Soldaat vas oor transitorooftog

Argieffoto (Fidelity Security)

ʼn Lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in hegtenis geneem ná ʼn transitorooftog by ʼn vulstasie in Oudtshoorn.

“Die 36-jarige weermagkaptein, van die infanterieskool in Oudtshoorn, is Vrydag in hegtenis geneem en is die vierde verdagte wat aangekeer word in verband met die voorval,” het Zinzi Hani, woordvoerder van die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê.

Drie ander verdagtes is in hegtenis geneem kort ná die voorval op 19 Julie.

Hani het gesê veiligheidswagte van Fidelity Cash Solutions is beroof toe hulle kontant by die vulstasie in ontvangs wou neem. “Een van die veiligheidswagte is deur twee gewapende mans oorval op pad terug na die pantservoertuig. Hy is van sy dienswapen beroof en ʼn sak kontant is gebuit.”

ʼn Paar minute ná die rooftog het die Valke se span ʼn Nissan Sentra voorgekeer en drie insittendes in hegtenis geneem. “Toe die voertuig deursoek is, het beamptes die gesteelde vuurwapen en sak met gesteelde kontant gevind. ʼn Tweede vuurwapen is ook gevind waarvan die reeksnommer afgevyl is.”

Die span van die Valke het ook ʼn volledige SANW-uniform in die motor gevind. Nie een van die verdagtes was soldate nie. ʼn Medalje, vir getroue diens gelewer, was aan die baadjie vasgemaak met die naam en rang van die SANW-lid.

“Verdere ondersoek het bepaal dat die voertuig wat in die rooftog gebruik is, ʼn wit Toyota Tazz met vervalste nommerplate, is deur die SANW-lid bestuur. Die Tazz het van die misdaadtoneel weggery en langs ʼn silwerkleurige Nissan Sentra stilgehou. Die gesteelde eiendom is uit die Tazz na die Nissan Sentra oorgeplaas.”

Die Valke het Woensdag inligting opgevolg wat hulle van Oudtshoorn-speurders ontvang het oor waar die betrokke Tazz geparkeer staan. “Die Tazz was in ʼn motorhuis by ʼn huis in Oudtshoorn, naby die infanterieskool. Die vervalste nommerplate, wat tydens die rooftog gebruik is, is in die motor gevind.”

Die SANW-lid is gevolglik in hegtenis geneem. “Hy sal na verwagting Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn op aanklag van roof met verswarende omstandighede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pietertjie ·

Dís dan hoekom daar sulke gesofistikeerde wapens betrokke is by hierdie misdade!

Strandloper ·

My woordeskat is te klein om dit te beskryf….die woord zombie duik telkens op?

Excalibur ·

Die vorige H SANW het telkemale bevestig hul ondersteun 100% die Regering se Teenmisdaad en Geslagsgeweld Veldtogte dmv ‘n sogenaamde ‘zero tolleransie’ vir enige soldaat met ‘n kriminele oortreding en dat sulke lede geidentifiseer sonder seremonie onmiddelik permanent uit die weermag ontslaan sal word. Daar word van ‘n “screening & verification” metode gebruik gemaak om soldate se diensrekord by die SAPKRS (“CAS”) en SANW Menslike Hulpbronne (“DD28”) na te gaan en voor te le aan ‘n “DoD Verification Board” wat bestaan uit hul Regsdienste, Militere Polisie, Inligtingsdiens en Menslike Hulpbronne MAAR dit bleik uit bogenoemde beriggewing en ook die in die verlede soos bv waar ‘n BBP beskermer van Hoof van Gesamentlike Operasies betrokke in Limpopo was in ‘n transito rooftog met die weermag BBP hoespoed voertuig en waar dieselfde lid ‘n siviele dame trompop gewond het. Dan is daar nog vele meer en die wat deur die Krygsraad proses media dekking ontduik; UITERS KOMMERWEKKEND!

Pieter ·

Dit wil voorkom asof die militêre vak: “Offisier as heer, Officer as gentleman”, ook nou verander het na “Offisier as krimineel”.

Anoniem ·

Wonder net hoekom hierdie “36-jarige weermagkaptein” se naam en ras nie ook beken gemaak word nie en ook nie ‘n foto by die berig van die “Kaptein” geplaas is nie. Onsgelukkig skuil die boosdoensers deesdae in uniforms. Is dit nou mense waarvoor respek getoon moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.