Solidariteit begin internasionale veldtog teen staat se rasplanne

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het ʼn omvattende internasionale veldtog aangekondig om die staat se regstellendeaksieplanne teen internasionale konvensies te toets.

Solidariteit sê hy beplan om ʼn voorlegging ingevolge die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se Konvensie 111 oor diskriminasie aan dié organisasie te doen en ʼn klagte by die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van rassediskriminasie in te dien.

Solidariteit se veldtog volg nadat die konstitusionele hof teen Renate Barnard beslis het. Die hof het ná ʼn nege jaar lange stryd bevind dat die SAPD nie onbillik teen Barnard gediskrimineer het nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die internasionale roete is ’n belangrike volgende stap teen die ideologie van absolute rasseverteenwoordiging in Suid-Afrika.

“Die belang van die internasionale roete kan nouliks onderskat word. Verskeie internasionale ooreenkomste teen rassediskriminasie is bindend op die Suid-Afrikaanse regering en daarmee saam noodsaak die Suid-Afrikaanse Grondwet plaaslike howe om die internasionale reg in ag te neem.”

Hermann sê al Solidariteit se meer as 30 plaaslike hofsake gaan egter steeds voort. “Gelyklopende met die internasionale veldtog gaan Solidariteit voort met verskeie ander hofsake teen die staat. Die grootste hiervan is die saak namens 10 werknemers van departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap.”

“Die konstitusionele hof se uitspraak het meer onsekerheid as sekerheid oor die toepassing van regstellende aksie gebring. Die uitspraak noop Solidariteit om voort te gaan met nog hofsake om regsekerheid te kry. Ons is oortuig daarvan dat die geskiedenis die konstitusionele hof se uitspraak nog verkeerd gaan bewys. Ons veldtogte se doel is om te help om die geskiedenis te skryf,” vervolg Hermann.

Die konstitusionele hof se uitspraak maak ʼn nuwe internasionale deur vir Solidariteit oop omdat alle interne regsmiddele nou uitgeput is.
“Solidariteit beplan om in Suid-Afrika memorandums aan die ambassades van die lidlande van die VN en partye tot die ILO se Konvensie 111 te oorhandig. Verdere planne behels ʼn internasionale skakeltoer aan die einde van 2014 en ʼn internasionale konferensie oor regstellende aksie,” sê Hermann.

Die vakbond het ook met ʼn veldtog begin sodat hy by internasionale forums, soos die VN, kan bewys dat sy standpunt steun geniet. Suid-Afrikaners oor ʼn breë front word gevra om deur SMS’e en sosiale media hulle steun vir die veldtog te toon. “Ons moet aan die VN wys dat ons standpunt gesteun word en het daarvoor duisende mense se steun nodig.”

Hermann sê die ILO se Konvensie 111 bepaal dat daar nie op grond van ras gediskrimineer mag word nie, maar maak ʼn uitsondering vir regstellende aksie. “Daar word egter bepaal dat regstellende aksie tydelik en remediërend moet wees. Suid-Afrika se program van regstellende aksie voldoen nie aan hierdie vereistes nie.”

Solidariteit sê hy gaan ʼn klag by die VN se komitee oor die eliminering van alle vorme van rassediskriminasie lê omdat Suid-Afrika in gebreke gebly het om oor die regering se voldoening aan die konvensie oor die eliminering van alle vorme van rassediskriminasie verslag te doen.

“Solidariteit beplan ook om ʼn skaduverslag by die komitee in te dien en ʼn klag oor die nienakoming van die konvensie te lê. Solidariteit gaan insette van Suid-Afrika se voorste internasionale regs- en staatsleerkenners vir die formulering van sy voorleggings en klagtes verkry,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johannes ·

Dankie Solidariteit ons waardeer wat julle doen.Sterkte vorentoe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.