Sol-Tech se IT-program oes prys in

Van links na regs: Rouan Blom en Paul van Deventer van Sol-Tech en Rendo Rust van CompTIA. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse beroepskollege Sol-Tech is vroeër vandeesmaand tydens CompTIA (Computing Technology Industry Association) se Afrika-toekennings met die prys vir die nuweling van die jaar bekroon.

Die internasionaal erkende CompTIA-opleidingsinstansie het tydens die tweejaarlikse spoggeleentheid by Monte Casino in Johannesburg erkenning gegee aan verskeie opleidingsvennote oor die hele Afrika heen vir vaardigheidsontwikkeling en verskeie bydraes tot die opleidingsinstansie.

Sol-Tech het in Januarie vanjaar aangekondig dat voornemende studente kan inskryf vir die splinternuwe inligtingstegnologie-kwalifikasies wat vanaf April deur Sol-Tech aangebied word.

Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is die instansie geweldig trots op hierdie toekenning.

“Sol-Tech het in Januarie aangekondig dat ons die groot stap neem om die inligtingstegnologieveld te betree en so ons programaanbod van hoofsaaklik ambagsgerigte kwalifikasies uit te brei.”

Die studente het in April weggespring en die eerste student het pas einde September sy kwalifikasie voltooi. Altesaam 73 studente het sedertdien met hul kwalifikasies begin.

“Dit was vanuit die staanspoor vir Sol-Tech belangrik dat die IT-studente ook dieselfde gehalte van opleiding ontvang waarvoor Sol-Tech vir sy ambagsopleiding bekend geraak het.

“In ʼn relatief kort tyd is daar ʼn rekenaarlaboratorium ingerig, uitstekende personeel aangestel, en die aanlyn leerplatform is gereed gekry saam met die nodige administratiewe stelsels.

“Hierdie toekenning beaam dat ons op die regte pad is en dat ons ook op die IT-terrein studente kan lewer wat puik vir die bedryf voorberei is.”

Sol-Tech het spesifiek op CompTIA as opleidingsvennoot besluit aangesien dié opleidingsinstansie internasionale erkenning geniet en hoog in die bedryf geag word.

Programme wat op drie terreine fokus, naamlik data en wolk, IT-ondersteuning en -netwerke en kubersekerheid word tans aangebied. Studente studeer aanlyn teen eie pas en tempo, met fasiliteerders wat ondersteuning bied.

Deurlopende innames verseker maklike toegang tot studierigtings. ʼn Verpligte blokweek, in die goed toegeruste laboratorium op die Sol-Tech-kampus in Monumentpark, Pretoria, bied geleentheid om vaardighede prakties in te oefen.

Sagte vaardigheidsontwikkeling geniet ook aandag. Sol-Tech bied verder ʼn voorsprong vir studente deur ontluikende tegnologie en SQL- en Python- basiese beginsels deel van die program te maak.

Daarbenewens kan studente uit 15 individuele CompTIA-sertifiserings kies, soos A+, N+, Security+, asook eksamenkoepons aankoop om hul bestaande sertifiserings te hernu.

Sol-Tech bied IT-fasiliteerderdienste om studente by te staan met hul studie en dit boonop in Afrikaans.

Sol-Tech is in 2007 gestig. Agt ambagsgerigte kwalifikasies word tans aangebied, naamlik vir elektrisiëns, dieselwerktuigkundiges, meulmakers, gereedskapmakers, passer-en-draaiers, megatroniese tegnici, outo-elektrisiëns en sweisers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Kwaliteit opleiding in Afrikaans vir Afrikaners wat ook in die buiteland wil werk. Strate beter as substandaard opleiding in SAeglish.

SjN ·

Baie geluk, weereens n bewys dat dit gedoen kan word as bevoegde mense in beheer en in bestuur is. Sterkte met jul goei werk.

Carel ·

My seun het by Sol-tech gestudeer & het so pas terug gekeer uit Europa, waar hy robot monteer aanlegte vir Audi gebou het.
Die groot behoefte tans is vir PLC’s (Program Logic Control) . . . na my mening moet Sol-tech ‘n indiepte kursus in dié veld aanbied.

Hulle behoort ook ‘n vennootskap met Xelvin te sluit / hulle is ‘n Nederlandse personeel verwewings agentskap wat voor die voet alle Afrikaanse sprekende gekwalifiseerde werknemers opraap & bystaan om te hervestig in Nederland

Google: “Xelvin goes to South Africa”

Grens ·

Mooi Sol-Tech , lyk darm of my klein bydrae goed aangewend word. Bly maar by ons wegvat, ons sal self beter en groter groei, dis net hoe ons werk.

Goldy ·

Soktek, akademia kan koalisies met instellings regoor die wereld aangaan, dis nou makliker en meer akkuraat as ooit om studiemateriaal automaties te vertaal tussen verskillende tale. Geen rede om net tot SA beperk te bly nie, en goeie rede om almeer inhoud in Afrikaans te vertaal vanuit die hele wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.