Soldaat gee hom oor ná ‘moordtog’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Suid-Afrikaanse soldaat het homself Donderdag aan die polisie oorgegee ná ʼn skiettog wat minstens een persoon dood gelaat het.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die soldaat van 8 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon (8 SAI), wat in Upington in die Noord-Kaap gestasioneer is, het homself aan soldate in Inanda buite Durban in KwaZulu-Natal oorgegee waarna hulle hom na die polisie geneem het.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), het gesê die soldaat moes Maandagaand op sy pos wees in Upington. Hy het egter reeds vroeër die dag van Upington na Ntuzuma in KwaZulu-Natal gery.

Die soldaat het glo Dinsdag sy vriendin met ʼn R4-aanvalsgeweer doodgeskiet en ook nog twee mense gewond. ʼn Polisiebeampte wat glo tussenbeide probeer tree het, is ook gewond. Volgens verskeie mediaberigte is ‘n tweede persoon ook oorlede.

ʼn Groot soektog is hierna na die soldaat van stapel gestuur. Volgens Mbhele het die soldaat sy prokureur gekontak en gesê hy gaan homself oorgee.

Mbhele het gesê die soldaat sal na verwagting Maandag in die hof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en ontvoering. Sy het gesê daar is op ʼn R4-aanvalsgeweer en ammunisie beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Maar dan moet die bevelvoerder van sy eenheid mos ook aangekla word op die beheer van vuurwapens en ammunisie!!!!!!!

Deon ·

Ek stem Leon, en hulle moet ook sommer `n ondersoek instel waar en hoe het hy die ammunisie waarop beslag gelê is, in die hande gekry. Of lê die ammunisie deesdae sommer in emers vol in die basis rond vir enide iemand om daarvan te neem?

Speedguard ·

Hoe is dit moontlik dat die man van Upington na KZN gaan met sy R4, geen wonder meeste van die trasito rowe word met die wapen gedoen nie, is daar moontlik enige ongekookte statestiek van hoeveel wapens en ammunisie verlore gegaanhet die afgelope paar jaar !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.