Solidariteit eis verduideliking van DKD oor nie-nakoming van hofbevel

Dirk Groenewald (heel links) saam met werknemers van die DKD Foto: Reint Dykema

Dirk Groenewald (heel links) saam met werknemers van die DKD Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het die departement van korrektiewe dienste daarvan beskuldig dat hy voortgaan om aanstellings te maak deur net van die nasionale rassedemografie gebruik te maak ondanks ‘n hofuitspraak en hofbevel wat dit verbied.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het Solidariteit in ʼn skriftelike versoek aan die DKD in die Wes-Kaap geëis dat hy teen Vrydag voor die einde van die dag moet verantwoording doen oor sy onwilligheid om aan ʼn vroeëre hofbevel gehoor te gee.

Die arbeidshof in die Wes-Kaap het vroeër vanjaar ʼn vorige hofbeslissing van die arbeidshof bekragtig en beveel dat dit geïmplementeer word, hangende die afhandeling van die appél wat deur beide partye aangeteken is. Kragtens dié bevel mag die DKD nie alleenlik die nasionale rassedemografie in ag neem tydens die aanstelling en bevordering van werknemers nie, maar moet die streek se demografie ook oorweeg word.

Volgens Groenewald kon die departement, ten spyte van verskeie skriftelike versoeke vanaf Solidariteit, tot op hede nie daarin slaag om te bewys dat hy aan die hofbevel gehoor gee nie. “Trouens, die departement het aanstellings gemaak ten spyte daarvan dat die menslikehulpbronne-departement nie van ’n hersiene regstellendeaksie-plan voorsien is nie, en is hulle tans in die proses om verdere aanstellings te maak,” het hy gesê.

Volgens Groenewald het die arbeidshof reeds in Oktober verlede jaar bevind dat die DKD nie benadeel sal word deur die uitvoering van die bevel nie, terwyl sekere rasgroepe wel benadeel sal word indien die departement met sy onwettige aanstellingspraktyke voortgaan. “Ons is dus van mening dat die departement geen rede het om nie aan die hofbevel gehoor te gee nie en dat hulle aan die hofbeslissing gebonde is,” sê Groenewald.

Groenewald meen Solidariteit sal hom weer tot die arbeidshof wend indien die DKD nie kan bewys dat hy ernstig daaroor is om die vereistes van die hofbevel na te kom nie. “Die DKD se versuim om op ons versoeke te reageer, gegewe die feit dat die regstellendeaksie-plan van die DKD nog nie hersien is nie, is volgens ons grondige rede om te vermoed dat die DKD nie gehoor gee aan die hofbevel nie en dus voortgaan met hulle diskriminerende praktyke,” het Groenewald bygevoeg. “Die enigste alternatief tot ons beskikking is om die hof met ʼn minagtingsaansoek te nader.”

Die DKD se plan bepaal dat bruin Suid-Afrikaners slegs 8,8% van die DKD se werknemers in die Wes-Kaap moet uitmaak, terwyl bruin Suid-Afrikaners sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking in die provinsie uitmaak. Indien die nasionale rassedemografie op die Wes-Kaap toegepas word, sal dit beteken dat daar sowat een miljoen bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rudi ·

Hul gaan maar net belasting geld gebruik om die volgende hofsaak te beveg. Al verloor hul die volgende tien sake gaan dit niks doen. Vir hul gaan dit nie oor regverdigheid nie.

Pieter ·

Dit wys jou watter tipe hoofde aan die stuur van DKD is verontagsaam die wet. Ek wil graag weet hoe gemaak nou waaroor is daar wette kan President Zuma nie intree in die situasie nie as dit enige ander provinsie is dan sal hy dit doen. Die land van melk en heuning is besig om te ontaard is n Zimbabwe die 2de. Pasop die gevaar vure brand hoog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.