Solidariteit bring aansoek om SAL in sakeredding te plaas

Solidariteit bestuurshoof dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

In ʼn potensieel rigtinggewende verwikkeling rakende die voortslepende SAL-staking het die vakbond Solidariteit vanoggend hofstukke aan die SAL, Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings en Tito Mboweni as minister van finansies beteken waarin die hof gevra word om die SAL in sakeredding te plaas.

Die blote indien van die aansoek gaan ʼn groot invloed hê op die toekoms van die lugredery en die voortsetting van die huidige staking by SAL, want dit beteken die hof word gevra om ʼn sakereddingspraktisyn met omvattende magte aan te stel om die lugredery te red.

As sakeredding geaktiveer word, kan die betrokke ministers en die SAL nie voldoen aan die eise van die stakers nie, al wil hulle ook, want finansiële ooreenkomste sal slegs deur die sakereddingsprakisyn aangegaan kan word.

Sakeredding vereis ook kragtens internasionale lugvaartreëls dat die SAL ʼn groot bedrag as waarborg verskaf aan internasionale vliegkaartjie-owerhede. Dit kan ernstige geldelike gevolge hê vir die werking van die SAL, wat nie oor die geld beskik om die waarborg te verskaf nie, en dit bitter moeilik gaan vind om daardie geld by die regering te kry.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die aansoek om die SAL in sakeredding te plaas, ingedien ná rype oorweging en nadat alle ander weë uitgeput is.

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

“Solidariteit het verlede jaar al beplan om ʼn sakereddingsaansoek in te dien. Ná onderhandeling en ʼn ooreenkoms met Vuyani Jarana, die voormalige uitvoerende hoof van die SAL, is besluit om nie met die aansoek voort te gaan nie. Hy is egter nou weg en volgens Solidariteit kon die ooreenkomste wat bereik is, nie ingestel word nie. In Jarana se bedankingsbrief het hy sy frustrasie met die aandeelhouer uitgespreek.

“Intussen het Solidariteit ook samesprekings met die Raad van die SAL, die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en amptenare van die departement gevoer. Solidariteit is volkome daartoe verbind om ʼn oplossing vir die SAL te vind. Ons het dus met gesprekke die tweede myl saamgeloop in die soeke na oplossings,” aldus Hermann.

“Ons besef dat ʼn sakereddingsaansoek ingrypend is en daarom het ons herhalende gesprekke gevoer.” Hermann sê sakeredding is geen SAL-towerstaffie nie. “Inteendeel, dit dryf die krisis op ʼn spits met geen waarborg dat daar ʼn oplossing is nie. Ons weet egter die huidige pad is verby die punt van ʼn oplossing. Die huidige trajek sal ʼn algehele ineenstorting van alle bedrywighede binne die SAL beteken. Sakeredding gee ons ʼn kans om daardie gedeeltes van die SAL wat wel funksioneel en doeltreffend is, te red,” was Hermann se verduideliking.

Solidariteit voer aan dat sakeredding noodsaaklik is ter wille van die sekerheid van sy lede by die SAL, asook belastingbetalers in Suid-Afrika.

“Die SAL, wat die afgelope twee jaar nie in staat was om finansiële state in te dien nie, is op pad na likwidasie met enorme gevolge vir werknemers, die Suid-Afrikaanse ekonomie en die belastingbetalers. Altesame 11 000 werkers gaan hul werk verloor en ʼn skuldlas van miljarde rande sal deur die staatskas geabsorbeer moet word indien daar nie ʼn radikale ingryping is nie,” sê Hermann.

Solidariteit doen die stap as deel van sy veldtog teen die verkwisting van belastinggeld, waarvan die SAL een van die land se grootste oortreders is.

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het die SAL se 2017- finansiële state ʼn verlies van R5,5 miljard getoon.

“Dit beteken dat meer as R15 miljoen per dag verlore gegaan het. Elke uur verloor ons R635 730 en elke minuut R10 595,51. Sedert 2017 is geen nuwe state nog gepubliseer nie en daar kan aanvaar word dat die situasie net erger word. Elke dag wat verbygaan, moet dus as ʼn krisis geag word,” aldus Mulder.

Die vakbond tree in die aansoek namens sy lede in die SAL-groep op, maar ook ten behoewe van sy lede in openbare ondernemings en in alle sektore in die Suid-Afrikaanse ekonomie en elke Suid-Afrikaner wat belasting betaal. Volgens die Maatskappywet mag openbare ondernemings in sakeredding geplaas word en vakbonde mag so ʼn aansoek indien, het Hermann uitgewys.

“Suid-Afrikaners kan nie toelaat dat hul belastinggeld voortdurend misbruik word om sukkelende, ondoeltreffende staatsinstellings te subsidieer nie,” meen Hermann.

SAL-werkers staak vir groter salarisse (November 2019) (Foto: AP Photo/Themba Hadebe)

Solidariteit wil hê dat belastinggeld wat vir dienste vir die armstes van die armes gebruik kan word, glad nie langer aangewend word om ʼn sukkelende lugredery te subsidieer wat net toeganklik is vir ʼn klein groepie van die bevolking wat van die vervoermiddel gebruik maak nie.

Solidariteit sê dat die reeds bedenklike situasie binne die SAL ál verder en vinniger verswak het met die kennisgewing van afleggings, die kontantverlies van die staking en veral ook die verlies aan vertroue in die SAL wat alles verander het. Daar is ongelukkig nie meer tyd vir uitgerekte prosesse nie. ’n Radikale ingryping deur ʼn derde party is nodig.

“ʼn Sakereddingsaansoek is in belang van die huidige aandeelhouer, dit wil sê die staat. Die regte besluit sou wees as die huidige aandeelhouer sélf so ʼn aansoek sou indien. Ons wil ʼn beroep op die huidige aandeelhouer doen om nie die sakereddingsaansoek teen te staan nie, maar eerder nóú met die sakereddingspraktisyn saam te werk om ʼn oplossing vir die huidige krisis te kry,” het Hermann verduidelik.

Hermann benadruk dat die aard van sakeredding op sigself stabiliteit in ʼn onderneming kan bring.

“Sakeredding is nie likwidasie nie. Dit is ʼn poging om ʼn oplossing voor en pleks van likwidasie te kry. Die blote uitreiking en betekening van vandag se sakereddingsaansoek stuit alle moontlike regsprosesse van krediteure om die SAL te likwideer.”

Volgens die SAL se mees onlangs beskikbare finansiële state, wat in 2017 bekend gemaak is, skuld die maatskappy R33 miljard. Die SAL benodig volgens sy eie voorlegging aan die parlement ʼn verdere R21 miljard om die lugredery om te draai en tydelik in die lug te hou. Die opgehoopte verlies van die SAL het gegroei van R16 miljard in 2013 tot R31 miljard in 2019.

“Die SAL is dus hopeloos insolvent. Die laste van die maatskappy oorskry die bates verreweg en die situasie versleg jaarliks. Ander staatskuld wat net toeneem en krisisgebiede, soos Eskom wat ʼn groter prioriteit is, vererger die krisis vir die SAL en bring ineenstorting en algehele werkverlies net nader,” het Hermann gesê.

Volgens Solidariteit se hofstukke wat honderde bladsye beslaan, is die SAL in groot finansiële nood, maar die maatskappy kan deur ingryping van buite gered word.

Die vakbond het ʼn omvattende reddingsplan wat deur ʼn span voorste lugvaartkenners in Suid-Afrika en internasionaal opgestel is, by sy hofstukke ingesluit. Die kenners wat gehelp het met die ontwikkeling van die plan sluit in die internasionale lugvaartkenner Guy Leitch asook vorige uitvoerende hoofde van die SAL. Onderhoude is gevoer met verskeie ander uitvoerende hoofde van lugrederye en gevallestudies is uit ʼn PhD-proefskrif oor die Afrika-lugvaartbedryf gebruik.

Volgens Hermann is Solidariteit realisties oor die moontlikhede wat met sakeredding gepaardgaan.

“Dit is nie die perfekte oplossing nie, maar die SAL se omstandighede is beslis ook nie perfek nie. Om nou te wag dat die SAL self perfek omdraai, gegewe die geskiedenis, is onverantwoordelik en nie gewortel in die werklikheid dat hierdie onderneming op pad is om in duie te stort nie. Sakeredding bied die geleentheid om ʼn noodlanding in plaas van ʼn ramp teweeg te bring.”

Die indien van die aansoek gaan ʼn groot invloed hê op die toekoms van die lugredery en die voortsetting van die huidige staking by SAL.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

an ·

BRAVO Solidariteit!

Uiteindelik iemand met ruggraat wat die SAL ramp gaan stop.

Sobymykoolkop ·

As ons almal geregtigheid soek en bly is oor die goeie dinge wat solidariteit doen maar net wil aansluit en sodoende nog sterker raak, getalle, geld en goeie bestuur daarvan maak ñ baie groot verskil. Ja ek ondersteun hulle al jare al word hulle nie by my werk erken nie. Gaan GROOT solidariteit.

De Villiers ·

Ek het ń voëltjie hoor fluit dat die SAL, net soos Eskom, met dieselfde probleem sit dat hulle eintlik heeltemal te veel personeel het waaraan onnodig salarisse maandeliks betaal word. Dis mos die ANC se stilswyende manier van werkskepping, maar sal dit nie hardop erken of iets daaraan doen nie, al werk dit teenproduktief. Kyk na Eskom wat steeds 40% ooraangestel is waarvan die meeste daarvan R50,000/mnd salaris verdien, en nou al vir jare steeds so aangaan benewens al die teenkanting. Dan wonder hulle waarom dit finansieël so sleg gaan daar.

Meraai ·

Is mos nou Jan van Riebeeck se skuld. Ja en dis Jan van Riebeeck wat hulle weer uit die gemors ook help.
Ongelukkig sal daar moet n paar jobs in die slag bly en die res sal moet werk vir hul pay

Liamari ·

Hierdie is die beste ding wat kan gebeur, ek bid daarvoor. Ek is net bevrees dat Ramaphosa se teenstanders hom gaan verplig om SAL te red plus om werkers se verhogings toe te staan. Hulle sal basies enigiets doen om van hom ontslae te raak, plus ons almal weet hulle dra glad nie die belange van enigiemand anders as die party op die harte nie, en vir dit moet die unies gelukkig gehou word.

André-Chris ·

En, dr Hermann, soos jy elders gesê het, die SAL kan nie reg ‘gestaak of gestaat’ word nie!

Meneer ·

Baie dankie, Solidariteit! Hoop julle kry terugvoer voor 2025!

Johan Pretorius ·

Plaaslike Owerhede het ook heeltemal te veel personeel en baie van daardie personeel is die meeste van die tyd afwesig by die werk met volle salaris.

Stof ·

Sou dit dus veiliger wees om ter wille van die wete dat diens wel gelewer word, tot verdere kennis nie van Jan Smuts gebruik te maak nie, maar dalk Wonderboom if Lanseria?

Antoinette Steymann ·

1. Hoop oorspronklike parte word in vliegtuie gebruik. 2. Hoop ingenieurs is goed opgelei. 3. Hoop goedere verdwyn nie uit tasse wat na bagasieruim gaan nie. ALLES HET ‘N FINANSIËLE UITWERKING OP EKONOMIESE VOORUITGANG.

Lou ·

Ek vlieg lankal net Kulula. Waar is die eerste plek waar enige besigheid spaar as hulle finansieel sukkel? Opleiding en instandhouding. ‘n Swak opgeleide loods met ‘n half onklaar vliegtuig is ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur.

Gemaskerde Sopbeen ·

Verkoop dit aan die “stakers” en hulle unie vir R1. Hulle kan dan AL die mense wat reeds daar is (nie noodwendig werk nie) plus nog ‘n paar se salarisse en voordele betaal……. As mens na hulle gesanik luister klink dit of hulle presies weet HOE om ‘n lugredery suksesvol te bedryf?

JohanR ·

Kan nie verstaan nie. Het die mense nie Menslike Hulpbronne departamente nie? Word in die media aangekondig dat 900 SAL werkers gaan afgele word. Natuurlik sal die choas skep! Daar is stiller maniere om 900 mense af te dank maar dink nie by SAL Menslike Hulpbron departement, is die nodige vaardighede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.