Solidariteit: ‘Besef realiteit van mynbedryf om dit te herstel’

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit se die beeld van die Suid-Afrikaanse mynboubedryf sal slegs verbeter indien alle belanghebbendes die realiteit rondom die bedryf besef en aktief poog om dit te herstel.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het die standpunt Woensdag tydens die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne se samespreking oor die toekoms van mynbou in Suid-Afrika gemaak.

Du Plessis het daarop gewys dat die uitkringeffek van die onlangse gebeure in die Suid-Afrikaanse mynbedryf nog lank gevoel gaan word.

“Die negatiewe impak van, byvoorbeeld, die Aurora Empowerment Systems-debakel en die onvermoë van die skuldiges om verantwoording van hul aksies te doen, maak van Suid-Afrika ’n hoërisiko-beleggingsbestemming,” volgens Du Plessis.

Du Plessis het ook verskeie ander struikelblokke en uitdagings waarmee die mynboubedryf gekonfronteer word, uitgewys.

“Dit behels onder meer die onvoldoende voorsiening van skoon water en elektrisiteit aan myne; ’n toename in onwettige mynboubedrywighede; ’n wanbegrip van of die verontagsaming van wetgewing en beleide rakende die Suid-Afrikaanse mynboubedryf; en gewelddadige arbeidsonrus.”

Du Plessis meen nietemin daar is hoop vir die plaaslike mynboubedryf, mits belanghebbendes aandag aan die geleenthede in die bedryf gee.

“Suid-Afrika is ’n wêreldleier op die gebied van minerale hulpbronne. Daarby het die bedryf toerusting en vaardighede van wêreldklas en het die land ’n groot aanbod van geskoolde en ongeskoolde arbeid.”

“Die plaaslike mynboubedryf is ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing. Indien voldoende oplossings vir die uitdagings in die bedryf gevind word, sal ons die bloudruk hê om die ganse Suid-Afrika se uitdagings die hoof te bied,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het ook die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) se deelname aan die gesprek verwelkom.

Du Plessis sê dit is Amcu se eerste positiewe deelname aan ’n debat tussen rolspelers in die mynboubedryf.

“Dit is sowaar ’n tree in die regte rigting en lewer ʼn welkome bydrae tot die vereniging van georganiseerde arbeid in die bedryf,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis sê Solidariteit het ʼn beroep op Amcu gedoen om sy positiewe deelname voort te sit deur voortaan aan hoofstroomdebatvoering oor kwessies met betrekking tot die plaaslike mynboubedryf deel te neem.

“Amcu se deelname sal beslis vreedsame en stabiele arbeidsverhoudinge bevorder wat noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse mynboubedryf,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dr P E van der Dussen ·

Solidariteit se besorgdheid is goed te verstaan in die lig van Billiton se besluit om Suid-Afrika te verlaat. Biliton is volgens berigte die grootste myn- en minerale maatskappy in die wereld. sy halfhartige trooswoord dat hy nie sy bedrywighede in Suid-Afrika staak nie en net sy hoofkantoor na elders verkuif, asook die notering van sy aandele met darem ‘n tweede of laer prysie vir Johannesburg, se ook niks. Ander mynmaatskappye het reeds net na die langdurige staking aangekondig dat hulle van hulle myne gaan verkoop. Die werklikheid is dat Afrika, skatryk aan edelmetale en minerale en steenkool en… en… en… milleniumslank al deur Europa en later Amerika ontgin is. Deur al die eeue het, behalwe in die duistere oudheid, die Europese bemoeienis nie daarin geslaag om die noem hulle maar tradisionele Afrikane tot selfoptrede en selfontginning te bring nie. Ook in Suidelike Afrika het selfs gedrewe pogings daartoe misluk. Dit wat in hierdie gebied oor byna vier eeue opgebou is, selfstandig en selfs in doodstryd teen Europese magte imperialistiese magte, is in sommige gebiede reeds ongedaan gemaak en bedreig nou ook Suid-Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.