Die vakbond sê hy sal as deel van die veldtog hofstukke by die arbeidshof in Johannesburg indien om Telkom se gebruik van ras as kriterium tydens afleggings te stuit.
Volgens Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, het Telkom dit meermale tydens konsultasies met vakbonde duidelik gemaak dat hy ras as seleksiekriterium in die afleggingsproses gaan gebruik.
“Aflegging is ’n ‘geen-fout’-ontslag. Kragtens wetgewing mag ras nie as kriterium tydens ’n afleggingsproses gebruik word nie. Solidariteit het daarom ’n uitgebreide veldtog van stapel gestuur om ’n einde aan hierdie onbillike praktyk te bring,” sê Kruger.
“Dit is noodsaaklik dat Solidariteit namens sy lede by Telkom, en alle ander werkgewers, die stryd aanknoop. Ons is bereid om die saak tot in die konstitusionele hof te voer indien dit nodig is. Hierdie soort praktyk is destruktief en sal eenvoudig vir werkgewers ’n weg bied om hul SEB-gradering tydens afleggings te bevorder,” volgens Kruger.
Volgens Kruger sal lede van die publiek onder meer ’n petisie kan onderteken om sodoende hul steun vir Solidariteit se veldtog te toon. Die vakbond sal die ondertekende petisie aan Telkom se uitvoerende hoof, Sipho Maseko, stuur.
“Ons wil lede van die publiek mobiliseer om hul stem teen die onaanvaarbare kriterium te laat hoor,” sê Kruger.
Vir meer inligting oor die veldtog besoek raskom.co.za