Solidariteit: Ankerdorpe volledig toegerus vir Afrikaner teen 2030

Barend Uys tydens Solidariteit se 2019-Toekomsberaad. (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit gaan teen 2030 noodsaaklike dienste en kulturele ruimtes in 29 sogenaamde ankerdorpe vestig.

Navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wys ʼn derde van Afrikaners gaan teen 2031 in 29 dorpe in Suid-Afrika woon. Die helfte van Afrikaners (53%) sal boonop in slegs 10 dorpe en stede gekonsentreer wees. Alle Afrikaners sal binne 200 km van ʼn ankerdorp woon.

“Hierdie syfers wys dat dit sinvol is om op hierdie ankerdorpe te fokus wat betref die skep van maatskaplike en kulturele infrastruktuur en gemeenskapsruimtes,” sê Barend Uys, AfriForum se hoof van navorsing en ontwikkeling. Hy het gepraat by Solidariteit se tweede Toekomsberaad, wat Donderdag in Pretoria gehou is. Tydens die beraad het die Beweging ʼn omvattende “blyplan” bekendgestel, waarvan die skep van ankerdorpe deel vorm.

Volgens die SNI se navorsing sal ongeveer 2,7 miljoen Afrikaners teen 2031 binne die grense van Suid-Afrika woon. “Ons kan daarom met groot gemaklikheid sê dat dit die moeite werd is om vir die toekoms te beplan, want daar is mense vir die toekoms,” sê Uys.

Uys verduidelik die plan is om in die 29 ankerdorpe en -stede noodsaaklike dienste en kulturele ruimtes volhoubaar daar te stel, soos maatskaplike sorg, veiligheid, werk en onderwys – dίt wat nie in elke dorp in die land moontlik is nie. “In die 10 grootste ankerdorpe sal die vestiging van groter infrastruktuur, soos koshuise, ook haalbaar wees.”

Uys sê daar sal ook drie groter gebiede van konsentrasie, bekend as kantons, gevestig moet word. “Hierdie kantons sal waarskynlik in Pretoria, in die Suid-Kaap, en een in die weste van die land, met Orania as groeipunt, gevestig word. In hierdie kantons sal groot kapitaalprojekte aangepak word. Die Sol-Tech-kampus, wat tans in Centurion gebou word, is ʼn voorbeeld hiervan,” sê Uys.

Hannes Noëth tydens Solidariteit se 2019-Toekomsberaad. (Foto: Reint Dykema)

Uys sê die konsentrasie van mense, maar ook van vermoë en poging binne ʼn spesifieke gebied, gaan kanse op sukses en beter uitkomste verhoog en geleentheid skep vir ekonomiese groei. “Die ankerdorpe vorm ʼn veiligheidsnet vir die toekoms van Afrikaners. Goeie vervoer, kommunikasie en tegnologie maak dat die reikwydte van ʼn ankerdorp groot kan wees.”

Helpende Hand, Solidariteit se instelling vir maatskaplike werk, het ook etlike doelwitte vir 2030 gestel om behoeftige Afrikaners op te hef.  “Die fokus is en sal bly die aanpak van armoede binne ʼn gestruktureerde en georganiseerde raamwerk,” het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, tydens die Toekomsberaad gesê.

Hierdie doelwitte sluit in die groei van Helpende Hand se takke van 150 na 190, die ontwikkeling van ʼn gemeenskapsontwikkelingsplan vir die Afrikaner en die uitbreiding van Ons Winkel van 50 na 80 winkels. Helpende Hand se studiefondssentrum wil ook teen 2030 4 000 behoeftige Afrikaanse studente finansieel bystaan teen R140 miljoen per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wurmpie

Noem die ankerdorpe asb

Msp

Hoe Nader aan mekaar hoe beter.

Elizna

Stuur asb n lys vd dorp..so woon in xxx kant van SA.tussen nêrens en êrens. Sal graag die lys wil sien en beplan

se net

En die Vrystaat?????? Wel eerlik ek is n lid van Solidariteit vir al 20jaar en as ek nie nut van die plan sal he nie, sal ek maar moet dink aan n ander plan.

Johanna Botha

Daarcis net geen stop …die planne die durf …verseker kan ander iets kom leer as om heeltyd bakhand te staan