Sol Plaatje steeds sonder burgemeester

Dr. Wynand Boshoff verteenwoordig die VF Plus in die Sol Plaatje- munisipale raad (Kimberley). Foto: Facebook

Die Noord-Kaapse hoofstad se munisipaliteit moet nog ʼn maand sonder ʼn burgemeester, munisipale bestuurder en finansiële hoof klaarkom.

Die spesiale raadsvergadering in Kimberley op 28 September, waartydens ʼn nuwe burgemeester aangewys moes word, is vroeg verdaag toe ʼn oproerige skare op die openbare galery die vergadering ontwrig het, het Maroela Media ʼn week gelede berig.

Die raad sou Dinsdag opnuut ʼn nuwe burgemeester probeer verkies het, maar dr. Wynand Boshoff, VF Plus-raadslid van die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê hy en sy kollegas het ʼn “eienaardige verrassing” gekry toe hulle laatmiddag in kennis gestel is dat die beplande raadsvergadering tot 31 Oktober uitgestel is.

Hy sê dis op versoek van die speaker en om “veiligheidsredes” gedoen. “Dit beteken dat die artikel 106-ondersoek na wanadministrasie in die munisipaliteit eers oor ʼn maand ter tafel gelê kan word en dat die stad nog ʼn hele maand sonder ʼn burgemeester, ʼn munisipale bestuurder en finansiële hoof moet voortgaan.”

Hy en van sy kollegas in die opposisiebanke, wat benewens hom uit 19 lede van die DA, vyf van die EFF en een van Cope bestaan, is ongelukkig omdat die speaker sekuriteitspersoneel kon gevra het om oproeriges te verwyder, “maar verkies het om dit nie te doen nie”.

Dit het gebeur nadat twee raadslede uit die ANC – wat in 2016 se verkiesing 38 van die 64 setels in die raad gewen het – vir die burgemeestersamp benoem is. “Daar was toe reeds gerugte dat die chaos georkestreer is om ʼn moontlike neerlaag deur die ANC se meerderheidskandidaat te voorkom,” sê Boshoff. “ANC-rebelle en die opposisie sou moontlik ʼn meerderheid vir die alternatiewe kandidaat kon verwerf het.”

Boshoff hoop die gebeure in die raad is ʼn wekroep vir ANC-ondersteuners om hul steun te heroorweeg. “Kiesers wat ná hierdie gebeure steeds vir die ANC stem, sal slegs hulleself kan verwyt as regering steeds verder en verder verkeerd gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.