Solidariteit: “Begroting het te veel belasting en te veel skuld”

Paul Joubert, senior navorser van die SNI.

Paul Joubert, senior navorser van die SNI.

Die minister van finansies, Nhlanhla Nene, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk, wat vandag in die parlement ter tafel gelê is, is soos met dié van sy voorganger Pravin Gordhan, steeds op ʼn onvolhoubare model van ʼn “ontwikkelingstaat” met begrotingstekorte, groeiende regeringskuld en swaar belasting gebaseer.

Dit is die mening van die vakbond Solidariteit. Volgens Nene sal bykans 10,5% van volgende jaar se belastinginkomste aan skulddelgingskoste bestee word.

Volgens Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), beteken dit geen werklike belastingverligting vir vuisvoos belastingbetalers nie; trouens sprake van verhoogde belastings word nou algemeen gehoor. Die begrotingsraamwerk slaag nie daarin om die groei van die Suid-Afrikaanse welsynstaat genoegsaam in te perk nie. ʼn Kommerwekkende ophoping van regeringskuld is steeds sigbaar.

Die koste van staatskuld as ʼn persentasie van belastinginkomste het sedert 2008 stelselmatig gestyg. Die styging vind tans plaas in ʼn omgewing van lae rentekoerse, voortdurende inflasie en randswakheid. Sou ʼn opswaai in rentekoerse plaasvind, sal al hoe meer staatsbesteding aan rente op staatslenings bestee word, dit gedurende ʼn tydperk waar die nasionale tesourie dit al hoe moeiliker vind om belasting in te vorder.

Joubert onderstreep die bedenklike stand van Suid-Afrika se nasionale skuld. “Regeringskuld het die afgelope dekade en veral oor die laaste vyf jaar toegeneem. Dit kom tans op R1,8 biljoen te staan, direkte regeringskuldwaarborge vir finansieel onstabiele organisasies soos Sanral, Transnet, die SAL en Eskom uitgesluit.”

“Hoewel die huidige omgewing van buitengewoon lae rentekoerse beteken dat die regering se rente- en delgingskoste as ʼn persentasie van regeringsinkomste tans slegs 10,5% is, is daar in werklikheid ʼn beduidende risiko in geval van enige normalisering van rentekoerse. Terwyl die koste verbonde aan staatseffekte in die kort termyn vas gemaak is, kan ʼn verhoging van die rentekoerse dit vir die regering duurder maak om nuwe skuld te maak. Die onlangse afgraderings deur van die groot kredietgraderingsagentskappe in 2014 onderstreep die kommer.”

“Indien rentekoerse na vlakke van ʼn dekade gelede sou terugkeer, kan die nasionale rente- en delgingskoste as ʼn persentasie van regeringsinkomste tot ongeveer 18,5% styg. So ʼn rente- en delgingslas sal moeilik wees om te dra en sal die ekonomie verder in die vorm van hoër belasting of hoër inflasie knel,” het Joubert bygevoeg.

Klik hier vir die artikel oor Nene se mediumtermyn-begrotingsraamwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.