Solidariteit en SAL arbeidshof toe oor rassediskriminasie

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit en South African Airways Technical (SAAT), die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), pak mekaar Maandag in die arbeidshof in Johannesburg oor die SAAT se onbillike raspraktyke.

Solidariteit het vroeër ʼn hofbevel bekom waarvolgens die SAAT nie drie senior lugvaarttegnikusposte mag vul nie. Die vakbond het om ʼn dringende interdik aansoek gedoen, maar ʼn skikkingsooreenkoms is op Solidariteit se voorwaardes bereik en is gevolglik ʼn bevel van die hof gemaak.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die feite in die SAAT-saak is feitlik identies aan dié in die Renate Barnard-regstellendeaksiesaak. “Die appèlhof het vroeër bevind dat die meganiese toepassing van rasteikens op ʼn kwotastelsel neerkom,” het Groenewald gesê. “Soos in die Barnard-saak is hier ook poste gereserveer vir swart kandidate in weerwil daarvan dat wit kandidate aansoek gedoen en geskik bevind is vir aanstelling in die geadverteerde poste. Drie wit mans, lede van Solidariteit, wat in dié poste waarneem, is bloot weens hul velkleur oor die hoof gesien en nie vir permanente posisies oorweeg nie. Daarbenewens was daar geen geskikte swart kandidate wat die poste kon vul nie. Daar is openlik aan die kandidate bevestig dat hoewel hulle bevoeg is om in die poste aangestel te word, ʼn besluit geneem is om die poste te reserveer.”

Groenewald sê die SAAT-saak is weereens ʼn voorbeeld van hoe werkgewers onbillike arbeidspraktyke onder die vaandel van regstellende aksie probeer toepas. “Ons is van mening dat werkgewers strydig met wetgewing, eenvoudig ʼn wiskundige benadering tot regstellende aksie volg ongeag die impak op bekwame individue wat ooglopend geskik is vir aanstelling. Die SAAT besef blykbaar nie dat wat hy doen, verkeerd is nie.”

Solidariteit het in 2011 ’n saak van onbillike diskriminasie op grond van ras namens die drie lede na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Die KVBA het die saak in 2012 na die arbeidshof verwys. Solidariteit eis dat die drie lede terugwerkend in die poste aangestel en vergoed word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marieta ·

En miskien is dit nou tyd dat wit Suid Afrikaners hul slapgat houding laat staan en die Suid Afrikaanse lugredery begin boikot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.