Solidariteit Beweging kondig plan aan om Afrikaans as universiteitstaal te bevorder

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Die Solidariteit Beweging het ’n twaalfpuntplan bekendgestel om Afrikaans as universiteitstaal te bevorder.

Die doel van die plan is om Afrikaanssprekendes se grondwetlike reg op toegang tot onderrig en universiteitsopleiding in Afrikaans te beskerm.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sal die plan met ander Afrikaanse organisasies bespreek word om steun daarvoor oor ’n breë front te werf. Die korttermynfokus van die plan is om die groeiende krisis by spesifiek die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus aan te pak.

Die plan kan soos volg kortliks in twaalf punte opgesom word:

1. Studente
Die ondersteuning van Afrikaanse studente op die Potchefstroomkampus gaan ’n hoë prioriteit geniet om te verseker dat hulle nie politieke slaansakke word nie. Ons kan nie toelaat dat die minister en universiteitsbestuur onder die dekmantel van gepolitiseerde terme soos “transformasie” teen hulle diskrimineer op grond van hul taal, ras en afkoms nie. Daarbenewens gaan die Solidariteit Beweging alles in sy vermoë doen om sy finansiële bystand aan verdienstelike en behoeftige Afrikaanse studente te vergroot.

2. Personeel
Dit het die afgelope jare duidelik geword dat politieke doelwitte soos rassekwotas vir die regering belangriker geword het as opleiding van hoë gehalte en akademiese meriete. Daar is baie groter druk vir die universiteit se personeel om verteenwoordigend van die breë bevolking te word as vir die universiteit om opleiding van goeie gehalte te bied sodat die land se werksmag meer verteenwoordigend van die bevolking kan word. Daarom gaan Solidariteit die personeel begin organiseer om te sorg dat hulle nie die teikens van onbillike diskriminasie word nie.

3. Universiteitsraad
Die Solidariteit Beweging gaan met die universiteitsraad in gesprek tree oor die beskerming van Afrikaans en Afrikaanse studente op die Potchefstroomkampus. Ons verwag dat die raad ’n sterk standpunt moet inneem teen politieke inmenging en die visekanselier se oorskryding van sy magte deur sy mandaatlose beleidsuitsprake.

4. Oudstudente
’n Veldtog gaan van stapel gestuur word om steun vir die beskerming van die grondwetlike regte van Afrikaanssprekendes onder oudstudente en konvokasielede te werf.

5. Skoolkinders en ouers
Skoolkinders is die toekomstige studente, en veldtogte om die belangrikheid van moedertaalonderrig te beklemtoon gaan van stapel gestuur word. Die nuutste navorsing hieroor gaan aan skole en ouers beskikbaar gestel word.

6. Regsaksies
Dit is duidelik dat die minister se kommunistiese ideologie swaarder weeg as grondwetlike waardes, opvoedkundige beginsels en die onafhanklikheid van universiteite. Daarom het die Solidariteit Beweging reeds aan senior regslui opdrag gegee om voorbereidings te tref vir moontlike onbehoorlike politieke inmenging deur die ministerie.

7. Openbare steunwerwing
’n Inligtingsveldtog gaan van stapel gestuur word om Afrikaanssprekendes bewus te maak van hulle grondwetlike regte en die gevolge van die huidige politieke rigting waarin die nuwe universiteitsbestuur wil beweeg.

8. Afrikaanse organisasies
Dit is noodsaaklik dat die breë Afrikaanse gemeenskap betrek word by ’n veldtog om Afrikaans op universiteitsvlak te beskerm. Die gevaar wat rasseteikens ter ondersteuning van die bereiking van sogenaamde demografiese verteenwoordigendheid vir wit en bruin Afrikaanssprekendes se toegang tot universiteitsopleiding inhou, moet uitgelig word.

9. Politieke skikking
Die moontlikheid van ’n politieke skikking om die voortdurende druk op Afrikaanse universiteitsopleiding te beëindig, moet nagestreef word.

10. Fonds vir Afrikaanse universiteite
Dit is nodig dat Afrikaanssprekendes besef dat daar ’n wesenlike moontlikheid is dat die einde van staatsgesteunde Afrikaanse universiteitsopleiding aangebreek het. Dit sluit die drastiese beperking van toegang tot universiteitsopleiding vir wit en bruin studente in. Die stigting van ’n fonds vir Afrikaanse universiteite word in die vooruitsig gestel met die doel om blywende toegang tot universiteitsopleiding vir Afrikaanse studente te verseker.

11. Akademia
’n Plan om Akademia, die Solidariteit Beweging se geregistreerde instelling wat reeds opleiding op universiteitsvlak aanbied, vinniger te vergroot, gaan eersdaags bekendgestel word. Akademia het reeds sewe landswye opleidingsentrums wat nauurs onder meer ’n BCom-graad met behulp van die nuutste afstandonderrigtegnologie aanbied. Ons droom is om Akademia uiteindelik tot ’n Afrikaanse Harvard, wat ook ’n privaat universiteit is, uit te bou.

12. Mobiliseer koopkrag deur Virseker
Om hierdie droom te verwesenlik gaan miljoene kos. Die Solidariteit Beweging het reeds besluit om Akademia self tot ’n universiteit van topgehalte uit te bou, maar ons sal dit baie vinniger kan doen as ons meer vennote en veral geldelike steun kry. Daarom doen ons ’n beroep op alle Afrikaanssprekendes om die Virseker-korttermynprojek te ondersteun. Virseker skenk ’n deel van alle premies aan die Virseker Trust, wat reeds sowat R10 miljoen vir Afrikaanse onderwys en opleiding bygedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Solidariteit, hoekom net op die PU? Die rassis Jansen is besig om presies dieselfde pad by die UOVS te loop. Hierdie proses van taal, ras en afkoms dikriminasie móét ook by die UOVS gestop word asseblief!

Deon ·

Solidariteit, hoekom net by die PU? Die rassis Jansen is besig om presies dieselfde pad by die UOVS te loop. Hierdie proses van taal, ras en afkoms dikriminasie móét ook by die UOVS gestop word asseblief!

Santerien Minne ·

Sal graag wil weet hoe ons as oud-Pukke met iemand kan kontak maak om deel te neem aan aksie teen die diskriminasie op grond van Afrikaans. Baie dankie Solidariteit, ons waardeer julle besorgdheid en is erg verontwaardig oor die verkeerde aannames oor ons geliefde alma mater – politiek hoort nie tuis in so ‘n omgewing nie, akademiese uitnemendheid is waaroor dit moet gaan. Dis so ironies – oor baie jare heen het politieke kleinlikhede nog nooit ‘n rol op die PUK gespeel nie, in teenstelling met ander instansies, en nou word al die goeie werk wat oor dekades heen deur werklike groot geeste gedoen is, deur ‘n paar onnadenkende kortsigtiges bedreig, wat ‘n SKANDE!!

Lojale oud-Puk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.