Solidariteit, AfriForum ‘keer transformasie’ – minister

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het haar Saterdag skerp uitgespreek oor die vakbond Solidariteit en burgerregteorganisasie AfriForum se voorneme om regstappe te doen teen die nuutgestigte Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF).

Maroela Media het berig AfriForum en Solidariteit het hul regspanne opdrag gegee om regsopsies te ondersoek nadat pres. Cyril Ramaphosa en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, die TEF bekend gestel het as ’n instelling wat finansiering aan toerismeondernemings in swart besit verskaf. Slegs ondernemings wat swart eienaarskap van minstens 51% het, kwalifiseer vir lenings of toelae van dié fonds.

Die fonds van sowat R1,2 miljard het ten doel om skuldfinansiering te bied, toelae beskikbaar te stel, aandele te bekom en nuwe projekontwikkeling in die toerismebedryf vir swart entrepreneurs te vergemaklik.

Volgens die minister se verklaring het sy Vrydag ’n prokureursbrief van bogenoemde organisasies ontvang waarin hulle eis dat sy teen 2 Februarie (Dinsdag) bevestig dat die inwerkingstelling van die TEF afgeskaf is, op grond daarvan dat dit “uitsluitlik op grond van ras funksioneer en sonder enige wetlike of geregverdigde grondslag diskrimineer”.

“Ons wil graag weereens beklemtoon dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nooit bedoel was om gevestigde ondernemings in Suid-Afrika uit te sluit nie, maar bloot die speelveld binne die ekonomie gelyk te maak,” lui die minister se verklaring. “Die departement word ook aangespoor deur die mate van belangstelling wat die fonds reeds wek.”

Luidens die verklaring oorweeg die minister tans Solidariteit en AfriForum se brief en sal “in gepaste tyd” daarop reageer.

Die toerismebedryf trek sedert die instel van afsonderingsregulasies in Maart verlede jaar swaar en talle ondernemings moes sedertdien hul deure sluit.

Morné Malan, kommunikasiehoof by Solidariteit, sê dit is slegs ’n gewetenlose regering wat ’n bedryf ongekende skade berokken deur irrasionele inperkings af te dwing en dan te weier om sekere van die mense in dié bedryf daarvoor te vergoed.

“Die regering het wesenlik toerismeondernemings in wit besit nek omgedraai deur feitlik almal te verbied om sake te mag doen, maar dan slegs aan sommiges hulp te verleen om kop bo water te hou. Dit is veragtelik dat die regering die nood van mense in die bedryf as geleentheid gebruik om sy transformasieagenda te bevorder.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

49 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Baie woorde kom by ‘n mens op, ongelukkig is meeste van hulle so vieslik dat ek hulle eerder self moet sensor…. maar dalk som ‘laer as slangbollie se skaduwee’ dit op?

Spook

Die agbare minster moet besef rassisme is rassisme, of dit nou apartheid of “transformasie” is. Dieselfde ding op op die ou einde.

Gysbert

Seker ook net liberale buitelanders wat van swart toerisme bedrywe gebruik maak. Enigste produk is seker “kulturele” toere in plakkerskampe.

Stephan

“Die beste manier van verdediging is aanval” – so redeneer meeste verloorders/mense met verskuilde agendas.
Wie gaan die TEF befonds?
Hierdie regering is ‘n skande (nie eers meer ‘n sirkus nie).

JohanR

Sterkte aan julle arms AfriForum en Solidariteit…….ry hulle tot by Tant Sannie in die Kalahari!