Sol-Tech vier 10de bestaansjaar

Paul van Deventer maak ‘n toespraak by Sol-Tech se 10de verjaarsdagviering (Foto: Janie du Plessis)

Sol-Tech het op 8 September sy 10de bestaansjaar gevier en hul sukses aan die gemeenskap se hulp toegeskryf.

Paul van Deventer, uitvoerende direkteur van Sol-Tech, het vir Ali Mazrui aangehaal: “Die doel van ’n kollege of universiteit is om ’n gemeenskap te help ontwikkel.  Maar voordat dit kan gebeur, moet ’n gemeenskap eers die kollege help om te ontwikkel.”

“Alles wat u vandag hier sien is moontlik gemaak deur ’n organisasie met die regte visie vir ons in Suid-Afrika.  Ons vier dus vandag nie net die bestaan van Sol-Tech nie, maar eer ook die mense wat dit moontlik gemaak het,” het Van Deventer gesê.

Solidariteit se Boufonds-inisiatief het R10-skenkings van lede ontvang, en het toe die somtotaal van R50 miljoen bymekaar gemaak om Sol-Tech te befonds.

Sol-Tech het in 2007 met 64 studente en 3 personeellede begin. “Ons het nie toerusting of behoorlike spasie gehad nie. Die personeel het hul eie gereedskap gebring en hulle het toerusting van oral af probeer kry,” het Van Deventer gesê.

In September 2013 het Sol-Tech na die kampus in Pretoria-Wes geskuif. “Ons het die hele kampus oor ʼn naweek geskuif, met behulp van ons eie studente en personeel.”

“Nou is ons een van die grootste privaat kolleges in die land, die enigste wat nog opleiding in Afrikaans bied, met gehalte wat werkgewers laat toustaan.

“Vandag het ons 55 hoogs gekwalifiseerde personeellede en 1 200 studente.  Ons het in enige stadium ongeveer 600 studente wat op kampus besig is met teoretiese en institusionele opleiding, en 600 studente wat besig is met hul praktiese opleiding in die werkplek waar hulle ervaring opdoen,” het Van Deventer gesê.

Flip Buys, uitvoerede direkteur van die Solidariteit Beweging, het by dié geleentheid gesê Sol-Tech rus nie net die studente toe vir hul loopbaan nie, maar ook vir hul lewe.

“Sol-Tech leer die studente om met hul koppe, hande en harte te werk. Hulle leer kennis, vaardighede en waardes hier aan.”

“Ons uiteindelike doel is om studente indiensneembaar te maak. Dit is geen geheim dat ons studente hulle vasloop in ekonomiese en politieke omstandighede in die land wat dit bitter moeilik maak vir hulle om regverdig mee te ding nie. Daarom móét ons studente eenvoudig die beste in die bedryf wees en die beste opleiding moontlik kry,” het Van Deventer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Dis met diepe dankbaarheid dat ek kennis neem van die grootse mylpaal. Vanuit die diepte van my hart, dankie vir wat julle doen, baie dankie. Die personeel, studente, Solidariteit en ons, Afrikaanssprekendes wat voordeel trek, kyk nou net.

JC ·

Ai, maar dis net eenvoudig “awesome” verby, AFRIKANERS BOU OP ROTS!

Veritas ·

Knap gedaan manne. Terselfdertyd kry Solidariteit op die koop toe 1200 lede by. Altans so hoop ek.

Lindie ·

Baie geluk Solidariteit! Uitstekende voorbeeld van hoe dinge gedoen kan word!

Adam ·

Wat ‘n wonderlike inisiatief!! Die tipe inisiatiewe is wat nodig is om ‘n daadwerklike verskil te maak. Baie geluk

Dalene Venter ·

Dis met dankbaarheid teenoor Die 3 Eenheid en dan Julle!!!!
Knap gedaan en dankie vir jul aandeel om ons kinders weer hoop te gee!!
Die goedheid en guns van Die 3 Eenheid is met jul!*

Christo ·

As ‘n R10 dit kan begin, kan daar definitief ook ander projekte so befonds word soos bv. ‘n plaasbeveiliging inisiatief vir ouer (bejaarde) boere wat kwesbaar is. Afriforum neem die inisiatief en ek is seker Maroela lesers sal die woord versprei en bydra.

Christo ·

As ‘n R10 dit kan begin, kan daar definitief ook ander projekte so befonds word soos bv. ‘n plaasbeveiliging inisiatief vir ouer (bejaarde) boere wat kwesbaar is. Afriforum neem die inisiatief en ek is seker Maroela lesers sal die woord versprei en bydra.

Andre Traut ·

As hulle in die weskaap ook kon wees was al my kinders ook daar

MammaM ·

My seun studeer tans daar en is by die werkswinkel. Hy kry die beste opleiding. Ek kan net met lof van Sol-tech praat. Hulle dissipline is uitstekend. Wonderlike instansie. Ek sal Sol-tech by enige iemand aanbeveel. Julle doen goeie werk Sol-tech. Hou so aan!!!

Johannes ·

Baie geluk Sotech en terselfdertyd baie dankie vir julle toewyding en passie.My seun het deur julle as elektrieen gekwalifiseer en vandag 6 jaar later is hy ‘n vennoot in ‘n besigheid reis land en afrika vol.Ek dank ook God wat dit vir ons as ouers finansieel moontlik gemaak het.Di werk wat mt seun doen vandag is ook sy passie.Dankie baie dankie SOLTECH en ek gee eer aan GOD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.