Solidariteit aanvaar Eskom-loonaanbod

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Die vakbond Solidariteit het Donderdag aangekondig dat hy Eskom se loonaanbod aanvaar het.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in ʼn verklaring gesê Solidariteit het die verhoging van ʼn 7,5%-verhoging vir vanjaar, ʼn 7%-verhoging vir jaar twee en drie – met ʼn gewaarborgde verhoging gelykstaande aan die VPI op behuising, tesame met ʼn eenmalige kontantbetaling van R5 000 ná belasting, aanvaar.

Solidariteit het ook gesê dat hy nou alles in sy vermoë gaan doen om die kragnetwerk te stabiliseer.

“Gegewe die huidige omstandighede is dit ʼn baie billike aanbod. Die regte optrede vir al ons lede dwarsoor Suid-Afrika is om te help dat die ekonomie nie gekniehalter word deur onbetroubare kragvoorsiening nie,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann het die vakbond weer ʼn beroep op beide Eskom en die SAPD gedoen om drasties op te tree teen kriminele elemente wat die infrastruktuur saboteer en werkers intimideer.

“Solidariteit-lede het die afgelope week onder moeilike omstandighede gehelp om Suid-Afrika se ligte aan te hou. Sommige Solidariteit-lede het ten spyte van dreigemente van aanranding en dat hul motors en huise aan die brand gesteek sal word, in kragstasies geslaap,” het Hermann gesê.

Hermann sê voorts dat Solidariteit ook ʼn beroep op Eskom en ander vakbonde gedoen het om die kriminele elemente te identifiseer sodat strafregtelike klagte teen hulle gelê kan word.

Hermann wys voorts daarop dat die kwessie oor bonusse nog nie afgehandel is nie en dat dit op ʼn ander forum hanteer sal word. “Dit is moeilik om van werknemers te verwag om te aanvaar dat geen bonusse uitbetaal gaan word as individue by Eskom hulself onregmatig verryk het en daar geen gevolge vir hul dade is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.