Sokkerwêreldbeker-kontrakteur tronk toe oor belastingontduiking

hof-hamer

Argieffoto

ʼn Man, wat ʼn kontrak van meer as R2 miljoen gekry het om gasheer te speel tydens die 2010-sokkerwêreldbeker, is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir belastingontduiking.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Vusumzi Aaron Kama (50) is in die Parow-streekhof gevonnis, nadat hy skuldig bevind is op twee aanklagte van bedrog. Kama is op borgtog vrygelaat, hangende ’n appèl teen sy skuldigbevinding en vonnisoplegging.

Volgens Ntabazalila het Kama ʼn kontrak ontvang om die beeld van Stellenbosch te verbeter en gasheer te speel tydens die internasionale sokkertoernooi wat in 2010 in Suid-Afrika gehou is. Hiervoor het hy in 2009 en 2010 meer as R2 miljoen as vergoeding van die Stellenbosch-munisipaliteit ontvang.

“Kama het sy eie sakebankrekening gebruik toe hy die kontrak met die munisipaliteit gesluit het. Hy het egter ʼn wanvoorstelling van sy inkomste aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gelewer en slegs R1 679 220 van sy inkomste verklaar, wat daartoe gelei het dat hy nie die korrekte belasting op die inkomste betaal het nie,” het Ntabazalila gesê.

Adv. Margot Jacobs, die staatsaanklaer, het tydens die hofverrigtinge gesê Kama het blatant vir die SAID gelieg deur nie sy ware inkomste te verklaar nie. “Die howe het dit duidelik gemaak boetes is onvanpas in hierdie geval en oortreders kan swaar tronkstraf opgelê word, selfs al is hulle eerste oortreders soos Kama,” het Jacobs gesê.

“Hierdie saak moet as ʼn ernstige waarskuwing vir belastingpraktisyns en belastingbetalers dien sodat hulle nie kanse vat deur oneerlike belastingopgawes in te dien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hasie ·

Een of ander tyd haal jou sondes jou in, partykeer neem dit bietjie langer, maar hulle gaan vir jou byt.

Wat-ek-lees ·

Ja-nee, wees seker dat een of ander tyd jou turf gaan sit wanneer jy die ontvanger (soos ons hom leer ken het) verneuk. Veertig jaar gelede (ek het nie saamgestem met my belastingbetaling) het ‘n ou van die ontvanger ewe arrogant aan my gesê: “Mnr tot die polisie kom tweede by ons”. Tog huidig met my laaste besoek was ek baie goed en professioneel behandel. Daardie ou van 40 jaar gelede glo ek is nie meer met ons . . . jammer net dat sulke onnodige aanmerkings met jou bly. Ten laaste: daardie belastingaanslag van 40 jaar gelede was toe verkeerd . . .
Maar gee maar die keiser wat hom toekom, al misbruik hy dit.

Maria van Dieweeck ·

Sou graag weet wat hy toe uitgerig het met die R2m?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.