Solidariteit Beweging Toekomsberaad: Skep jou eie toekoms

Flip-Buys-2015-September

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Die Solidariteit Beweging hou op Saterdag 10 Oktober 2015 ʼn Toekomsberaad waar die Beweging se vyfjaar-toekomsplanne bekendgemaak sal word. Inge Strydom het met Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, oor dié geskiedkundige beraad gesels.

Waarom moet ek as individu die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad bywoon?

Die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad volg op die Krisisberaad, wat in Mei vanjaar plaasgevind het. Ons gaan nou oplossings vir die probleme wat by die Krisisberaad geïdentifiseer is, aankondig en bespreek. Die kern van die beraad is om planne bekend te maak waarmee ons saam ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika kan skep.

Wat maak Solidariteit se toekomsplanne anders as dié van byvoorbeeld politieke partye?

Die vraag wat ek die meeste teëkom, is “Watter toekoms het ons nog in Suid-Afrika?” Die antwoord wat ek die meeste gee, is: “Die toekoms wat ons self skep.” Die rede is eenvoudig: Ons toekoms is té belangrik om dit aan die regering oor te laat. Kies dus maar self – die toekoms wat die regering vir jou gee, of die toekoms wat ons sélf kan skep.

Die planne wat ons by die beraad gaan aankondig, is nie bloot ʼn wenslys nie – dit is ʼn uitvoerbare werkslys. Die sukses van die planne hang boonop nie van die staat af nie. Die groot verskil is dus dat die Solidariteit Beweging se doelwitte vir 2020 onafhanklik van die staat is – ons aanvaar dus sélf verantwoordelikheid vir ons toekoms en moedig ons lede aan om dieselfde te doen. Boonop sal elkeen van hierdie planne binne ʼn tydperk van vyf jaar uitgevoer word.

Hoe kan ek as individu betrokke raak?

Ons toekomsplan behels verskeie aksieplanne op verskeie vlakke van die samelewing. Individue kan self kies by watter planne hulle betrokke wil raak, of dit nou by die bevordering van gemeenskapsveiligheid is, of by erfenisbewaring, onderwys, omgewingsake en talle ander gebiede. Meer besonderhede oor die onderskeie aksieplanne en hoe individue daarby kan inskakel, sal by die beraad aangekondig word.

Bespreek nou jou sitplek! Besoek www.toekomsberaad.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bert ·

Ek sal graag wil sien dat oorsese kenners ook betrek word by Solidariteit se beplanning. Nie net op praktiese vlak nie maar ook op ‘n langer termyn, strategiese vlak. Ek verstaan dat iemand soos Samuel Huntington op ‘n stadium die NP van advies voorsien het; miskien is daar andere wat nou ‘n bydrae kan lewer.

Johannes Meintjes ·

Omrede regerings internasionaal aan die denke in Nuwe Orde meedoen (soos bv. hier uit onlangse VN toesprake ontleed http://www.youtube.com/watch?v5r0L-0us5ek) , word wetgewing en regerings al meer manipulerend, ten koste van minderheidsregte. Minderhede en “regses” word gebrandmerk as nadelig vir een nuwe orde. Dit word dan krities nodig vir regdenkendes en Godvresendes in die doodsnikke, om in rentmeesterskap op te tree en alternatiewe strukture te vestig. My bede vir die motiewe en werkwyses van die beoogde vergadering op 10 Oktober 2015.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.