Solidariteit, AfriForum beoog regsaksie oor ‘regeringsmonopolie’ op Covid-19-entstof

‘n Versorgingswerker in Nederland word teen Covid-19 ingeënt. (Foto: Koen van Weel/ANP/AFP)

Solidariteit en AriForum het hul regspan opdrag gegee om ’n saak voor te berei om die regering se voorgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van Covid-19-entstowwe teen te staan.

Die organisasies sê hulle wil verseker dat die regering se wanbestuur en korrupsie nie daartoe lei dat mense wat die entstof wil ontvang, verhoed word om dit te kry nie.

AfriForum voer aan dat die regering nie ʼn monopolie kan hê om te besluit wie die entstof kry nie. Hy sê as die private sektor toegelaat word om die entstof aan te koop en te versprei, sal die verspreiding daarvan aan diegene wat ingeënt wil word meer doeltreffend wees, dit sal magsvergrype deur die regering verhoed en dit sal verseker dat die proses nie ontspoor word deur die regering se onbevoegdheid of korrupsie nie.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het vroeër gesê die regering wil 40 miljoen Suid-Afrikaners oor die volgende jaar inent.

Suid-Afrikaanse private mediese skemas, wat sowat 15% van die bevolking bedien, het ook reeds aan die regering ʼn aanbod gemaak dat die mediese skemas sal betaal vir die inenting van elkeen van hul lede en vir elke mediese skema-lid wat ingeënt word, sal die mediese skema betaal vir die inenting van een Suid-Afrikaner wat nie lid van ʼn mediese skema is nie.

Waar die staat dus tans net genoeg geld het om 10% van die bevolking te laat inent, sal die mediese fondse betaal vir ʼn verdere 30% van die bevolking, om die totaal op 40% van die bevolking te staan te bring.

Mkhize het ook gesê van die staat se kant sal personeel in die mediese sektor eerste ingeënt word, gevolg deur mense ouer as 60 jaar en mense met onderliggende siektetoestande.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die regering het deur die afsonderingstyd gewys dat korrupsie en onbevoegdheid hoogty vier as die regering ʼn monopolie op Covid-19-verwante beleid en verpligtinge het.

“AfriForum wil dus die moontlike misbruik van regeringsmag probeer verhoed waar die aankoop en verspreiding van Covid-19-entstowwe ter sprake is, deur tot die stryd toe te tree om die private sektor toe te laat om deel te wees van hierdie poging,” sê Van Zyl.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê Suid-Afrika kan nie die nasionalisering van entstowwe toelaat nie.

Hy sê die staat het ’n geskiedenis van mislukkings en Suid-Afrika kan allermins nog ’n mislukking tydens hierdie krisis bekostig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.