wag met onder meer stoele en ander voorwerpe aanrand, asook skop en slaan. Die groep bars uiteen wanneer polisie en nooddiensbeamptes die vrou te hulp snel.

Steve Komphela, afrigter van Kaizer Chiefs, het kort ná die wedstryd as spanafrigter bedank.

Gwala het gesê twee polisiebeamptes is ook tydens die chaos beseer.

Intussen het die DA en die ANC dié voorval ten sterkste veroordeel.

Die DA meen die stadion se bestuur, die wagte, die leierskap van die Premiersokkerliga (PSL) en die polisie moet antwoorde verskaf oor hoekom die veiligheidsmaatreëls wat hulle in plek gehad het tydens die voorval nie voldoende was nie.

Tsepo Mhlongo, woordvoerder vir die DA, het Sondag gesê die DA sal vir Beauty Dlulane, die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor sport, vra om die PSL se leierskap in te roep om verantwoording te doen vir die toenemende kultuur van geweld onder sokkerondersteuners.

Die PSL het sélf Sondag die wetteloosheid wat Saterdagaand uitgebreek het veroordeel en gesê hulle sal nou met wetstoepassers saamwerk om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir die gewelddadige optrede aan die pen ry.

Die ANC het ook die voorval veroordeel en gesê dit is ’n “lelike advertensie” vir Suid-Afrikaanse sokker.

“Sport gaan uiteindelik oor wen en verloor en dit verg ’n sekere vlak van volwassenheid van ondersteuners van kompeterende sportspanne. Geweld is nie eens veronderstel om hier ter sprake te wees nie, alle twiste kan deur institusionele kanale opgelos word,” het Zihle Zikalala, die ANC in KwaZulu-Natal se tydelike komitee koördineerder, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Ja ne, nou wil julle die stadion en polisie verantwoordelik hou terwyl ons politisie so aangaan binne die regs lokale. Julle is die wat sulke geweld veroorsaak.
Lead by example…

GM ·

‘…. verg ‘n sekere vlak van volwassenheid…
Ek dink dit som die probleem mooi op…

De Villiers ·

“Rugby – a game played by hooligans, and watched by gentlemen. Soccer – a game played by gentlemen, and watched by hooligans”. Dis ‘n ou gesegde wat weer bewaarheid is, maar meer gereeld in Suid Afrika. Baie van vandag se regeringslui het op hul jong dae dieselfde gedrag getoon tydens betogings, wat hulle weer by hul ouers en gemeenskap geleer het. Dus kan hulle niemand anders as hul voorgeslagte daarvoor blameer nie, want hierdie onbeskaafde gedrag word oorgedra van geslag tot geslag. Ongelukkig leer vandag se geslag dit weer aan vandag se jeugdiges, wat dus ‘n donker prentjie skets vir die toekoms. Die barbaarse gedrag word ook nie met die nodige fors deur die howe gestraf as waarmee dit gepleeg word nie, en die polisie se magte word weggeneem mits hulle effens brutaal optree. Dus sal hierdie gedrag aanhou solank al lg. kwelpunte nie daadwerklik aangespreek word nie, en menseregte hoër rang geniet bo die misdadiger se daad.

Gerrit ·

Meer as twintig betokke by die aanval maar die useless klomp in blou vang darem 2 vir hulle standaarde is dit seker baie meer as wat n mens kan verwag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.