Solidariteit hof toe oor verpleegster se plasing

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek gesê hy is van plan om Dinsdag ʼn dringende aansoek in die arbeidshof te bring nadat een van sy lede glo verkeerdelik deur die departement van gesondheid as studenteverpleegster in plaas van professionele verpleegster geplaas is vir haar verpligte gemeenskapsdiens.

Solidariteit beweer die departement weier volstrek om die probleem reg te stel hoewel dit reeds telkemale onder hul aandag gebring is.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, wys daarop dat die departement wetlik verplig word om verpleegsters korrek te plaas vir hul gemeenskapsdiens wat die verpleegsters verplig is om te verrig.

Van der Bijl sê die betrokke verpleegster ontvang sedert Januarie vanjaar ʼn studentesalaris hoewel haar dienskontrak stipuleer dat sy as professionele verpleegster aangestel is en ook die dienooreenkomstige take uitvoer. “Op verdere navraag is daar aan haar gestel dat daar nie poste vir professionele verpleegsters beskikbaar is nie en dat die departement nie oor die nodige geld vir die poste beskik nie,” sê hy.

“Hierdie nalatigheid, indien onaangespreek, kan ʼn wesenlike impak op haar toekoms as verpleegkundige hê aangesien sy na afloop van haar gemeenskapsdienstydperk nie sal kan registreer nie, om nie eens te praat van die finansiële impak wat dit reeds vanjaar op haar gehad het nie,” het Van der Bijl verduidelik.

“Ons sit hier met ʼn geval waar ʼn jong persoon alles in haar vermoë doen om ʼn waardevolle bydrae tot die samelewing te maak, net om deur die departement van gesondheid gekniehalter te word. Terwyl gelde bewerkstellig word ten einde die staat se verkiesingspolitiek te befonds, gaan Jan Alleman dood weens ʼn tekort aan bevoegde verplegingspersoneel.”

Van der Bijl het gesê die publiek “is siek en sat” vir onbekwame regeringsdepartemente. “Ons sal onverpoosd veg vir geregtigheid vir mediese beamptes, en om te sorg dat die departement van gesondheid voldoen aan hul statutêre verpligtinge om hierdie beamptes behoorlik te plaas vir hul gemeenskapsdiensjare.”

Die aansoek sal na verwagting Dinsdag om 10:00 in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gerhardb ·

Jammer ek kan nie enige Regerings Departemente goedpraat deur slegs enkele individue wat regtig hard werk en hulle kant bring nie. Ek voel jammer vir hulle maar stem met die feit dat ALLE Regerings Departemente absoluut Pap Vrot is. Begin sommer by die Polisie….

Hanna Hoekom ·

Been there, done that… En nooit, ooit weer nie. Na maande se gesukkel word ek by n TB hospitaal in die middel v nerens geplaas! Sonder daardie gemeenskapsjaar kan profesionele verpleegsters nie by SANC registreer nie. Kort daarna my goedjies gepak en in die buiteland gaan werk en gespesialiseer. Word gewaardeer vir wat ons met n passie doen
Wil nooit weer in hierdie siek land werk nie.

Nel ·

Ek’s bevrees die situasie waarin die land tans verkeer is lank reeds verby daai punt.

Lisa ·

dit kos amper R75 000 vir n 3 jaar kursus in Verpleegkunde. ek sou wat gee om n verpleegster te kon raak, maar vir die geld wat spandeer word aan die kursus en die salaris wat jy kry is dit geensins die moeite werd nie. as jy na enige staat kliniek gaan moet jy eers wag tot hulle klaar “tea time “gehad het… en dan neem hul jou bloeddruk en gee n pyn pil. regtig pateties hoe swak ons gesondheids departemente geraak het!

Hansie Slim ·

Die departement is een van die slegstes!!!
Praat van ondervinding!!!

Annelize ·

Anton vd Bijl, “siek en sat”, is nie die woord nie, dit skiet ver te kort aan hoe die bree publiek voel. Alles is op die drumpel van totale ineenstorting, indien dit nie reeds ineengestort het, maar dit word toegesmeer nie. Al wat ‘n departement is, is een vrot sweersel.

Santie ·

Dis net Solidariteit en AfriForum (en ook die IRR) wat darem nog keer dat SA heeltemal verval. Ek hoop en bid die Republikeine in die VSA behaal ‘n wegholoorwinning in November, dat dit konserwatiewes in Europa sal bemoedig en dat die ommeswaai in wêreldpolitiek van links na regs sal versnel. Die Westers kapitalistiese minderheid in SA gaan BAIE hulp en ondersteuning uit die buiteland nodig hê om te oorleef.

Arina van Zyl ·

Dit is absoluut skokkend. Mens voel al so ontmagtig deur die verval en onbekwaamheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.