Solidariteit hof toe oor ‘geheime’ polisiebevorderings

Renata Barnard en Dirk Hermann van die vakbond Solidariteit het Woensdag die media toegespreek oor die sogenaamde NSM-projek. Foto: Morné van Rooyen

Gewone lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is woedend oor die onregverdige bevordering met tot sewe range van ʼn handjie vol lede van die diens.

Die vakbond Solidariteit sê hulle het daarom nou ʼn dringende hofaansoek gebring om die polisie se NSM-projek te keer ingevolge waarvan sogenaamde oudstryders van die struggle binne die volgende vier jaar teen ʼn koste van R644 miljoen bevorder sal word.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Woensdag op ʼn mediakonferensie in Centurion gesê sowat 600 oudlede van die niestatutêre magte (NSM) word op hoogs geheime en onregverdige wyse bevorder, terwyl duisende lojale SAPD-lede van alle rasse geen vooruitsig het om vooruitgang in hul loopbaan te maak nie.

Hy het gesê Solidariteit moes sedert dié projek in twee Sondagkoerante onthul is, twee hofaansoeke indien om inligting daaroor te bekom. “Gewone, lojale polisielede is woedend omdat ʼn klein groepie lede met politieke konneksies bevordering kry deur geheime, ondergrondse drukgroepe.”

Hermann meen die projek is nie net nadelig vir die Suid-Afrikaanse publiek wat die koste daarvan moet dra nie; ook die SAPD se aansien word skade berokken omdat onbekwame mense bevorder word. “Dis ʼn kwade dag wanneer ʼn mens hof toe moet gaan om die integriteit van die SAPD te moet verdedig.”

Hy meen as die vakbond nie moeite doen om die projek te keer nie, sal hulle toelaat dat die polisiediens, wat ʼn belangrike pilaar van die demokrasie is, verrot word. “Ons moet almal saamstaan om hierdie bevorderings te stuit.”

Johan Kruger, Solidariteit se adjunkbestuurshoof. Foto: Morné van Rooyen

Johan Kruger, Solidariteit se adjunkbestuurshoof, het gesê dit was die afgelope paar dae “ʼn tandetrekkery om inligting oor die projek te bekom”, maar die vakbond het reeds genoeg in die hande gekry om te weet die proses is “onwettig en nie in SAPD-lede se belang nie”.

Hy het die agtergrond van die NSM-projek geskets sedert die ontbinding van Umkhonto weSizwe (MK) in 1990 toe hulle en Apla se lede grotendeels in die SANW en 700 in die SAPD opgeneem is. In 1995 kon lede appelleer teen hul rang, waarna almal se rang gewysig is.

In 2001 is ʼn aantal tot die rang van kolonel bevorder, maar teen 2013 was ʼn aantal steeds ontevrede en het hulle ʼn klagskrif aan die minister van polisie gerig. Dit het gelei tot die ontstaan van die huidige, hoogs geklassifiseerde NSM-projek, het Kruger gesê, lede se vierde kans om ʼn beter rang te beding.

“Die projek se doel is om almal tot bevelvoerende range te bevorder,” sê Kruger. “Hulle wil die onreg van die verlede regstel deur veral swart ‘African’ lede te bevorder, maar ignoreer ander swart SAPD-lede wat ook onreg gely het, maar nie lid van MK of Apla was nie.”

Die geheimhouding daarvan se enigste doelwit is om die onwettigheid daarvan weg te steek.

Kruger sê Solidariteit word oorval deur SAPD-lede wat ongelukkig is oor die bevorderingsproses, want dit het ʼn uiters nadelige uitwerking op hul eie loopbaanvooruitsigte in ʼn polisiediens waarin bevorderingsmoontlikhede reeds skaars is.

“Die hele projek is onwettig,” het Kruger gesê. “Die geheimhouding daarvan se enigste doelwit is om die onwettigheid daarvan weg te steek.”

Volgens die vakbond sal die hele proses die belastingbetaler ʼn “verstommende bedrag” uit die sak jaag. Elke lid van die komitee wat verantwoordelik is die hersiening van NSM-lede se rang, kry gemiddeld R50 000 per maand vir vervoer, verblyf en etes, terwyl die nasionale koördineerder se verblyfonkoste reeds R2 miljoen beloop.

Kruger het gesê van die sowat 600 name op die lys wat vir bevordering aanbeveel word, het 33 reeds afgetree, vyf is medies ongeskik verklaar, 28 het ʼn goue handdruk ontvang en 16 is oorlede. Ses is glo oneervol ontslaan, maar word nou vir bevordering aanbeveel, en so ook 15 wat uit eie wil bedank het.

Ons soek ʼn ongekaapte polisiediens, nie een wat onderdanig is aan die politieke elite nie.

Volgens hom is dit kommerwekkend dat NSM-lede, wat militêre opleiding gekry het en dus slegs met die vaardighede toegerus is “om die vyand dood te maak”, nou in bevelvoerende poste aangestel word waar hul werk behoort te wees om die bevolking te beskerm.

“Ons soek ʼn ongekaapte polisiediens,” het Kruger gesê, “nie een wat onderdanig is aan die politieke elite nie.”

Solidariteit werk aan ʼn dringende hofaansoek nadat die SAPD nie teen Dinsdag se keerdatum gehoor gegee het aan die vakbond se versoek om enige bevorderings ingevolge die projek, wat reeds sedert 1 November in volle gang is, op te skort tot Solidariteit se aansoek in die hooggeregshof om hersiening van die projek, afgehandel is nie.

Renata Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit, het op die mediakonferensie gesê gewone polisielede se reaksie op die projek is “oorweldigend”. Sy sê baie lede het gedink dis “fopnuus”, maar noudat hulle weet dis eg, is hulle hoogs ontstoke. “En dis lede van alle rasse. Baie van ons inligting [oor die projek] kom van swart lede af.”

Die polisie sit met ʼn ernstige probleem.

Sy het gesê SAPD-lede “baklei vir bevordering en net die heel beste kry ʼn kans, maar hulle kan nie meeding teen dié projek nie”. Die moraal in die diens is baie sleg nadat die geheime proses op die lappe gekom het. “Die polisie sit met ʼn ernstige probleem.”

Barnard wou weet hoe die polisiediens hoop om misdaad te bestry “as jyself sonder integriteit is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Ellisras ·

SAPD lid. Aan watter vakbond behoort jy. Dit is tyd om ernstig te dink of jy aan ‘n vakbond behoort wat vir jou sal baklei.

Magda ·

Presies die rede waarom ek uit die SA Leër bedank het einde 1995! Ek was die werwingsoffisier vir Kommandomente Verre-Noord in Hoedspruit toe al die destydse MK lede van Ruwanda, Tanzanië ens ingevlieg is om by ons aangestel te word. Sommiges kon nie eers st 8 bewys nie. Toe ons die eenheid na die proses skoonmaak.. kom ons op honderde “blanko” getekekende kursussertifikate af, sertifikate wat deur mnr Mandela geteken is, hulle kursusuitslae reeds voltooi, net die persoon se besonderhede moes ingevul word. Toe ons praat daaroor- is gesê ons word betaal om te werk nie vrae te vra nie. Terug by Verre- Noord word n sogenaamde MK kaptein wat slegs 4 maande in die rang was in my pos aangestel met n bevordering na majoor. Maar ek wat reeds 3 jaar in die pos gewerk het en die kwalifikasies gehad het, word nie bevorder nie. Waar was Solidariteti toe? Ek het nie kans gesien vir n korrupspul, toe bedank ek eerder.

franje van spanje ·

My arme pa is voortydig na sy graf nadat hy vir baie jare sg ” Vry bevorderings” moes doen in die SAPD. Hy en sy kollegas ( almal hoogsopgelei en ervare) het van hulself gepraat as “Captains-for-life”.

Shirley ·

Stem saam Captains for life my man is nou al 23 jaar ‘n Kaptein en sal nooit verder as dit bevorder word nie weens die feit dat hy gebleik is. Baie onregverdig.

Matt ·

Hiervan gaan ook seker niks kom nie. Solidariteit baklei vir almal om in die nuus te wees, maar word daar ooit iets bereik? Jy hoor net nooit van enige uitslae wat positief uit ‘n geding gekom het nie.

Ella Bella ·

Matt, dan lees jy nie die nuus nie. Solidariteit het onlang 4 groot sake teen die polisie gewen. Hulle werk hard aan die saak, vele ure van hulle families af. Die ding gaan nie net weg gevee word nie

Elke ·

Nagda, my beskeie mening is dat jy met n rosyntjie brood onder jou arm staan en kla. Julle wat almal eerder bedank het as om aan te bly en te bakleu vor geregtigheid, het die sap aan die ou apla, mk ens oorgegee. Daarom dat daar pigeontoed asmalyers wie nie eers kan skree nie, laat staan nog hardloop in julle poste aangestel was. Was apla nie angolese nie?

Magda ·

Elke, maklik om te sê ek/ almal moes aangebly het, as jy nie in die situasie was nie! en ekt nêrens gepraat van Apla nie , ek was ook nie in die SAP nie, ek praat duidelik van SA Leër.

HENK DU TOIT ·

Elke, ek stem saam met Magda. jou onkunde skree ten hemele. Ek was tot twee jaar gelede nog in die SAPD. Adjudant Offisier met n graad en verskeie ander kwalifikasies. Ek was die slagoffer van n stratcom. Ek baklei steeds hoewel ek al in n ander beroep gevestig is want hulle het my uitgeskop met blatante leuens en gefabriseerde getuienis. Dit is nie maklik om weer op jou voete te kom nie maar ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie. APLA is geen uitlanders nie, hulle is die militere vleuel van die Pan Africanist Congress van wie Patricia de Lille ook ‘n leier was. Apla staan vir Azanian Peoples Liberation Army, die uitvloeisel van die Poqo opstande in die destydse Oos Kaap. Lees meer op. Hulle was oor die algemeen beter opgelei as MK, wie deur die militere kenner Helmut Romer Heitman beskryf is as die grootste militere mislukking van die 21ste eeu. Apla was ook betrokke by die St James kerk slagting waar kerkgangers gedurende ‘n erediens op ‘n lafhartige wyse afgemaai is.

Johan ·

Elke, As jy nie self in daai situasie is nie, is dit maklik om te kritiseer en te vra hoekom Magda nie gebly het nie. Ter wille van jou eie psige en gesondheid moet elke individu ‘n besluit neem en Magda het haar besluit geneem wat sy gedink het die regte besluit is. Jou laaste vraag wys egter presies jou gebrekkige kennis oor die hele aangeleentheid uit.

Werner ·

Lyk my ANC wil ons in polissie staat omskep wonder of ons n verkiesing gaan hê

linda limbo ·

en nou wonder jy hoekom die manne en vroue in blou nie meer kan nie.
my suster het haarself geskiet hoofrede: geen bevordering na wie weet hoeveel
jaar se studeer!

HENK DU TOIT ·

Linda my hart bloei vir jou familie en dit is hartverskeurend om dit te hoor. Wie lieg en bedrieg word bevorder , nie diegene met geleerdheid en integriteit nie. Aan al die eerlike dienende polisiebeamptes wie nie bevorder word op grond van hul velkleur nie wil ek net sê “Vasbyt en moet nie dat die kwaad die goed in jou oorwin nie. Daar is n lewe buite die Polisie. Wat gaan word van julle staatspensioene weet ek nie, hoop maar dit is nog daar. “

Beste Opsie ·

Dit maak meer sin om liewer die hool te verlaat as om jou hele lewe geld en tyd in patetiese howe te mors in ‘n poging om vir jou sogenaamde “regte” te veg – iets wat in elk geval ‘n futiele poging in Afrika is.

Piet ·

Goeiste Piet n man moet nie so maklik opgee nie. Om arm te wees en bietjie te sukkel is nie n skande nie. Staan op gaan kyk na die son wat opkom en drink n koppie koffie. As jy net dit kan doen het jy reeds iets om voor dankbaar te wees! Groetnis, Piet wat nooit opgee nie.

anni ·

Ja beste opsit maklik om te se verlaat hool ens., waar heen gaan Ons Dan dink Jy? My man het ook paar jaar terug baklei om majoor rang te Kry, deur solidariteit en het gewen. Hu mut hy voel dat onkundiges nou range Kry Wat hy nooit sal sien nie, van Sy studente is Hom Al ver voor. Ongelukkig kan di Wat ni weet waarvan hul praat ni, Maar liewer stil Bly. Ek self is n staatsdiens amptenaar. Ek het groot vertroue in solidariteit.

Johan ·

Weereens slegs een van daai “only in SA momens”Hierdie mense en/of hulle kinders gaan eendag baie spyt wees oor besluite soos die….Daar gaan n dag kom wat die volkie gaan se genoeg is genoeg…..dit gaan nag wees vir die wat dit Kon verhoed het…

Skybird ·

Ek het 1981 aangesluit by die Mag, in 1997 is ek bevorder na Adjudant offisier B1 en op B1 gebly tot 2017, ek het op gereëlde wyse gesien hoe Junior’s vooruit bevorder word, ons as Familie is deur ongeruimdhede uit die staatshuis gesit, weens hoë koste in die dorp; het ons besluit om te trek na ń dorp waar ons kan woon na aftrede, ek het nog 5 jaar gehad tot aftrede, my familie het 560 km ver gaan aftree terwyl ek in ń Kaya (back to basics, selfsorg ) gewoon het en wag vir my oorplasing na hul, na vele foute binne die departement van afkeuring en my aansoek na verkeerde Profinsie te stuur, het ek aansoek gedoen vir vroeë aftrede, wat ook afgekeur was en toe later goed gekeur is, met groot boetes, na al die jare diens is my pension R10 000 pm, nou moet ons weer werk om die pot aan die kook te hou

Piet ·

Sterkte Skybird, hou tog jou kop hoog. Ek sien elke dag dat dit nie die beste in mense uitbring wanneer dit met hulle goed gaan nie. Die Here weet wat hy doen, mens moet net vertrou.

ferdi ·

Hy word bevelvoerder en ken ni di werk ni no moet di konstabel hom leer wat ok ni di werk ken ni so ga dit voort

LV ·

Sitole,die Nasionale Kommissaris se ware kleure sal nou vorendag kom, kan glad nie vertrou word nie.

koos1 ·

After all, hy was deur Zuma aangestel, en was ook hoof van die BBP afdeling, wat ook vir Zuma en kie moes oppas.
Dit laat mens dink nè?

Morne ·

Hierdie move is zuma se laaste strategie om sy mk in crime intelligence te kry. Hy wil nie die land los nie. As die mk in crime intelligence is dan kan hy op hoogte van dinge bly. Ek hoop die polisiemanne sien hoe sapu en popcru hulle uitverkoop. En Bheki Cele wil misdaad baklei terwyl hy die mk bevorder??

1+1 ·

Vreesloosheid van Solidariteit se kant af, teenoor lafhartigheid vanaf die SAPD. Dissekteer asb hierdie verstomende agterbakse optrede asb. Reg sal geskied as ons die morele hoegrond gaan behou.

Carl ·

Presies, wat ‘n gemors. En dan is daar Brig Francois van Graan, ‘n uiters bekwame man met ‘n hele rits grade wat al seker amper 30jaar lank al ‘n Brig is. Brig Van Graan was al ‘n Brig toe sommige mense nog nie eers in die laerskool was nie. Wel, die sommige mense is bou al by hom verby. Wat ‘n skande! Nee wat, ek wil nie deel wees vd gemors nie.

koos1 ·

Carl, hy is al ‘n Brigadier.
Ek ken baie “Francios van Graan’s” maar op A/O en Sersant range. ‘n Sekere vriend van my is in 1999 bevorder na A/O, en daar staan hy!

Von ·

“Peter Principle” bevorder tot ontoerikenheid……Here se woorde in Rigters 9:8-15……sterkte aan Solidariteit

Adam ·

Net in SA kan dooies bevorder word. Weereens verstommende logika van ‘n regering wat totaal hopeloos is.

Anoniem ·

Matt, daar word tans afleggings by my werk gedoen, en Solidariteit staan ons by. Dis nog nêrens in die koerante genoem nie. Maar ek, persoonlik, is baie dankbaar vir die bystand wat ons tot dusver van hulle ontvang het.

Blue Butterfly ·

Ek ken iemand wat al 19 jaar Adjudant-Offisier is en hy weet hy gaan NOOIT bevorder word nie. Hierdie aanstellings maak hom WOEDEND want die SAPS kan nie eers ordentlike stoele, ens vir hulle Polisiestasies aankoop nie want daar is permanent “nie meer geld nie” maar die TONNE base kry sakke vol geld en die klase moet maar tevrede wees met die krummels. Die OA’s word al vir jare belowe dat hulle ‘n tweede been verhoging gaan kry maar dit gebeur ook nie. Hy sê die polisie is erger as die Sirkus want ten minste is die Sirkus georganiseerd …

MAGGIE ·

Eks ook een van die 18 jare lange A/O’s met ‘n ou Diplomatjie —

Joubert ·

Ons het reeds in 1992 beheer oor onsself weggegee. Die res is blote gevolge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.