Soldaat in hof ná ‘moordtog’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Soldaat, wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie se sussie en haar vriend doodgeskiet het, het Vrydag in die Ntuzuma-landdroshof verskyn.

Thembinkosi American Ngcobo het tydens sy aansoek om borgtog aan die hof gesê hy is van voornemens om skuld te ontken.

Hy het gesê hy sal eers vrae beantwoord wat met die misdade verband hou wanneer die hofsaak begin.

Ngcobo, ʼn soldaat van die 8 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon (8 SAI), het na bewering op 31 Januarie sy pos in Upington verlaat toe hy moes wagstaan. Hy het Durban toe gery waar hy, glo uit jaloesie, sy meisie se sussie en haar vriend doodgeskiet het. ʼn Polisiebeampte, wat tussenbeide wou tree, is ook gewond in die voorval.

Op talle van staatsaanklaer Sipho Mzimakwe se vrae het Ngcobo geantwoord: “Kan ek op daardie vraag reageer tydens die verhoor?”

Die hof het gehoor Ngcobo is die pa van twee klein kinders en hy help sy pa om die gesin te ondersteun in Inanda in Durban, waar hy grootgeword het.

Hy het in Januarie 2013 by die weermag aangesluit.

Hy het aangedui hy kan borgtog van R2 000 bekostig.

Die aansoek om borgtog hervat op 28 Februarie.

Lees alle vorige berigte oor Thembinkosi American Ngcobo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.