Solidariteit: ‘By pensioengeld trek ons ʼn streep’

(Foto: Frantisek_Krejci/pixabay)

Solidariteit sê hy sal regstappe oorweeg om werkers se pensioene te beskerm en enige poging om sukkelende staatsondernemings met werkers se pensioengeld te finansier, beveg.

Pensioengeld verteenwoordig die rooi lyn waaroor Solidariteit nie sal terugsit en toekyk hoe mense se pensioene geplunder word nie, het die organisasie Vrydag gewaarsku nadat die vakverbond Cosatu in ʼn voorgestelde skuldreddingsplan aan Eskom ʼn reeks ekonomiese ingrypings voorgestel het.

Dit sluit in verhoogde belasting en die misbruik van private sowel as staatspensioen in die vorm van voorgeskrewe bates om die sukkelende kragreus se skuld van R450 miljard te delg.

“Solidariteit vind dit ondenkbaar dat Cosatu sou voorstel dat enige pensioengeld gebruik moet word om Eskom se skuld te delg. Dit is die versinnebeelding van die regerende alliansie se bedoelings wat jou toekoms gebruik om hul lugkastele te bou,” het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, gesê.

connie-mulder-en-flip-buys-tweede-groot-trek

Connie Mulder, hoof van die SNI. (Foto: Reint Dykema)

“Solidariteit sal geen steen onaangeroer laat nie: Pensioenfondse durf nie gebruik word om die regering se mislukte ideologie te befonds nie.”

Ingevolge die Wet op Pensioenfondse en die reëls van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) moet die trustees van pensioenfondse alle redelike stappe doen om te verseker dat die belange van lede ten alle tye beskerm word. Solidariteit sê dit is dus die rol en verantwoordelikheid van die trustees om die aftreefonds te bestuur en toe te sien dat alle besluite geneem word ooreenkomstig die regsreëls wat vir aftreefondse geld. Trustees moet optree in die beste belang van die fonds se lede ten einde te verseker dat hulle die beste opbrengs op hul beleggings kry.

“Pensioengeld is nie net syfers op ʼn balansstaat nie – elke pensioenfonds is ʼn leeftyd se bydraes deur ʼn werker. Dit is absurd en roekeloos om hierdie geld te wil gebruik om die gate toe te stop wat deur die regering se korrupsie en wanbestuur veroorsaak is,” het Mulder gesê.

“Eskom se pensioenfondstrustees het ʼn fidusiêre plig teenoor die werkers en nié teenoor die regering nie. Solidariteit doen ʼn beroep op die trustees om besluite te neem wat in belang van die werkers sal wees, en dat hulle dus die voorstel sal verwerp.”

Hy sê Suid-Afrika het onder die ANC en sy alliansie-vennote die uitgediende ideologie van sentralisering en nasionalisering gevolg en die voorspelbare gevolge daarvan was beurtkrag en korrupsie.

“Om daarop aan te dring dat hierdie mislukte ideologie verder befonds moet word deur gewone burgers se pensioengeld, is soos om te dink ʼn goeie kwaliteit slingervel gaan ʼn vliegtuig afskiet. Die oplossing lê veel eerder in private alternatiewe vir kragopwekking.

“Cosatu is welkom om sy lede se pensioene sonder hulle goedkeuring in Eskom te belê. Solidariteit se lede en hulle pensioene kom eerste. Ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat ons lede se pensioengeld veilig buite die kloue van die staat bewaar word,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

johan ·

Keer dit, kyk waar is Transnet pensioen werkers vandag hulle oorleef glad nie.

Johanncb ·

Bestaande skuld kan nie terugbetaal word nie! Los asseblief ons pensioengeld!

SomeOne ·

het die weermag pensioen fonds nie vir die mislike e-tol oprigting betaal nie ?

Stefan ·

Nouja, as ek so kyk naar die staatswerkers, SAA, eskom se belaglike looneise en stakings terwyl hulle bankrot is, lyk dit vir my nie so slegte idee om die plekke vir nog ‘n rukkie met hul eie pensioengeld aan die gang te hou, eerder as my belasting geld.
Dit behoord hul jaarlikse hoër as inflasie looneise ook te temper.

Louis ·

Praat julle nou van die staats pensioene? As daar nog geen reaksie vanaf die Trustees was. wat hierdie saak aanbetref nie, is dit ‘n uitgemaakte saak dat hulle reeds so besoedel is dat daar aanvaar kan word dat dit die pad is wat die staats se pensioen fonds gaan loop. Watter proaktiewe prosesse is daar wat deur pensioenarisse geneem kan word om hierdie ramp af te weer. Die kommunikasiet van en na hierdie entiteit. is die swakste ooit.

Grassie ·

Solidariteit skrik so ‘n bietjie laat wakker. Die staatsdienspensioefonds het die afgelope paar jaar sleg deurgeloop. Ek is bly dat hulle nou ‘n wakende oog gaan hou

Miskruier ·

Ek ken n oom wat 35jaar pensioen betaal het by Old Mutual Zimbabwe, toe hy Suid Afrika toe kom ,is sy pensioen nog daar en na die insinking het hy niks meer gehad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.