Sol-Tech stel planne vir eerste koshuis bekend

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Sol-Tech het vandag (Vrydag) amptelik planne oor sy koshuis, die Plaashuis, bekendgestel.

Dié byvoeging tot die Sol-Tech-kampus in Monumentpark in Pretoria sal behuising vir 400 mans- en vroue studente bied.

“Sol-Tech se doel was nog altyd om ʼn blink toekoms vir jong mense in Suid-Afrika te skep. Met die bou van ons eie koshuis word ons wêreldklasopleiding nog meer toeganklik vir mense regoor die land,” het Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, gesê.

Dié koshuis is deur Jeremie Malan ontwerp en sal sowat R155 miljoen kos om te bou. Dit sal in Oktober vanjaar amptelik oop wees vir studente om in te trek.

Die Plaashuis sal onder meer ook beskik oor ruim deelkamers, ʼn swembad, buitelug gimnasium, eetsaal, ontspanningsarea, braaigeriewe, bomas, sportvelde en ʼn veilige oorstapbrug vir studente om direk van die koshuis af kampus toe te stap.

Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Dit sal in vier vleuels, Wildebees, Eland, Gemsbok en Koedoe, verdeel word, met mans en vroue wat in aparte vleuels sal tuisgaan. Van Deventer is veral opgewonde om in die toekoms nog meer vrouestudente op die kampus te verwelkom met die bekendstelling van ʼn vroeë kinderontwikkeling- en haarkapperprogram.

Hy benadruk dat Sol-Tech reeds ʼn tuiskomplek vir studente in die dag is, en dat die Plaashuis daardie gevoel bloot gaan versterk. Daar sal ook studie-ure wees waartydens die studente verpligte tyd agter die boeke gaan moet deurbring.

Die bestuur van die Plaashuis beplan om ʼn tradisieryke koshuis vir Sol-Tech-studente te skep, waar studente die kans gegun word om hul eie tradisies te ontwikkel. Daar is dus vertrekke en dele van die koshuis wat nog nie name het nie, en wag vir die studente om dit lewe te gee.

Die eiendomsbeleggingsmaatskappy Kanton staan aan die stuur van die bouprojek en is opgewonde om deel van die groei en ontwikkeling van Sol-Tech se geriewe te wees.

“Die stene wat reeds gelê is, is sprekend van die vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat Kanton besig is om te smee. Kanton maak tans planne om aan die gemeenskap die geleentheid te bied om deur beleggings betrokke te raak,” sê Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton.

“Die Sol-Tech-kampus en hierdie Plaashuis is die eerste tekens van leefruimtes vir Afrikaans wat Kanton besig is om te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jan Jacobs ·

Baie mooi net jammer dat die meeste kinders se ouers kan dit nie bekostig nie.

Christine ·

ONS SAL SELF !!!!Ons bid dat HERE almal betrokke sal seen Baie Geluk!!

Papsak ·

Baie geluk fantasties bou Afrikaans voort asb trots op julle gee Afrikaans ook nou weer n lewe baie dankie vir julle !!!!!!

Vrijburger ·

Hou ons op hoogte van die beleggingsmoontlikhede in die puik idee.

JD ·

“piet”
Wat maak dit saak watter kleur iemand is?

Die woke mind virus is n geskenk wat net aanhou gee sien ek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.