Solidariteit bekommerd dat skooljaar na 2021 oorspoel

(Argieffoto)

Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê hulle is gereed om enige verdere verlenging van die skooljaar na 2021 in ’n hof te betwis.

Dít nadat die departement van basiese onderwys oor die naweek weer die skoolkalender vir 2020 aangepas het. Die departement hoop steeds om die 2020-kurrikulum teen Desember af te handel sodat skole op 25 Januarie vir die 2021‑skooljaar kan oopmaak.

Solidariteit en die SOS het Maandag in ’n gesamentlike verklaring gesê die moontlikheid bestaan egter dat sekere vakbonde steeds sal eis dat die skooljaar na 2021 verleng moet word.

Solidariteit het nou ʼn skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa, die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, asook die onderskeie provinsies se LUR’e vir onderwys gerig waarin daar gewaarsku word dat die verdere uitrek van die 2020-skooljaar rampspoedig sal wees.

Luidens die verklaring het leerlinge reeds tussen 30 en 69 skooldae verloor, afhangend van elkeen se betrokke graad. Dié leerlinge sal steeds op 15 Desember hul akademiese jaar kan voltooi mits daar nie verdere ontwrigting is nie.

Maroela Media het vroeër berig die skole sal nou weer op 24 Augustus oopmaak en op 15 Desember vir die jaar sluit, met die hoop dat die hele kurrikulum teen dán afgehandel sal wees.

Matrikulante het reeds op 3 Augustus begin skoolgaan en die matriekeindeksamen sal ook teen 15 Desember afgehandel wees. As alles volgens plan verloop, sal al die antwoordstelle teen 22 Januarie 2021 klaar gemerk wees en die uitslae op 23 Februarie bekendgemaak word. Luidens die verklaring sal die 2021-skooljaar op 25 Januarie begin.

Solidariteit en die SOS is egter nou bekommerd dat ʼn verdere hersiening van die skoolkalender ʼn oorspoel van die huidige skooljaar na 2021 tot gevolg kan hê wat op alle skole van toepassing sal wees.

“Enige verdere oorspoel na 2021 sal katastrofies wees. Die verlenging van die 2020-skooljaar is ’n uitvloeisel van druk van sekere vakbonde, in weerwil van beskikbare bewyse dat dit in leerders se beste belang is dat skole moet oopbly,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in die verklaring gesê.

Luidens die verklaring lyk dit of die grootste vakbonde in die onderwys, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysers Unie (Sadou) en die Nasionale Professionele Onderwysers Organisasie van Suid-Afrika (Naptosa), nie beïndruk is met die sluiting van skole vir net een maand nie.

“Ten spyte van minister Angie Motshekga se moedige stryd om skole oop te hou, is die presedent reeds geskep dat druk van vakbonde in gesentraliseerde optrede ten gunste van hul eise omgeskakel word, sonder om unieke omstandighede van provinsies en skole in ag te neem.

“Dit is Solidariteit en SOS se deurlopende standpunt dat die besluit om ’n skool oop te hou of te sluit by beheerliggame en skoolbesture moet berus, en nie by die staat nie. Dit is hierdie beginsel, soos ondersteun in die onderwysriglyne, die Suid-Afrikaanse Skolewet en die jongste hofuitsprake, wat eerder die deurslag moet gee,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

So die kinders begin op 25 Januarie met die nuwe skooljaar, gaan uiteraard na die volgende graad en hoor n maand later eers of hulle wel geslaag het. Indien nie, skuif daai wat gedruip het, weer terug na die vorige graad...... lagwekkend en waarvoorn maand wag voor uitslae bekend gemaak word!!!

Persheks Adri ·

Ek sien die brief gaan na Doffel, Babbel en Bekkie oe ee ee! Hulle ontwrig als en GEEN redenasie maak sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.