Solidariteit aanvaar Sibanye-loonaanbod

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Solidariteit het ná maande lange onderhandelings met Sibanye-Stillwater eindelik ingestem om die mynmaatskappy se jongste loonverhogingsaanbod te aanvaar en nie aan die beplande staking by die maatskappy deel te neem nie.

Dié vakbond en ʼn reeks ander mynbouvakbonde is sedert verlede jaar met Sibanye-Stillwater in ʼn geskil oor loonverhogings betrokke.

Solidariteit het destyds aangevoer dat Sibanye-Stillwater hom vrywillig onder sakeredding moet plaas aangesien die mynhuis nie van plan is om gebeurlikheidsplanne gereed te kry om afleggings af te weer en in goedertrou oor lone te onderhandel nie.

Hy het egter nou ʼn aanbod van ʼn 5%-verhoging vir sy lede, wat werknemers by die maatskappy se goudmyne is, aanvaar en finaal sy geskil met die maatskappy beëindig.

Solidariteit se lede het ook nie op 1 Maart aan die stakings deelgeneem wat deur ander lede van mynbouvakbonde ondersteun is nie. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het destyds hierdie staking goedgekeur.

“Nadat ʼn vertroulike stemmingsproses plaasgevind het, het ʼn oorweldigende meerderheid van Solidariteit se lede die finale aanbod aanvaar,” sê Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris vir die mynbou-, landbou- en chemiese bedryf by Solidariteit.

“Solidariteit het hom op grond van die ledemandaat aan die geskilproses onttrek en het hy nie aan die gesamentlike vakbondstemming vir ʼn staking op 1 Maart deelgeneem nie.”

Visser sê hoewel Solidariteit se lede nie aan die staking deelgeneem het nie, het hy wel begrip vir die ander vakbonde se posisie insover die aanbod wat ter tafel gelê is.

Sibanye-Stillwater het in Februarie tydens ʼn vergadering met Solidariteit, Num, Amcu en Uasa ʼn hersiene loonverhogingsaanbod aan werknemers by sy goudmyne gemaak.

Die gewysigde driejaar-aanbod maak voorsiening vir ʼn verhoging van 5% aan mynwerkers, ambagslui en amptenare en ʼn R800-verhoging aan kategorie 4- tot 8-werknemers. ʼn Addisionele R100 behuisingstoelaag word ook hierby ingesluit.

“Die poging om konsensus tussen partye te vind is altyd die kern van arbeidsverhoudinge. Solidariteit se benadering is altyd om gemene gewin te vind in plaas daarvan om vyandig teenoor ander partye op te tree,” sê Visser.

“Ons is tevrede met die aanbod en gelukkig dat ons hierdie verhoging vir ons lede kon beding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.