Solidariteit gaan DKD in konstitusionele hof pak

Die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Die DKD-werknemers wat deur Solidariteit verteenwoordig word. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit gaan in November vanjaar namens tien van sy lede die departement van korrektiewe dienste (DKD) in die konstitusionele hof pak.

Die vakbond betwis ʼn deel van ʼn vroeëre uitspraak deur die arbeidsappèlhof in dié prominente hofsaak oor die DKD se toepassing van die nasionale rassedemografie.

Die hof het op 10 April vanjaar in Solidariteit se guns beslis deur te bepaal dat die DKD nie slegs die nasionale rassedemografie by die aanstelling en bevordering van werknemers in ag mag neem nie. Die hof het egter steeds nie individuele regshulp aan die applikante toegeken nie en het aangedui dat daar nie ’n duidelike bewys is dat die lede wel in die genoemde poste aangestel sou word indien die DKD die streek se demografie as riglyn gebruik het nie.

“Ons stem nie met die hof se standpunt hieroor saam nie, aangesien ons lede deur ’n paneel as die mees geskikte kandidate vir die betrokke poste geïdentifiseer is. Ons meen ons lede sou wel aangestel gewees het as dit nie vir die DKD se afdwinging van die nasionale rassedemografie was nie. Ons gaan daarom hierdie deel van die uitspraak in die konstitusionele hof betwis,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, gesê.

Groenewald het bygevoeg dat die DKD nie teen enige deel van die arbeidsappèlhof se uitspraak van April appèl aangeteken het nie, maar slegs van voorneme is om Solidariteit se appel teen te staan. “Dit opsigself is ʼn oorwinning vir ons en ons lede deurdat die DKD nou aanvaar het dat hulle nie slegs die nasionale rassedemografie kan gebruik in die opstel van hul regstellende aksie teikens nie.”

Dié prominente hofsaak teen die DKD het reeds in 2012 begin toe die vakbond ʼn klomp sake oor die DKD se omstrede regstellendeaksieplan gekonsolideer het. Volgens dié plan moet die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël word, ongeag die profiel van die provinsie of streek. Bruin Suid-Afrikaners maak sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking van die Wes-Kaap uit en in talle spesifieke streke is die persentasie nóg hoër, terwyl hulle op nasionale vlak slegs sowat 8,8% van die totale bevolking uitmaak.

Die saak sal op 3 November aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Werk hulle gal !!
“Regstellende” aksie is eintlik “Teregstellende” aksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.