Solidariteit Bankkosteverslag: Mededinging in basiese rekeninge styg; middelklasrekeninge stagneer

Argieffoto

Argieffoto

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het vandag sy vyfde bankkosteverslag, waarin die bankkoste van die vyf groot handelsbanke vergelyk word, vrygestel.

Vanjaar se verslag toon onder meer dat mededinging in die mark vir basiese bankrekeninge baie meer aktief geword het. Daarteenoor stagneer die bankkoste van die rekeninge wat aan die middelklas bemark word.

Volgens Paul Joubert, senior navorser by die SNI, is Capitec steeds oor die algemeen die goedkoopste opsie vir die meeste mense, selfs vir diegene in die middelklas. Wat basiese rekeninge betref, het al die banke opgehou om die burokraties-ontwerpte, mislukte Mzansi-rekeninge te bemark en het beter alternatiewe geskep.

“Vanjaar is die meeste van die beperkinge wat voorheen op die basiese rekeninge by Absa en FNB geplaas is, verwyder. FNB se EasyAccount en Absa se Transact-rekening ding nou werklik met Capitec mee. Die mededinging op die vlak van basiese rekeninge is positief aangesien dit kan verhoed dat hierdie goedkoop rekeninge mettertyd duurder word,” sê Joubert.

Joubert sê daar was die afgelope paar jaar ook mededinging tussen die rekeninge wat spesifiek aan die middelklas bemark word, hoewel die bankkoste op hierdie vlak nou by ongeveer R100 per maand stagneer. In dié kategorie is Nedbank die goedkoopste en Standard Bank die duurste, maar die verskil tussen die twee uiterstes is minder as R20 per maand. “Die mededinging tussen hierdie rekeninge word dus nie meer hoofsaaklik gedryf deur die laagste koste nie, maar eerder deur die byvoordele soos beloningsprogramme,” sê Joubert.

Die verslag toon verder dat hoewel sommige rekeninge by ʼn spesifieke bank goedkoop is, ander rekeninge by dieselfde bank baie duur kan wees. Om vas te stel of dit wel die moeite werd is om van bank te verander, moet verbruikers nie die verskillende banke met mekaar vergelyk nie, maar die rekeninge. Dit is dus belangrik dat verbruikers presies vasstel watter rekening hulle tans het en wat die koste van hul huidige rekening is.

Joubert het bygevoeg dat ingeligte verbruikers die beste reguleerders van bankkoste is. “Bankkliënte wat ontevrede met hul bankkoste is, moet dit nie net gelate aanvaar nie. Deur gedurig alternatiewe te oorweeg, hou kliënte die banke op hul tone.”

Laai die volledige Bankkosteverslag af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.