Solidariteit gaan nie by Okosa staak nie

Staking by Okosa (Foto; @bhekiguru, Twitter)

Staking by Okosa (Foto; @bhekiguru, Twitter)

Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat hy nie by die Onafhanklike Kommunikasie Owerheid van Suid-Afrika (Okosa) gaan staak nie.

Dit volg na verskeie berigte die ronde gedoen het dat die vakbond ’n stakingsaksie by Okosa van stapel gaan stuur.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van die kommunikasiebedryf by Solidariteit, is Solidariteit glad nie van plan om te staak nie en is die berigte wat na so ’n staking verwys, ongegrond. “Solidariteit word nie kollektief by Okosa erken nie en het gevolglik geen aansoek gedoen om ’n stakingstoestemming te verkry nie,” het Croucamp gesê.

Okosa het intussen self ook bevestig dat geen stakingsertifikaat vanaf Solidariteit ontvang is nie.

Personeellede by Okosa staak glo weens ʼn herstruktureringsproses wat verlede jaar ingestel is. Paseka Maleka, woordvoerder van Okosa, eis die personeel bonusse vir die 2014/15 finansiële jaar.

Die personeellede beskuldig die reguleerder daarvan dat hy versuim het om te voldoen aan die erkenningsooreenkoms wat salarisaanpassings en prestasiebonusse betref.

Die staking beïnvloed Okosa se dag-tot-dag-werksaamhede en die reguleerder kan nie tans aansoeke verwerk nie.

Bhekiguru-arbeidsregkonsultante het foto’s van stakers by Okosa op sosiale media gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.