Solidariteit en AfriForum wil sportkwotas finaal stopsit

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit en die burgerregte-organisasie AfriForum het vandeesweek omvattende regstappe teen die minister van sport, Fikile Mbalula, se onlangse uitsprake oor kwotas in Suid-Afrikaanse sport bekendgemaak.

Mbalula het in April gesê dat die vier hoofsportfederasies – Atletiek SA, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), Krieket Suid-Afrika en Netbal Suid-Afrika – nie mag gasheer speel vir enige groot internasionale sportgebeurtenisse in Suid-Afrika nie aangesien hulle nog nie hul transformasieteikens bereik het nie.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die drastiese stappe deur min. Mbabula niks anders as onbillike arbeidspraktyk nie. “Die Wet op Diensbillikheid, asook die Wet op Sport en Ontspanning, maak geensins voorsiening vir die regering om by die kies van spelers in sportspanne in te meng nie. Dit is presies waarmee die minister nou besig is en ons as die burgerlike samelewing kan dit eenvoudig nie toelaat nie,” het Hermann gesê.

As deel van sy regsaksie gaan Solidariteit en AfriForum hulle nou tot die arbeidshof wend om die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se transformasieplan, asook die handves oor transformasie in sport waarin die staat se transformasie-teikens vir sport uiteengesit word, ongeldig te laat verklaar. Solidariteit en AfriForum sal voorts klagtes by die Verenigde Nasies (VN), verskeie internasionale sportliggame en die internasionale arbeidsorganisasie (ILO) teen sportkwotas indien. Dit sluit ook ʼn ondersoek na die regstellendeaksie-teikens van elke afsonderlike sportunie in, soos dit in hul onderskeie regstellendeaksie-planne uiteengesit is.

Hermann meen die regstellendeaksie-teikens, soos uiteengesit in die handves op transformasie in sport asook in die strategiese transformasieplan van Saru, is teenstrydig met die Wet op Diensbillikheid. “Nie net neem hierdie planne nie die poel van geskikte kandidate in ag nie, maar daar is ook nie voldoende met spelers of vakbonde oor die teikens in die planne beraadslaag nie. Ons meen voorts dat hierdie planne op ’n kwotastelsel neerkom wat deur die Wet op Diensbillikheid verbied word,” sê Hermann.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dat AfriForum en Solidariteit se klagtes by internasionale sportfederasies op twee sterk bene sal staan, aangesien byna alle internasionale sportliggame se regulasies enige vorm van rassediskriminasie en regeringsinmenging in sport uitdruklik verbied. “Hierdie verbod op rassediskriminasie en regeringsinmenging word ondubbelsinnig verwoord in die Internasionale Olimpiese Komitee se Olimpiese Handves, wat van toepassing op die meeste sportsoorte is, asook in die regulasies van onder meer die Internasionale Rugbyraad, Internasionale Krieketraad en die Internasionale Netbalfederasie,” sê Kriel.

As deel van sy regsaksie het Solidariteit en AfriForum ʼn referendum onder die publiek van stapel gestuur om sodoende sy saak teen kwotas in sport te versterk. Besoek www.neevirkwotas.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

cr ·

Aag nee, nou gaan julle maak dat Rudi Page nie meer plek in die Springbokspan kry nie.

HEVW ·

As die regering dan geheel en al onbevoeg is vanwee onkunde en rassisme dan moet die howe dan maar ingryp en die land regeer. Dankie Solidariteit en Afri Forum!!!

Koos ·

Dankie Afriforum en Solidariteit maar vergeet die rugby en konsentreer eerder op die bou saam projek soos Afrikaanse skole,hospitale,Akademia ens die rugby sal homself uitsorteer gee net kans vir die stadiums om leeg te loop en Suid Afrikaanse mense moet in elk geval begin afsien van hulle rugby afgod daar is baie meer belangrike dinge.

Wern ·

Koos, Jy moet onthou dat die Afrikaners gemanipuleer was en word deur rugby. Hulle sal ongelukkig daaraan bly klou. Kyk byvoorbeeld in vandag se beeld.

Veritas ·

Koos dit gaan hier nie net oor rugby nie. Indien die ANC toegelaat word om hiermee weg te kom, gaan niks hulle keer om dieselfde te doen in ander sfere van die lewe nie. Dink wat gaan gebeur as dit bv toegepas gaan word met toelating tot skole en universiteite.

cobusp ·

Dankie afriforum en solidariteit………..stig nou net n politieke party wat ek glo sterk ondersteuning onder die meerderheid blankes sal kry want julle doen tenminste iets en is suksesvol om die belange van die blankes te bevorder. Sterkte. Sou wou gesien het dat julle meer inligting kan beskikbaar maak oor julle ledegelde en werving

GES ·

Dankie Solidariteit vir julle volharding. Ons gaan die stryd wen maar dit gaan nie maklik wees nie. Dit is tyd dat die verhewe mense (ministers) maar weer op hulle plekke gesit moet word. Hulle is nie so onaantasbaar soos hulle dink nie.

JB ·

Dalk moet hul begin deur SARU aa te vat vir hul RASSISME en blatante verkragting van hul eie statute….daar staan dit uitdruklik dat: “SARU….will foster, regulate and promote the playing of rugby in SA for all persons, irrespective of race, colour, creed or gender….”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.