Die geskilvergadering tussen Solidariteit en Comair het Maandag by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) op ʼn dooiepunt uitgeloop. Die partye het op versoek van die KVBA vir ʼn laaste keer vergader in die hoop dat ʼn loonooreenkoms bereik kan word om sodoende ʼn staking te vermy. Dit volg nadat Solidariteit in Januarie vanjaar ʼn stakingsertifikaat bekom het.
Volgens Johan Botha, hoof van die professionele bedryf by Solidariteit, bly Solidariteit hoopvol dat ʼn loonooreenkoms wel bereik kan word. “Indien ʼn loonooreenkoms egter nie binnekort bereik word nie, kan Solidariteit kennis gee van ʼn staking,” het Botha gesê.
Solidariteit is deel van ʼn samewerkingsooreenkoms met UASA waarvolgens daar kollektief namens lede onderhandel word. Solidariteit, wat die meerderheidsvakbond is, verteenwoordig 210 lede onder die maatskappy se 389 kajuitbemanningslede.
Die lugrederye Kulula en British Airways is by Comair geaffilieer.