Solidariteit doen beroep op mense om te stem

Argieffoto

Argieffoto

Die Solidariteit Beweging het ʼn beroep op sy lede, ondersteuners en die breë gemeenskap gedoen om deel te neem aan die algemene verkiesing op 7 Mei 2014. Die Solidariteit Beweging bestaan onder meer uit drie lede-organisasies, naamlik die vakbond Solidariteit, die burgerregte-organisasie AfriForum, en die gemeenskapsorganisasie Helpende Hand. Die drie instellings se 230 000 lede en hul gesinne verteenwoordig sowat 500 000 kiesers.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die beroep om aan die verkiesing deel te neem, kom na ʼn vergadering met die Vryheidsfront Plus. “Die gesprek met die VF Plus vorm deel van ʼn reeks soortgelyke gesprekke met onder andere die DA en AgangSA. In die gesprek met die VF Plus het die Beweging onder andere sy kommer uitgespreek oor die radikalisering van die ANC, die invloed van regstellende aksie op Suid-Afrika asook die algemene stand van die beskerming van minderheidsregte in die land.”

Buys sê die Beweging het tydens sy vergaderings met die onderskeie politieke partye die verwagtinge van sy lede aan die partye oorgedra. “Vir die Beweging se lede is Christelike en gesinswaardes, asook Afrikaners se reg op blywende vryheid, veiligheid, voorspoed, veeltaligheid, die Afrikaanse taal en kulturele vryheid van groot belang. Ons lede streef ook na goeie regering, ʼn produktiewe en goed besoldigde arbeidsmag, ware gelykheid sonder ras as maatstaf, en ʼn gesonde werksverhouding met die regering.

Buys sê die Beweging het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om nie net elke vyf jaar aan ʼn verkiesing deel te neem nie, maar deurentyd aktief by die burgerlike samelewing betrokke te wees. “Die demokrasie word nie net elke vyf jaar bepaal nie, maar deur hoe mense tussen verkiesings aan die burgerlike samelewing deelneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ria Maritz ·

Vir die eerste keer in jare het ek ‘n goeie REDE om te stem … !

Deon ·

As die toekoms van die Afrikaner en Afrikaans vir julle belangrik is, sal daar ook met FRONT NASIONAAL gesprek gevoer moet word.

Ria Maritz ·

Verseker Deon – Selfbeskikking vir ons en die behoud van ons pragtaal – Afrikaans.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.