Solidariteit dien kommentaar in oor gesondheidsregulasies

Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit. (Foto: Twitter)

Solidariteit het Sondag sy kommentaar oor die voorgestelde gesondheidsregulasies ingedien en het dit voorts gestel dat indien die regering nie die konsepregulasies ingrypend verander nie, hy tot regstappe sal oorgaan.

Die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies wat die regering in werking wil stel wanneer die ramptoestand einde ten laaste opgehef word, kry die afgelope maand al toenemend die wind van voor. Die publiek het aanvanklik tot 15 April kans gehad om op die voorgestelde nuwe gesondheidsregulasies kommentaar te lewer. Hierdie tydperk is egter tot vandag (24 April) verleng.

Solidariteit sê dat sy kommentaar deur ʼn span navorsers, beroepsgesondheidskenners, mediese kenners en regslui opgestel is. Sy kommentaar dien ook as voorbereiding vir ʼn hofsaak wat hoogs waarskynlik is. Solidariteit se regspan het reeds opdrag gekry om met hofstukke voort te gaan.

“Alle aanduidings is dat die regering met die regulasies wil deurdruk wat ongekende magte aan die minister van gesondheid gee,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Hermann sê na wat Solidariteit verneem, het honderde duisende mense al kommentaar ingedien en die voorgestelde regulasies word oorweldigend verwerp. “Mense is moeg vir ʼn regering wat dinge sentraal wil beheer. Die regering probeer nou om die tydelike magte verbonde aan ʼn ramptoestand permanente magte te maak.”

Volgens Solidariteit is die voorgestelde regulasies onduidelik, onsamehangend en ondoeltreffend.

“Die nuwe regulasies is selfs strenger as die laaste stel hersiene oorgangsregulasies wat ingevolge die Rampbestuurswet uitgevaardig is. Dit is ooglopend dat die meeste van die voorgestelde regulasies bloot gekopieer en geplak is. Dit is die 2020-regulasies wat nou permanent gemaak word en dit is totaal irrasioneel.

“Die regulasies is slordig en oorhaastig opgestel en nie deurdink nie. Die regering weet al vir twee jaar dat die ramptoestand tot ʼn einde gaan kom en dat die pandemie endemies gaan word. Ten spyte daarvan is die regering nie gereed daarvoor nie en wil hy nou gesondheidsregulasies oorhaastig afdwing.”

Hermann lê klem daarop dat die regulasies wat daarvoor voorsiening dat die dra van maskers permanent word, absurd is. “Ons is moeg van maskers en veral daarvan dat die regering dit verplig. Die sleutel is vryheid van keuse: As iemand weens ʼn persoonlike risiko of as ʼn onderneming soos ʼn dokterspraktyk die dra van maskers weens ʼn spesifieke risiko verkies, dan moet hulle dit mag doen. Die regering mag egter nie in ʼn posisie wees waar hy dit aan ons almal voorskryf nie. Een skoen, oftewel masker, kan nie almal pas nie.”

Solidariteit voer aan dat die verlenging van die kommentaartydperk beteken dat honderde duisende kommentare tussen 26 April en 5 Mei bestudeer en in ag geneem sal moet word. Dit is volgens Solidariteit onmoontlik dat die departement hierdie taak in die kort tyd sal kan voltooi op die wyse soos deur wetgewing voorgeskryf word.

“Óf die regering gaan nie klaar wees met die proses nie en die oorgangsregulasies gaan verval, óf die openbare kommentaar was oëverblindery. Wat ook al die geval mag wees, die regering se onbevoegdheid en swak bestuur het ons land weer in onsekerheid gedompel. In die lig van hoe uiters power hierdie hele proses bestuur is, weet ons dat indien die regering wel met die regulasies gaan voortgaan, enorme litigasie voorlê,” sê Hermann. “Dié hofsaak sal bekend staan as die mense van Suid-Afrika versus die regering, en ons verwag dat politieke partye, vakbonde, burgerregteorganisasies, werkgewersorganisasies en ander die regering hof toe gaan sleep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

… en ons het nou eers ‘n entstoffabriek gebou by ons reeds skatryk maskerfabriek. Iemand sal moet aanhou luister en koop of so glo die regering van antie Z. Die minister van gesondheid het daarop gesinspeel dat maskers ‘n wonderlike middel teen verkoues is wat absoluut twak is. Miskien hoop hy dat daar binnekort nog meer geld vir nuwe Mercs vir ministers sal wees wanneer hospitale nie meer nodig is nie en die volk stilbek agter maskers toegesluit bly. Is covid nou ‘n siek ekonomiese plus?

Christine ·

Baie dankie vir Solidariteit en ander wat nog veg teen hierdie onding wat SA se regering beetgekry het. Selfs NAMPO het die pad byster geraak. Liewe genade, wat is aan die gang dat soveel aan hul neuse gelei word deur ons patetiese regering wat nog nooit korrekte besluite kon neem nie.

maruis ·

Vra assbief vir diegene wat die regulasies opgestel om dit een vir een vir julle te kom verduidelik.
Normaal sal dit wees as hulle nie kan nie – want dit word deur hulle kamerade buitelands gedoen.

Papsak ·

Wel as sy dink maskers gaan alles keer is daar nuus vir haar daai vrotlap om jou gesig gee meer siektes ek dra hom glad nie bloeddruk probleme

Swerwer ·

Natuurlik weet die huidige regering absoluut niks van die opstel van deurdagte regulasies nie. Alles tot deusver is opgestel om in die ANC Kader se guns te tel, ongeag hoe dit die res van die landsburgers se lewensbehoeftes gaan beiinvloed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.