Solidariteit Beweging gaan verder in krag van gemeenskapsmedia belê

Toekomsberaad-Kallie-Kriel

Kallie Kriel van AfriForum praat oor die beleggings wat in gemeenskapmedia gemaak moet word. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging het vandag, as deel van die Beweging se 2020 Helpmekaarplan, aangekondig dat hy sy strategie ter bevordering van Afrikaanse gemeenskapsmedia verder gaan uitbrei. Dit behels verskeie opwindende projekte, insluitend die generering van Afrikaanse inhoud op Wikipedia.

Die 2020 Helpmekaarplan word vandag by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad bekendgestel. Meer as 2700 mense woon die beraad in die Heartfelt Arena in Centurion by.

Flip Buys, hoof van die Solidariteit Beweging, het tydens die beraad gesê dit is noodsaaklik vir gemeenskaporganisasies soos die Solidariteit Beweging om by gemeenskapsmedia betrokke te wees. “Ons rol is om te verhoed dat die toekoms van Afrikaanse media nie net aan die politiesgedrewe openbare uitsaaiers en die winsgedrewe privaatsektor oorgelaat word nie. Ons ondersteun vryheid van uitdrukking en vryheid van die media as ʼn hoeksteen van die gesonde funksionering van enige gemeenskap,” sê Buys.

Die Solidariteit Beweging is reeds by verskeie gemeenskapmedia-instellings betrokke. Dit sluit onder meer Maroela Media, ʼn internet nuusdiens wat nuus en inligting oor ʼn groot verskeidenheid kwessies in die Afrikaanse leefwêreld publiseer, in.

Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, verduidelik dat Maroela Media ʼn snelgroeiende Afrikaanse kuierplek op die internet is. “Maroela Media se groei is indrukwekkend en ons is reeds die grootse gratis Afrikaanse nuusdiens in die land. Maroela het in 2014 ongeveer 367 000 unieke besoekers per maand gehad. Ons beplan om in 2015 die kerf van 1 miljoen verby te steek en binne vyf jaar 2 miljoen unieke besoekers per maand te hê,” sê Lombaard.

Lombaard verduidelik dat Maroela ook talle projekte wat Afrikaans bevorder in die pyplyn het. “Een van die grootste projekte wat in die volgende vyf jaar uitgerol gaan word, is Afrikaanse inhoud op Wikipedia,” sê Lombaard.

Die Solidariteit Beweging het ook reeds ʼn impak op Afrikaanse gemeenskapsradio gemaak en is onder meer vennoot van die geliefde Afrikaanse gemeenskapsradiostasie Radio Pretoria. Laasgenoemde het onlangs ʼn nuwe baadjie aangetrek en staan sedert vanjaar amptelik as Pretoria FM bekend.

Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, verduidelik dat die stasie die afgelope twee jaar deur ’n omvattende verbeteringsprojek uitgebou is tot die grootste Afrikaanse gemeenskapsradiodiens in die land. “Benewens die feit dat Pretoria FM nou ook op die internet en DSTV uitsaai, is agt herleistasies vanjaar onder die Pretoria FM-vaandel as selfstandige gemeenskapradiodienste gelisensieer. Daar word beplan om in die volgende vyf jaar Pretoria FM se luisteraars na 500 000 op te stoot,” sê Spies.

Benewens die Solidariteit Beweging se betrokkenheid by Afrikaanse gemeenskapsmedia, beskik die Beweging noonop oor sy eie gevestigde interne mediakanale wat in die volgende vyf jaar net verder uitgebou gaan word. Dit sluit in:

  • Die Solidariteit Tydskrif wat tans ʼn oplaag van 135 000 het;
  • Die weeklikse elektroniese nuusbrief, Soldeer, wat 67 500 intekenare het;
  • Die Solidariteit Wêreld wat ʼn omvattende webdiens bied, spesifiek om mense te help om ʼn goeie werk te kry, te behou en daarin te vorder;
  • AfriForum se Forum Tydskrif wat kwartaalliks aan 140 000 mense gepos word;
  • AfriForum se Forum Nuus – ʼn eie, unieke platform waardeur daagliks met lede gekommunikeer word;
  • Forum Films – ʼn nuwe inisiatief in die AfriForum-stal. Dit beplan om in die volgende vyf jaar dokumentêre rolprente, kort rolprente en vollengte rolprente te vervaardig;
  • Die Solidariteit Beweging het boonop ʼn reuse teenwoordigheid op verskeie sosialemediaplatforms. Daar word beplan om dit drasties verder uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fanie ·

Solidariteit doen, verrig en bring meer goed in plek as wat ons regering doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.