Solidariteit Beweging in snelrat vir nuwe jaar

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Die Solidariteit Beweging het gesê sy strategie, om praktiese oplossings deur ʼn moderne “Helpmekaarbeweging” te skep, gaan in 2015 in snelrat gesit word.

“Hoewel ons deeglik bewus is van die landsvraagstukke wat deur die swak regering veroorsaak word, kyk ons nie daarteen vas nie, maar soek eerder na werkbare antwoorde,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Die rede hiervoor is dat ʼn probleemgerigte benadering mense verlam, terwyl ʼn oplossingsgerigte houding die energie losmaak wat nodig is om die probleme te bowe te kom. Daarom sien ons 2015 as ʼn jaar vol nuwe geleenthede wat ongeduldig wag om benut te word.”

Volgens Buys is die Solidariteit Beweging se uitgangspunt dat dit nie help om op die toekoms of die regering te wag nie, maar dat mense daadwerklik betrokke moet raak om saam aan oplossings te werk. “Daarom is ons oorhoofse tema vir 2015 om deur sterk selfdoeninstellings ons gemeenskap op al meer gebiede selfstandig te maak. Staatsafhanklikheid gaan ons nêrens bring nie, die Afrikanergemeenskap sal baie meer bereik deur self verantwoordelikheid te neem vir hulle toekoms.”

Die Beweging se praktiese vyftienpuntplan vir 2015 sluit die volgende projekte in:

• Die viering van Afrikaans se amptelike erkenning in 1925, 90 jaar gelede;
• Voortgaan met die uitbou van Akademia tot ʼn landswye privaat universiteit;
• Die vergroting van ons studiefondse om meer as ʼn duisend jongmense te help studeer;
• Die beskerming van die vakbond Solidariteit se lede in die werksplek teen onbillike rassediskriminasie;
• Die beskerming van die Regsorde, Burgerregte en die gemeenskap deur AfriForum. AfriForum sal aanhou veg teen korrupsie, swak plaaslike regering en teen die ondoeltreffende staatsdiens;
• Die verbetering van persoonlike veiligheid deur AfriForum-strukture uit te brei;
• Die vergroting van Solidariteit Helpende Hand se Skole Ondersteuningsentrum om Afrikaanse skole landswyd te help met noodvoeding, skryfbehoeftes en steundienste;
• Die bevordering van Afrikaanse gemeenskapsmedia soos Maroela Media en gemeenskapsradiostasies;
• Die bevordering van die Afrikaanse Taal, Kultuur en geskiedenis deur die FAK;
• Die uitbreiding van Sol-Tech as die enigste Afrikaanse tegniese kollege;
• Die landswye vestiging van Bewegingstrukture om gemeenskapsdienste te lewer;
• Ons mik om hierdie jaar die 300 000 ledetal in die totale Solidariteit Beweging te oorskry;
• Skakeling met die regering en regerende party oor knelpunte;
• Die mobilisering van Afrikaanse koopkrag ter bevordering van gemeenskapsbelang;
• Buitelandse steunwerwing vir plaaslike knelpunte soos rassediskriminasie, plaasveiligheid en kulturele vryheid.

Buys het gesê die Solidariteit Beweging glo dat hy met ʼn benadering van skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes, die toekoms selfstandig en met selfvertroue tegemoet kan gaan. “Die feit is dat die verlede nie gaan terugkom nie, die hede nie gaan weggaan nie, en dat die toekoms nie op hom laat wag nie. Daarom moedig ons mense aan om aktief betrokke te raak by die bou van die toekoms wat hulle wil hê,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie ·

Dankie en sterkte Solidariteit en Afriforum. Staan sterk en mag julle ledetal groei. Harde werk en eerlikheid word altyd beloon.

Evert Bouwer ·

.Voorspoed en seën met jul voornemens vir 2015,
ons het jul nodig en sal jul altyd ondersteun, wees sterk.

Johannes Blom ·

Fantasties. Eendrag maak mag. Almal moet net aansluit asb. Emigrasie is mos nie vir ons almal n opsie of n keuse nie. Dankie Solidariteit/Afriforum

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.