Solidariteit dien petisie teen SAL in by parlement

Foto: ANA

Die vakbond Solidariteit het ʼn petisie by die parlement ingedien om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te privatiseer, onder sakeredding te plaas en die uitbetaling van enige verdere belastinggeld as reddingsboei aan die sukkelende lugdiens te staak.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die petisie aan die parlementêre dokumenteklerk oorhandig, soos protokol vereis. Die publiek kan ook betrokke raak deur die tersaaklike openbare petisie op die webwerf www.solidariteit.co.za te onderteken.

Die parlement sal nou die petisie na die staande komitee oor petisies verwys, wat sal besluit hoe om verder daarmee te handel.

Hermann het verduidelik die petisie is ʼn vorm van belastingbetalersprotes, soos in oorsese demokrasieë algemeen aangewend word, aangesien dit belastingbetalers is wat reeds jare lank die SAL se tekorte met reddingsboeie van miljarde rande moet aanvul.

Boonop het die SAL by ʼn onlangse vergadering van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge aangedui dat die lugdiens R5 miljard dadelik, en minstens R21 miljard oor die volgende drie jaar, benodig net om gelyk te breek.

Solidariteit voer in die petisie aan dat die parlement die plig het om toesig te hou oor hoe die regering belastingbetalersgeld bestee, insluitend by staatsbeheerde entiteite soos die SAL.

Een van die stappe waarop die petisie aandring, is die aanvaarding van ʼn parlementêre mosie dat geen verdere uitbetalings as reddingsboeie vir die SAL gemaak word nie.

Dirk Hermann. (Foto: Maroela Media)

Hermann het verduidelik dat Solidariteit belastingpolitiek inspan om die verdere vermorsing van geld by SAL te verseker. Die vakbond kan die petisie indien op grond van die belang van SAL-personeel wat Solidariteit as vakbond verteenwoordig, wat die vakbond die nodige locus standi gee.

Voorts sal die invul van die aanlyn petisie die vakbond voorsien van die mandaat om in die openbare belang op te tree.

Solidariteit het ook vertroulike dokumente vrygestel van ʼn SAL-raadsbesluit om die lugdiens onder sakeredding te plaas tensy ʼn geldelike reddingsboei van die regering ontvang word, en om ʼn strategiese vennoot te vind om die lugdiens se finansiële onderbou te verander.

Connie Mulder van die Solidariteit-navorsingsinstituut het gesê daar is min hoop dat sake by die SAL gaan verbeter sonder regstreekse ingryping. ʼn Omvattende stuk navorsing deur Solidariteit toon dat finansiële reddingsboeie aan die SAL byvoorbeeld tot 117 keer die boukoste by die Zuma-woonkompleks in Nkandla kan bedra, of meer as een en ʼn halwe keer die koste van die Gautengse tolpaaie.

“Boonop subsidieer arm belastingbetalers die rykes wat kan vlieg,” het Mulder gesê.

Solidariteit stel onder meer voor dat die SAL die sakpas-lugdiens Mango gebruik as streeklugdiens en saamwerk met groot lugdienste wat in Europa, die VSA of die Midde-Ooste gevestig is, soos ander lugdienste aan die uithoeke van die Suidelike Halfrond reeds doen.

“As alles presies gedoen gaan word soos tevore, sal niks verander nie. SAL word tans beloon om teen ʼn verlies te werk,” het Mulder uitgewys.

Solidariteit gaan ʼn drieledige program volg om sakeredding vir die SAL te versoek. Eerstens is daar die openbare petisie op die webwerf, tweedens is daar die parlementêre petisie en derdens is daar hofaksie kragtens die Maatskappyewet.

Mulder meen daar sal belanghebbendes wees wat die SAL sal wil koop, mits staatsinmenging ophou en die lugdiens op Afrika-bestemmings fokus.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

verkop dit die anc regering kan nie dit bestuur nie kan nie eers die land bestuur nie

EQV ·

Ek vermoed iemand probeer n april fools joke hier speel met die foto vd vliegtuig..daai is n airbus A380..en die suid afrikaanse lagdiens sal in die lewe nooit ooit ooit so n vliegtuig kan bekostig nie

Jacques ·

Wou ek ook sê. Dit terwyl Emirates 103 van hierdie monsters besit met nog 59 op bestelling. Nie sleg nie vir ‘n redery wat in 1985 begin is met twee gehuurde vliegtuie van Pakistan. Wonder wat doen hulle wat SAL nog moet leer. SAL vandag is ook maar net die gevolg van iets op ‘n skinkbord kry soos ‘n bedorwe kind.

Ella ·

Dit voel vir my of ons van een krisis na n volgende voortsteier in SA.
Hierdie gevoel van “n groot krisis wag” wil nie meer weggaan.

Eish ·

Ek dink daar gaan veel van kom nie synde die burgerregtegroeperings gebrandmerk is as rassisties. Hoe dit ookal sy, die burgerregtegroeperings kan nie daarvan beskuldig word dat hul Gods water oor Gods akker laat loop het nie.

marous ·

Dis doedoe mense in doedoe land wat dink geld word met doedoe drukkers gemaak.

Koos1 ·

Ek het geen probleem as belastinggeld gebruik word vir die SAA nie, SOLANK alle SA burgers wat belasting betaal dan verniet kan vlieg. Ons betaal dan mos met ons belasting geld om daai vlerke in die lug te hou!

Wim Kotze ·

Nee Koos, Hulle behoort ons te betaal om met SAA te vlieg. Sedert die SAL verval het is daardie lugdiens geen diens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.