Solidariteit Helpende Hand verklaar platinumgordel tot gedeeltelike rampgebied

Ander organisasies het ook begin om onder meer kos in te samel vir die in nood. Foto: eNuus

Ander organisasies het ook begin om onder meer kos in te samel vir die in nood. Foto: eNuus

Solidariteit Helpende Hand het vandag aangekondig dat hy die platinumgordel tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar het vanweë die staking by platinummyne wat drie maande gelede begin het.

Die rampgebied sluit onder meer die dorpe Rustenburg, Brits en Mooinooi in. Die vakbond Solidariteit se lede staak nie, maar duisende gesinne ervaar nogtans ernstige finansiële nood aangesien beide werknemers en kontrakteurs sedertdien min of geen inkomste verdien nie. ʼn Rampfonds, waartoe die publiek kan bydra, is gestig om Solidariteit se lede by te staan.

Maroela Media het reeds vroeër berig dat laerskole in Rustenburg met voedingskemas moes begin, en dat banke in een week nagenoeg 300 voertuie teruggeneem het van mense wat nie hul paaiemente kon bybring nie. Maroela Media is ook bewus van een geval waar ʼn mynwerker selfmoord gepleeg het weens finansiële druk.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê dié organisasie het reeds R100 000 tot die fonds bygedra en begin om die ergste nood, soos voeding vir babas, te verlig. “Nagenoeg 170 Solidariteit-lede se gesinne het reeds kos en ander noodsaaklike lewensmiddele ontvang. Daar is ʼn dringende behoefte aan voedsel, babadoeke en formulemelk. Solidariteit Helpende Hand verskaf reeds kos en ander niebederfbare produkte aan gesinne om die Paasnaweek vir hulle ’n bietjie draagliker te maak. Solidariteit Helpende Hand sal volgende week ʼn uitreikaksie in Rustenburg loods om aan Solidariteit-lede en hul gesinne berading, ʼn boodskap van bemoediging en kos te gee.”

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê werkers en kontrakteurs wat nie staak nie verloor sedert Januarie maandeliks reeds tussen 50% en 100% van hul inkomste. “ʼn Groot deel van die vergoeding van die meeste werkers in die platinumsektor bestaan uit ’n maandelikse produksiegekoppelde bedrag. Wanneer produksie opgeskort word, is dit dus nie net die stakende werkers wat inkomste verloor nie. Nie-stakende werkers verloor ook ʼn groot deel van hul inkomste en sukkel om hul finansiële verpligtinge na te kom, sonder dat hulle enigsins vir die situasie verantwoordelik is. Werknemers van maatskappye wat kontrakwerk by die platinummyne doen, is in baie gevalle reeds sonder enige inkomste nadat kontrakte beëindig is – dít ook sonder dat hulle gestaak het.”

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, SMS “STAAKNIE” na 34388, of besoek www.staaknie.co.za.

Lees ook:
Amcu-staking: “Stakers hou inwoners gyselaars”
Amcu-staking: Rustenburg-besighede sluit; voedingskemas in skole begin

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

theresa viljoen ·

Ek benodig dringend ook hulp met kospakkies. Ek is deel van Staan Saam Rustenburg en help ook alle gesinne wat geraak word deur die staking! Asb ons kan dit nie meer op ons eie behartig oor soveel gesinne gehelp moet word!

Tania ·

Theresa,hoe kan mense julle help,,kan mens kos pakkies opmaak en by julle aflewer,,,of is daar iets spesifiek anders wat jy in gedagte het? Sal graag help waar ek kan met kos pakkies??

Adri Labuschagne ·

Tania, enige persoon wat kan my of Theresa kontak by 0717481691(Theresa) of 0727872550(Adri).

Marie ·

Enige skenking sal baie help. Staan Staan Rustenburg doen wonderlike werk in ons gemeenskap.

Cecelia du Plessis ·

Almal wat skenkings wil maak of n bydrae te lewer baie welkom om dit gedurende die week by NG Kerk Bergsig af te laai!! Ons het Dondag 24 April n Groot uitreik aksie op Rustenburg.Baie dankie. Vir meer besonderhede kontak Cecelia du Plessis Solidariteit Rustenburg 0798795674

Marlett Els ·

Goeie dag . Ek is ‘n maatskaplike werker in Privaat parktyk in Rustenburg en kan help met berading.Ek kan by bogenoemde epos adres gekontak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.