Solidariteit Beweging beplan regsaksie om inperking te skrap

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die Solidariteit Beweging gaan met regstappe begin om die landwye staat van inperking op te hef.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die voortgesette staat van inperking dien geen doel meer nie en is vernietigend vir lewens en lewensmiddele.

“Dit wen nie meer tyd om hospitale reg te kry nie. Dit voorkom ook nie meer ʼn te skerp infeksiekruin nie. Ons hospitale is nie oorweldig nie. Dr. [Zweli] Mkhize sê self ons het die piek bereik, en dit begin nou stadig afplat. Die ekonomiese koste regverdig nie meer die ‘voordele’ nie. Dit veroorsaak ook nou ál meer ander sterftes wat nie behandeling kry nie,” het Buys gesê.

Die staat verloor boonop te veel belastinginkomste wat afgestaan word om die inperkingskoste te delg, en moet nou lenings aangaan wat uiteindelik deur belastingbetalers terugbetaal moet word. “Dit lei net tot nog groter Covid-19-verwante korrupsie.”

Onafhanklike aktuarisse se navorsing steun ook die afskaffing, sê Buys. “Ons enigste keuse is nou om die regering op terme te plaas om die afsondering af te skaf. Hulle het die land grootliks ‘toegesluit’, en weet klaarblyklik nie waar die sleutel is om ons weer oop te sluit nie.

“Hulle klou waarskynlik net daaraan vas omdat miljoene van hul kiesers ekstra toelaes kry, talle salarisse ontvang sonder om te werk en om die sogenaamde ‘wit ekonomie’ op die koste van belastingbetalers te transformeer. Die ANC wil skynbaar ook nie sy nuutgevonde bykans totalitêre magte laat los nie. Niks is so permanent as tydelike noodmagte vir ʼn regering nie,” het Buys gesê.

“Ons moet beweeg van staatsdwang na selfverantwoordelikheid. Beskerm die kwesbares, handhaaf gesondheidsreëls, maar sluit die land oop.”

Die afplatting is ʼn natuurlike proses, en het niks te doen met die voortgesette vlak 3-afsonderingsmaatreëls nie. Buys meen dit is roekeloos onverantwoordelik om ʼn landwye staat van inperking te behou terwyl die verspreiding van die koronavirus, soos in die res van die wêreld, uiters streeksgebonde is.

Suid-Afrika kan nie langer die rekening vir hierdie behandeling betaal nie. “Die volgehoue pogings van die regering om ʼn lomp nasionale inperking eerder as ʼn slim streeksgebonde inperking te volg het katastrofiese gevolge gehad. Daar is weinig bewyse dat dit enigsins verdere voordele verskaf het ná die eerste drie weke – tog is Suid-Afrika nou op dag 130 van ʼn staat van inperking wat geen gesondheidsvoordele meer bied nie, geen kurwe afplat nie – net welvaart vernietig. Hierdie siening word onder meer deur die groep Panda ondersteun.”

Foto: SAPD/Facebook

Volgens Buys is die regering besig om ons kleinkinders se belasting te verkwis. “Mkhize se onlangse aankondiging dat die meeste van die veldhospitale wat opgerig is tans nog leeg staan, is ʼn aanduiding dat Suid-Afrika wel die vermoë het om die aantal pasiënte wat weens die virus in die hospitaal opgeneem word, te kan hanteer, selfs al kom daar ʼn tweede vlaag, maar dat die land nie meer die rekening van die staat van inperking kan bekostig nie.”

Intussen word die lenings en geld wat wel beskikbaar gemaak is om die virus te bekamp op groot skaal deur ANC-kaders gekaap terwyl die privaat sektor lamgelê word deur sinnelose inperkingsmaatreëls wat hulle van hul eie en hul kinders se toekoms beroof. Buys meen die afskaffing van beperkende maatreëls op die taxibedryf was tekenend van die ontoepaslikheid van die staat van inperking op Suid-Afrika.

“Deur bloot veiligheidsmaatreëls in alledaagse handel en in die werksplek te volg en kwesbare groepe te beskerm, kan die gesondheidsrisiko van Covid-19 steeds bestuur word, sonder dat ganse industrieë deur regulasies vernietig hoef te word. In die res van die wêreld is getoon dat maskers dra en hande was wel daarin slaag om die virus se verspreiding te vertraag. Daar is geen nodigheid vir ʼn verbod op tabak, drank of ʼn aandklokreël nie – dit is ʼn regering wat uit onbevoegdheid vasklou aan die illusie dat sy bestuur ʼn verskil aan die virus se trajek gemaak het.”

Buys sê die Solidariteit Beweging se boodskap is duidelik. “Maak die land oop en hou op om mense soos kinders te hanteer. Al wat erger is as die publiek wat hierdie krisis self bestuur, is die regering wat aanhou poog om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

Praat gaan jou niks help nie broer jy is besig met kommuniste. Ons blankes wil nie standpunt in neem nie ons het nie ore nie so hou op moun.

Karel Lourens ·

Jip,dit is lankal duidelik dat covid die ideale geleentheid geskep het vir die ANC om hul manifes behoorlik toe te pas………..dit het nou niks meer te doen met lewens red nie.Hoofdoel is nou eenvoudig om die land leeg te dra en hul koffers vol te maak.

Mariana ·

Voorspoed met dit. Die regering, maw Dlamini-Zuma en kie, sal dit liewer beveg as opskort. Hulle lugleegtes in die brein is te groot om die omvang van skade reeds aangerig te sien.

Christina ·

Dis tyd en geld mors, want die regslui is netso kurrup en dan moet daar weer apél aangeteken word tot by arbeidshof.

Kanjynoumeer ·

Mnr Buys, ek het baie respek vir jou.
Wat jy voorstel is n stap in die regte rigting.
Maak jou stem dik in Afrikaans en ook in Engels.
Ja, dit is vir hulle lekker om ondemokraties te regeer en ons minderheid moet dit net aanvaar.
Moet ons dit net aanvaar!?
Dit is tyd dat ons ophou met ons slagoffer mentaliteit en ferm staan op ons standpunte!

Jaco ·

Wat gaan ‘n organisasie wat, volgens die ANC, gedomineerde word deur wit rassistiese Afrikaanssprekende mans vol wit monopoliekapitaal, nou met regsaksie teen die ANC regkry?
Gee eerder geld uit op hofsake teen regstellende aksie. Dís ‘n ding wat nou al kleurlinge en Indiërs ook negatief raak. Met daardie 2 groepe saam sal Solidariteit veel meer bereik.

Chris ·

Moontlik is die geheime realiteit van alle sinnelose besluite en algemene wanopvattings iewers gesetel in ‘n kultuur, wat te doen het met die besluit dat, handel met sigarette, nou beheer en verbied word en om in die besit van en die rook van dagga nou terselfde tyd te wettig,

Francois Le Cochon ·

In New Zealand is dieselfde inperkings, en daar is dan nie ‘n ANC nie.

Mariska ·

Pieter, jy lewer elke dag kommentaar, en elke dag is dit dieselfde: blankes moet standpunt inneem. Maar jy sê nooit wat presies blankes moet doen nie (asof blankes die enigste groep is wat geraak word). Wat doen JY om standpunt in te neem, Pieter? Wat presies moet ons dan nou doen? Jy kla dat ons net kommentaar lewer, maar jy doen presies dieselfde. So neem jy eerste standpunt in, Pieter, laat ons kan sien hoe ons moet maak.

Jones ·

Hoop hierdie verslag is net so aan kopdoek en gespuis gestuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.