Solidariteit, AfriForum, ANC praat oor Vrystaat-kwessies

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en William Bulwana, sekretaris van die ANC in die Vrystaat (Foto aan Maroela Media verskaf)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en William Bulwana, sekretaris van die ANC in die Vrystaat (Foto aan Maroela Media verskaf)

Die Solidariteit Beweging het Vrydag in gesprek getree met die ANC-alliansie om knelpunte in die Vrystaat op te los.

Solidariteit, die burgerregteorganisasie AfriForum en die ANC-alliansie insluitend die vakbondfederasie Cosatu, die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP), die ANC-vroueliga en die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) het vergader.

Die partye het saamgekom om die situasie by die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die breër Suid-Afrikaanse brandpunte te bespreek.

Twee forums is gestig, naamlik ʼn korttermynforum vir die kwessie by die universiteit, en ʼn strategiese taakgroep. Die twee groepe gaan nou mandate kry om die proses verder te voer.

Volgens die Solidariteit Beweging was die gesprek robuus, maar opbouend. Alhoewel daar groot verskille was, is daar gesoek na gemene grond soos anti-geweld, verwerping van rassisme, verbintenis aan Suid-Afrika en wedersydse respek. Al die partye het hulself verbind tot verdere gesprekvoering.

“Hierdie is die begin van ‘n proses om met die ANC in die Vrystaat in gesprek te tree,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, aan Maroela Media gesê. “Waar ons in Pretoria net die finale ooreenkoms bekend gemaak het, is hierdie die begin van ‘n soortgelyke proses. Soos die proses vorder, sal ons verdere besonderhede bekend maak.”

Maroela Media het vroeër berig verteenwoordigers van die ANC-alliansie en die Solidariteit Beweging het ook op 28 Februarie ʼn historiese ooreenkoms voorgelê vir die herstel van ’n vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program aan die Universiteit van Pretoria (UP). Die ooreenkoms het gevolg ná die reeks gewelddadige gebeure wat in Februarie tot die tydelike sluiting van UP gelei het.

Solidariteit, AfriForum en die ANC-alliansie het ook onderneem om verder gesprek te voer oor die geweld en ontwrigting, die beskadiging van standbeelde en die hantering van taal by die Universiteit van die Vrystaat. Die partye het hulself ook verbind tot verdere gesprekvoering op ‘n forum wat vir die doel saamgestel sal word.

“Die beeld wat Suid-Afrika van die Universiteit van die Vrystaat het, is studente wat ‘n standbeeld aan die brand steek en stukkend kap, geweld tussen groepe en vandalisme. Ongelukkig word dit die beeld van die Vrystaat ook,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan Maroela Media gesê. “Ek is ‘n seun van die Vrystaat en my ervaring van die provinsie is mense wat respek het vir mekaar. Mense praat Sotho en Afrikaans met mekaar en daar bestaan ‘n gemoedelikheid. Die Vrystaat-kultuur is oorskadu deur die beelde van geweld op Kovsies. In die gesprekke tussen die Solidariteit Beweging en die ANC-alliansie het ons gesoek na die Vrystaat wat ek ken. Ons het klem daarop gelê dat ons mekaar beter moet leer ken en dat ons nie mag ophou praat nie, al is die verskille tussen ons groot en die spanning soms hoog.”

William Bulwana, provinsiale sekretaris van die ANC, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sarie ·

Dirk dit was ook my indruk wat ek van Vrystaters gehad het in die tien jaar wat ek daar gewerk het. Was altyd so jaloers as my vriendin so lekker Sotho praat. Daar was een keer besoekers uit Amerika by een van ons projekte en hulle was so verbaas om te sien hoe almal Sotho, Afrikaans en Engels praat en almal weet wat almal sê. Miskien was dit die regstellende inkommers wat die vrede kom versteur het :))

Henry ·

Mnr Buys, Solidariteit en Afriforum het reeds sukses met gesprekvoering behaal waaruit ooreenkomste soos die onlangse ene by die Universiteit van Pretoria gespruit het. Ooreenkomste wat dit moontlik gemaak het om weer normaliteit op die Tukkie kampus te vestig.
Wat het jou benadering tot dusver opgelewer?

Ernest ·

Hierdie gesprekke is maar net ‘n herontdekking van die wiel. “Dingaan” het nog niks verander nie en ” Piet Retief ” plaas homself in dieselfde posisie. Weer probeer is seker nie te verkeerd nie, maar my ondervinding is dat jy niks kan bou uit sulke gesprekke as albei partye nie eerbaar en betroubaar is nie. Ongeukkig is dit juis die probleem. Wat dan anders….?? Begin maar weer van vooraf bou aan jou eie, net jammer dat die grond waarop jy bou nie joune is nie. (Dis as jou Volksgenote nie weer jou eiendom na ‘n paar jaar weggee soos in ’94 nie.) Sterkte

Veritas ·

ñ Netelige kwessie voorwaar. ñ Turksvy met baie dorings. Kan diegene wat inherent anti-Afrikaner is, vertrou word om met ‘n oop gemoed en sonder vooroordeel, sulke onderhandelinge by te woon? Die gesprekke kan net plaasvind in ‘n klimaat van wedersydse respek en indien alle betrokke partye, werklik opreg na oplossings soek. Toegewings sal van albei kante gemaak en gemeenskaplike belange sal aangespreek moet word. Dit op sigself gaan geen maklike taak wees nie. Radikalisme sal geen oplossings baar nie. Ek glo dat Solidariteit en Afriforum die saak aan die Here opgedra het en dat Hy teenwoordig sal wees. Dit maak die stryd soveel minder pynlik. Daar is een gemeenskaplike punt wat die kern van die gesprekke kan beînvloed. Wat die pendulum kan swaai in die guns van kompromie. Dit is die EFF. Onthou die vyand van jou vyand, is jou vriend en geeneen van dié partye is juis bedmaats van dié radikale organisasie nie. Dit mag dalk ‘n groot rol speel in die soeke na oplossings vir die tameletjie. Mag God, in sy almag, alle partye tydens die onderhandelinge deur die heilige laat lei.

Hendrik ·

Wel gedaan Flip en Solidariteit. Alhoewel meeste Afrikaners nie die ANC vertrou nie, is hierdie die regte stap vir ons saak. Ons moenie emosioneel dink nie. Wie anders het ‘n beter plan vir nou?

Pieter ·

…en die onderhandellinge van 1994 waarin ons uitverkoop is, moet Solidariteit en Agri-Forum nou letterlik vure doodslaan !!!

andries ·

Ek wens julle sterkte toe maar wil ook waarsku dat wanneer jy jou met die semels meng vreet die varke jou op. Hierdie mense is onbetroubaar en rugstekers.wees versigtig en sit alles op papier as bewysstukke vir die hof vir n latere stadium want dit gaan kom.Asdie US se rektor nie eers by sy eie reels hou nie glo ek nie die lot sal nie en dit sal in die hof eindig.

Zach Coetzee ·

Die beste stukkie nuus van die naweek! Afri Forum/ Solidariteit – aktiewe rolspeler in gesprek by Tukkies en dit bou nou op ook in Vrystaat. Dieselfde resep word uitgerol. Tweede suksesvolle saak teen US afwyking van regverdige taalbeleid. Hierdie uitrol van Tukkie wenresep (met toegevoegde geloofwaardigheid in lig van regs-suksesse in Kaap!) gee enigsins hoop in omstandighede wat neig om my soms wanhopig te maak. Soms lyk dit asof slegs die leuen wen en kritikasters ons mense as regs en rassisties afmaak as ons op ons grondwetlike regte aanspraak maak – terwyl klein groepies afbrekers wegkom met toegewings ter wille van vrede. Hierdie samespraak en betrokkenheid by groepsgesprekke transendeer enige sodanige aantygings en enige vlak politiekery en is dus per definisie oop en eerlik sonder party-beperkinge en spreek die wese aan van wat in RSA kortkom op bepaalde vlakke. Die hardheid van sodanige gesprekke verg juis sulke ervare (vakbond-) onderhandelaars soos die Solidariteit groep. Kallie en Afriforum se passie en sterk ‘saak-manne’ (Cornelius en kie) in daardie span is juis wat nodig is. Daarom is ek al soveel jaar (dekades?) lid van Solidariteit en Afriforum. Afrisake. Julle is in ons gebede, doe so voort!

anna ·

Ek vertrou hulle nie.Geskiedenis spreek tog vanself. Hulle sal net so omdraai en jou aan die hakskeen byt. Die volgende”eise” sal ook nou begin instroom.Waarom bou hulle nie hul eie Universiteite nie?Waarom hierdie een net wil oorneem? Makliker en beter omAfrikaans te vertrap.

jan ·

Ek stem saam Anna.Meng jou met die semels en die varke vreet jou op.

marie ·

Dit gaan oor meer as taal. hulle gaan die swart kultuur in ons kinders se kele probeer afdruk. So gaan hulle nog al die Afrikaanse monumente ook vernietig want dit gaan nie hier stop nie.Dink vooruit asb?

wynand ·

Die onderhandelings van 1994 het niks beteken nie.Al wat daar gebeur het is dat fw en roelf wat die land uitverkoop het. Ons veg nou eers vir ons bestaan.Daardie twee het niks beteken nie want iy roelfie is nou anc lid en fw is nie deel van hierdie land nis.Niemand respekteer die man nie.

Hannes marais ·

En daar gaan onderhandel solidariteit en afriforum weer met die vyand netsoos die np regering gedoen het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.