Solidariteit bereik ooreenkoms in steenkoolbedryf

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn tweejaarooreenkoms vir ʼn loonverhoging vir werknemers in die steenkoolbedryf onderteken. Die ooreenkoms is na tien rondes van onderhandelinge, insluitend verskeie geskilrondes by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), bereik.

Deon Reyneke, hoof van die Energiebedryf by Solidariteit, sê die ooreenkoms is onder meer deur die Kamer van Mynwese se lae openingsaanbod van ʼn 4,6%-verhoging vertraag. “Die Kamer en georganiseerde arbeid het sedert die aanvang van die onderhandelinge uiteenlopende doelwitte gehad. Solidariteit het telkens probeer om die behoeftes van sy lede met die volhoubaarheid van die steenkoolbedryf te versoen. Ons glo dat die onderstaande ooreenkoms in hierdie doel geslaag het,” het Reyneke gesê.

Die ooreenkoms is van toepassing op mynwerkers, ambagslui en amptenare by verskeie maatskappye, en behels die volgende:

Loonverhogings
Jaar een:
• Anglo American Coal SA – 7,5%
• Exxaro Coal Mpumalanga – 7,5%
• Kangra Coal – 7,0%
• Msobo Coal – 5,5%
• Glencore Operations SA– 7,5%

Jaar twee:
• Anglo American Coal SA – ʼn verhoging gelykstaande aan die koers van inflasie, όf ’n verhoging van 7,5%, afhangend van watter die hoogste is.
• Exxaro Coal Mpumalanga – ʼn verhoging gelykstaande aan die koers van inflasie, όf ’n verhoging van 7,5%, afhangend van watter die hoogste is.
• Glencore Operations SA – ʼn verhoging gelykstaande aan die koers van inflasie, όf ’n verhoging van 7,5%, afhangend van watter die hoogste is.
• Kangra Coal – 7,0%
• Msobo Coal – 5,5%

Aftreeouderdom
Die genoemde maatskappye se aanbod behels ook dat die aftreeouderdom van alle werknemers van 60 na 63 jaar verhoog word.

Die National Union for Mineworkers (NUM) en die Kamer van Mynwese het ook die ooreenkoms onderteken. Dit bring die staking, wat op 4 Oktober begin het, tot ‘n einde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.