Solidariteit eis dat Telkom raskriteria vir aflegging laat vaar

telkom_01Die vakbond Solidariteit het Telkom finaal aangemaan om die raskriteria vir afleggings wat Telkom tans gebruik, te laat vaar.

Solidariteit sê Telkom is reeds by verskeie geleenthede tydens die afleggingsproses deur die vakbond gewaarsku dat die kriteria van gelyke indiensneming, wat oorwegings van ras insluit, nie ten opsigte van afleggings gebruik behoort te word nie.

Volgens Marius Croucamp, Solidariteit se hoof vir kommunikasiebedrywe, is dit onregmagtig om oorwegings van ras te gebruik in die proses om te besluit wie afgelê moet word.

“ʼn Aflegging is ʼn ‘geen-fout’-ontslag. Hoe kan enige werkgewer in die besluitnemingsproses oor wie afgelê gaan word ʼn werknemer op grond van sy of haar ras penaliseer? Hierdie kriterium is eenvoudig ingebou in die proses om te verseker dat Telkom se SEB-gradering bevorder word en om te verseker dat die ANC se ideologie van absolute rasseverteenwoordiging bereik word.”

Volgens Croucamp het Telkom hierdie doelwitte reeds by verskeie geleenthede bevestig.

“Telkom hou vol dat dit ʼn operasionele vereiste is om hierdie rasseverteenwoordiging te bereik en sy SEB-gradering te behou. Solidariteit verskil grondig van hierdie standpunt en verwerp enige argumente dat ʼn persoon se ras teen hom of haar gebruik kan word om hierdie doelwitte te bereik.”

Solidariteit sê hy is reeds besig om met sy regspan te konsulteer en hofstukke op te stel om hierdie aspek in die arbeidshof te beveg.

“Hierdie aspek is vir Solidariteit so belangrik dat ons dit tot in die konstitusionele hof sal beveg. Hierdie soort praktyke is ʼn stap terug en sal eenvoudig ʼn deur oopmaak vir werkgewers om demografiese rasseverteenwoordiging en SEB met afleggings te verwesenlik,” sê Croucamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.