Solidariteit behaal oorwinning in hof oor Landbouraad

Die Solidariteit Beweging sal poog om die gelde te verhaal wat September onregmatig van die Landbounavorsingsraad (LNR) se werknemersalarisse afgetrek is. Dit volg nadat die Johannesburgse arbeidshof Dinsdag beslis het bedrae vir reis- en verblyfeise is onwettig van werknemers se salarisse afgetrek.

Volgens die hofbeslissing het die LNR teen artikel 34 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes opgetree en word dus belet om verdere onregmatige aftrekkings van salarisse te maak.

Solidariteit het op 26 September ʼn dringende aansoek teen die LNR ingedien, nadat dit aan die lig gekom het dat daar sonder toestemming koste verbonde aan reis- en verblyfeise van vorige jare van sekere LNR-werknemers se salarisse afgetrek is.

Volgens Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris, is dié werknemers verplig om bewyse van hul uitgawes te  lewer wanneer hulle enige reiskoste vir werk aangaan. Hy het in die verklaring bevestig dat Solidariteit-lede wel dié nodige bewyse ná afloop van hul reise ingedien het.

“Hierdie soort wanadministrasie en swak bestuursbesluite is onaanvaarbaar en ons gaan dit nie net daar laat nie. Die belange en regte van ons lede moet te alle tye beskerm word,” sê Botha.

Botha voer aan dat hierdie onwettige aftrekkings gemaak is in ʼn poging om die LNR se swak finansiële administrasie en verkeerde plasing van dokumentasie reg te stel. “Hoewel beleidstellings gehoorsaam moet word, kan werknemers nie verantwoordelik gehou word vir die LNR se nalatigheid en wanbestuur nie,” lui die verklaring.

Botha sê Dinsdag se uitspraak is ʼn groot oorwinning vir Solidariteit se lede in die LNR. “Dit is ook ʼn groter oorwinning vir die groter stryd om wanadministrasie en die misbruik van belastingbetalers se geld uit te roei,” meen hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willehond ·

Ek wil ook weet! Doodse stilte na n hele hoo haa! Nou wat nou?

Elz ·

Sal ook graag wil weet oor Sasol. Sasol het die Inzalo aan skeidingspakkette gekoppel wat dus beteken die volle pakket is nooit uitbetaal nie! Baie mense 2014/2015 met die slap riem gevang na jare se diens.

se maar net ·

Ek wonder of Solidariteit al ooit daaraan gedink het om te registreer as ‘n politieke party. Hulle baklei vir geregtigheid vir almal, en nie net ‘n sekere ras nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.